Die Hervormer

Die Hervormer

AMPTELIKE MONDSTUK VAN DIE NEDERDUITSCH HERVORMDE KERK VAN AFRIKA

 

Redakteur

Ds Willem Sauer


Subredakteurs
Ds Etienne Fourie
Dr Johan van Staden


Produksieredakteur
Mev Tessa Oppermann


Redaksie
Ds Etienne Fourie
(voorsitter)
Dr Anet Dreyer-Krüger
Dr Elritia le Roux

Ds Elmien Knoetze

Mev Christa Clifton
Dr Wouter van Wyk
(sekretaris: SENTIK)

 

Grafies
 Mev Francis Nel

Mnr Hugo van Niekerk


Administrasie
Mev Sanell van Vuuren


Uitgewer
SENTIK
Nederduitsch Hervormde
Kerk van Afrika
Posbus 2368
PRETORIA
0001
Tel 012 322 8885
Faks 012 322 7906
sentik@nhk.co.za

 

By die Hoofposkantoor as
nuusblad geregistreer
ISSN 0259-949X


Individuele intekening

(gedrukte kopie)
R110 vir 11 uitgawes
R15 per individuele eksemplaar

 

Drukkers

Seriti Printing
Pretoria


Die redaksie aanvaar
verantwoordelikheid vir die
inhoud. Menings deur skrywers
uitgespreek, is egter
nie noodwendig die beleid
of standpunt van die
Hervormde Kerk nie.

Basaarseisoen

Die sielkundige Carl Jung het 100 jaar gelede reeds geskryf oor die mens se kollektiewe bewussyn. Dit het verwys na die gemoed of gees van ’n groep en die invloed wat dit op ’n individu kan hê.

Indien ons die kollektiewe bewussyn in die Kerk oor die laaste dekade moes beskryf, sou dit dalk met die woordjie oorlewing gedoen kon word. Hierdie oorlewing is nie uniek aan ons eie tyd nie. Dit was nooit vreemd vir gelowiges deur die eeue om onder andere in ’n finansiële  worstelstryd gewikkel te wees nie. Hierdie bewussyn wat in baie mense se gemoed leef, ontlok heelwat negatiewe gevoelens.

Deur die jare het gelowiges moeite gedoen om fondse te genereer om hul dienswerk te kan verrig. In ’n Ou-Testamentiese milieu kon die tempeldiens voortgaan danksy ’n reëling wat met die verdeling van die land ná die intog in Kanaän getref is. 11 van die 12 stamme het elkeen ’n afgebakende deel van die beloofde land ontvang en die 12de, die stam van Levi, is geoormerk vir tempeldiens en was dus van die ander 11 stamme afhanklik vir hul lewenstog. Hulle het onder andere dele van die ander stamme se grond ontvang om hul vee te huisves en landbouaktiwiteite te bedryf. Volgens Josua 21 is 48 stede deur loting aan hulle toegewys. Die geestelike werkers in daardie tyd kon dus onbevange met hul dienswerk voortgaan. Die res van die volk sou help sorg.

In die Nuwe-Testamentiese wêreld het ingrypende verandering plaasgevind. Klein gemeentetjies wat tot stand gekom het, het moeite gedoen om geld in te samel en het dit in bewaring gehou totdat een van die medewerkers daar besoek kon aflê. Daardie fondse is dan aan hulle gegee om die armes mee te help. Per geleentheid is die apostels ook daarmee versorg sodat hulle die verkondiging in die destydse bekende wêreld kon voortsit.  Hulle was egter in ’n groot mate vir hul eie lewenstog verantwoordelik. Iemand soos Paulus was onder andere as tentmaker bekend. Deur tente te maak en te herstel, het hy geld bymekaargemaak om sy eintlike roeping, die verkondiging van die Blye Boodskap, te kon voortsit.

Hierdie terugblik op veral die Nuwe-Testamentiese gebruik rakende die versorging van geestelike werkers laat ’n mens met die oortuiging dat daar ’n diepgewortelde geloof in die harte van die verkondigers geleef het. Prof Jaco Beyers verwys in sy artikel na die interne sekulari-sasie wat in die kerk plaasvind. Hy noem dat die saak waaroor dit gaan, naamlik die evangelie aangaande Jesus Christus, verlore kan raak teen die agtergrond van sake wat van sekondêre belang behoort te wees. Die kerk is dus besig om of het reeds in ’n mindere of meerdere mate haar fokus verloor. Hoewel sy artikel eerder fokus op die teologie van die kerk, geld hierdie standpunt net so goed vir die finansies en ander terreine van kerklike aktiwiteite.

Hierdie tyd van die jaar is juis vir baie gemeentes ’n tyd vir fondsinsameling. Oral word basaars, karnavalle en feesgeleenthede geadverteer. Ons kan byna praat van ’n basaarseisoen. Daar bestaan by my geen twyfel daaroor nie dat die meeste gemeentes hierdie geleenthede aanbied hoofsaaklik om die voortgesette bediening in ’n bepaalde gebied te verseker.

Die onrustigheid van gemeentelede oor die sukses van hierdie aksies spreek vanself. Daar bestaan by baie predikante dankbare opgewondenheid oor sulke geleenthede, want dit bring weer finansiële verligting en dalk selfs werksekuriteit. By sommige bestaan ’n element van sinisme. Hulle meen dat hulle eers hard moet werk om ’n salaris te verdien sodat hulle hul eintlike predikantswerk kan gaan doen. Daarmee saam gaan natuurlik die vrees dat as die aksie nie suksesvol is nie, die hoop op versorging ook daarmee heen is. Dit raak huisgesinne en kinders intens en veroorsaak soms verlammende spanning.

Daar is egter ook ’n ander invalshoek wat ons nie durf miskyk nie. Getuig hierdie geleentheid om fondse te in nie ook maar van ’n Bybelse beginsel van gelde bymekaarmaak om die werk van die Here te kan doen nie?

Die hartseer is natuurlik dat hierdie gelde nie noodwendig meer die armes en die minderbevoorregtes se lewens verander nie. Dit bring net verligting vir ’n begroting wat moet klop binne die instelling.

Die tyd is ryp om heeltemal nuut te dink oor begrotings, bediening en veral die steun en hulp aan diegene wat smag na die liefde en bystand van hul broers en susters. Die fokus moet skuif. Die klem behoort nie te lê op die instandhouding van die instelling nie, maar veel  eerder op die voortgaande verkondiging van die evangelie aangaande Jesus Christus. Ons reël nie fondsinsamelings om die begroting te laat klop nie. Ons reël dit om steeds te getuig oor die genade van ons Heer. Hierdie genade is ons almal se erfdeel. Hierdie getuienis sluit voorts die versorging van en steun aan diegene wat minderbevoorreg is in.

Ons dank die Heer van die kerk dat ons kollektiewe bewussyn een van opregte roeping, hoop en omgee óók kan wees.