Die Hervormer

Die Hervormer

AMPTELIKE MONDSTUK VAN DIE NEDERDUITSCH HERVORMDE KERK VAN AFRIKA

 

Redakteur

Ds Willem Sauer


Subredakteurs
Ds Etienne Fourie
Dr Johan van Staden


Produksieredakteur
Mev Tessa Oppermann


Redaksie
Ds Etienne Fourie
(voorsitter)
Dr Anet Dreyer-Krüger
Dr Elritia le Roux

Ds Elmien Knoetze

Mev Christa Clifton
Dr Wouter van Wyk
(sekretaris: SENTIK)

 

Grafies
 Mev Francis Nel

Mnr Hugo van Niekerk


Administrasie
Mev Sanell van Vuuren


Uitgewer
SENTIK
Nederduitsch Hervormde
Kerk van Afrika
Posbus 2368
PRETORIA
0001
Tel 012 322 8885
Faks 012 322 7906
sentik@nhk.co.za

 

By die Hoofposkantoor as
nuusblad geregistreer
ISSN 0259-949X


Individuele intekening

(gedrukte kopie)
R110 vir 11 uitgawes
R15 per individuele eksemplaar

 

Drukkers

Seriti Printing
Pretoria


Die redaksie aanvaar
verantwoordelikheid vir die
inhoud. Menings deur skrywers
uitgespreek, is egter
nie noodwendig die beleid
of standpunt van die
Hervormde Kerk nie.

Heerlik gebonde

Eers as die Seun julle vry maak, sal julle werklik vry wees. (Johannes 8: 36)

Leopold Scholtz het in 2005 ’n onderhoud gevoer met die Suid-Afrikaanse filosoof Johan Degenaar. In die onderhoud sê Degenaar: Die sekerhede wat die staat en die kerk as magstrukture in die mense programmeer, moet bevraagteken word – vir my is dit belangrik dat die individu dinge vir homself moet ontdek, en dan moet hy deur die lastige vrae daardie programmering begin ontgroei. Dit is die evolusie van die mens (Die Burger, 11 Maart 2005).

Friedrich Nietzsche het ook in sy filosofie verwys na ’n slaaf-eienaar-mentaliteit. Hy het gemeen dat as jy jou bind aan die gebruike en die reëls van enige organisasie of aan die gebruike en reëls van ’n bepaalde gebied, gee jy iets van jouself prys. Trouens, hy het dit per geleentheid veel sterker gestel: As jy nie noodwendig van harte met sekere gebruike of samelewingsreëls saamstem of jouself uit oortuiging daaraan kan bind nie, dan verketter jy jou menswees wanneer jy deel vorm van die stil massa wat gewoon met die stroom saamvloei. Jy word as’t ware ’n slaaf van ander mense se idees en jy laat toe dat hulle eienaarskap oor jou menswees verkry. Dit sou uiteraard ook vir godsdiens geld.  

Ons eie geloof is egter in ’n bepaalde vorm gegiet en is afhanklik van ons kerklike strukture en lektuur. Die aanvaarding van die Bybel as Woord van God, die dogma van die Kerk en die inrigting van ons godsdienstige aktiwiteite in ’n voorgeskrewe vorm, sou volgens Nietzsche die verloëning van die self kon wees.  

Nietzsche en Degenaar se denke vorm deel van ’n uitgebreide strewe na vryheid wat oor die laaste dekades posgevat het – ’n strewe na onafhanklikheid, ’n strewe na uniekheid en eiesoortigheid. Daarmee saam natuurlik die voorreg (wat ’n reg geword het) om uitdrukking te gee aan hierdie vryheid.

Nietzsche en Degenaar se filosofie, saam met verskeie ander faktore soos sekularisasie en vryheid van spraak en beweging vir alle mense, het daartoe bygedra dat ons onsself tans in ’n milieu bevind waar andersheid en eiesoortigheid eerder deel van ons samelewing geword het as binding aan konvensies van ons tyd.

Midde-in hierdie gees, moet die kerk sigself handhaaf en die blye boodskap van hoop en verlossing aan almal bring. Hoewel ons dikwels in onlangse tye in die Hervormde Kerk gesprek gevoer het oor die wegbeweeg van ’n rigiede instituut na ’n meer organiese liggaam, bestaan daar tog steeds ’n dogma wat eie is aan ons Kerk. Ons bind onsself deur die opleiding van ons predikante aan ’n bepaalde manier van teologiebeoefening. Daar is ’n Kerkorde wat, hoewel dit meer dikwels gewysig is in onlangse jare en tans weer herskryf word, steeds ’n breë struktuur aan die Kerk bied. Die tydgees en die filosofie wat pleit vir die ontdekking van eie en persoonlike behoeftes, maak daarom dalk van die Kerk ’n minder aantreklike geloofstuiste.

Huiskerke word algemeen en eie teologieë word dikwels eerder die norm as die uitsondering. Sou dit dus vreemd wees om ’n breë, ongedefinieerde spiritualiteit by sommige mense te vind? Nee, dit spreek vanself dat dit ’n natuurlike uitvloeisel van dekades se nadenke en strewe na vryheid sal wees. Hieroor skryf dr Wouter van Wyk meer in hierdie uitgawe. Selfs die debat oor genadedood wat ook in hierdie uitgawe ter sprake kom, verwoord iets van hierdie vryheid. ’n Samesmelting van verskeie gelowe vind soms plaas en, nodeloos om te sê, terselfdertyd ’n drastiese verarming of afwatering van almal.

Vir ons as gelowiges binne die strukture van kerk en gemeente lyk dinge anders. Ek dink onwillekeurig aan die bekende woorde van Josua. Die volk se blootstelling aan verskeie gode deur die jare, onder andere die gode van die Egiptenaars en die gode “anderkant die Eufraat” wat deur die voorvaders gedien is, het hulle met twyfel en onsekerheid gelaat. Die ideaal sou seker wees om al hul godsdienstige idees in ’n selfgevormde en gemaklike geloof te akkommodeer.  

Josua is hieroor baie duidelik. Die volk kan dien wie hulle wil, hy en sy gesin sal die Here dien. Die volk sluit later in hoofstuk 24 van die boek Josua by hul leier aan wanneer hulle ook bely dat hulle die Here alleen sal dien. Dit sou vra dat persoonlike behoeftes op die agtergrond geskuif word en dat ’n vreemde, saamgesmelte godsdiens (sinkretisme) nie vatplek aan hulle moes kry nie.  

Teen die agtergrond van Nietzsche se uitsprake, beteken dit in wese dat ons inderdaad ’n slaaf van ons geloof sal wees. Deur ons oë gesien egter, dalk eerder ’n slaaf vir Jesus Christus. Hieroor maak die Evangelie van Johannes ’n duidelike uitspraak. Dit wys die teenkant van die Nietzsche-muntstuk. In Johannes 8: 36 lees ons: Eers as die Seun julle vry maak, sal julle werklik vry wees.

Die binding aan ons geloof, ons gebondenheid aan Jesus Christus, maak ons waarlik vry. Slawe inderdaad, aldus Nietzsche, maar met ’n kwalifikasie daarby: vrygekoopte slawe deur Jesus Christus. Ons vryheid is nie in eie denke en die resultate van persoonlike nadenke te vind nie, eerder in die dade en verlossing van ons Here.