Die Hervormer

Die Hervormer

AMPTELIKE MONDSTUK VAN DIE NEDERDUITSCH HERVORMDE KERK VAN AFRIKA

 

Redakteur

Ds Willem Sauer


Subredakteurs
Ds Etienne Fourie
Dr Johan van Staden


Produksieredakteur
Mev Tessa Oppermann


Redaksie
Ds Etienne Fourie
(voorsitter)
Dr Anet Dreyer-Krüger
Dr Elritia le Roux

Ds Elmien Knoetze

Mev Christa Clifton
Dr Wouter van Wyk
(sekretaris: SENTIK)

 

Grafies
 Mev Francis Nel

Mnr Hugo van Niekerk


Administrasie
Mev Sanell van Vuuren


Uitgewer
SENTIK
Nederduitsch Hervormde
Kerk van Afrika
Posbus 2368
PRETORIA
0001
Tel 012 322 8885
Faks 012 322 7906
sentik@nhk.co.za

 

By die Hoofposkantoor as
nuusblad geregistreer
ISSN 0259-949X


Individuele intekening

(gedrukte kopie)
R110 vir 11 uitgawes
R15 per individuele eksemplaar

 

Drukkers

Seriti Printing
Pretoria


Die redaksie aanvaar
verantwoordelikheid vir die
inhoud. Menings deur skrywers
uitgespreek, is egter
nie noodwendig die beleid
of standpunt van die
Hervormde Kerk nie.

Quo vadis?

Volgens die buite-Bybelse boek Die Handelinge van Petrus, hoofstuk 6, het Petrus, toe hy besef het dat Agrippa hom om die lewe wou bring, uit Rome gevlug. Buitekant die stad het hy (waarskynlik in ’n droom of visioen) vir Jesus gesien. Hy het vir Jesus gevra: Here, waarheen gaan U? (Domine quo vadis?) Jesus het geantwoord dat Hy na Rome gaan om ’n tweede keer gekruisig te word.

Dalk sou ’n beter vraag wees: Waarheen gaan jy, Petrus? Volgens oorlewering het Petrus besef dat dit sy eie roeping was om in die spore van sy Heer te loop en ook gekruisig te word. Hy is ook later op Agrippa se bevel gekruisig. Die oorlewering lui verder dat hy gevra het om eerder onderstebo gekruisig te word. Hy het gemeen dat hy dit nie waardig was om op dieselfde wyse as sy Heer te sterf nie. Sy roeping en visie rakende sy werk vir God het, so het hy gemeen, van hom ’n uiterste offer gevra.

Quo vadis? Waarheen vir ons as Kerk? Waarheen lei ons eie roeping ons? In ons tyd het begrippe soos visie en missie byna clichés geword. Daar het allerlei nuwe terme op die horison verskyn wat iets van ’n organisasie of instelling se toekomsdrome en beplanning omskryf. Hoe ’n mens ook al daarna kyk en watter terme ons verkies om te gebruik, wanneer ’n kerk, soos ons tans, nuut dink en beplan om in die uitdagende tye waarin ons leef en werk steeds sinvol besig te wees met die verkondiging van ons Heer, is die opdrag, soos altyd, om aan ons roeping getrou te bly.

Dan Southerland skryf in sy boek Transitioning dat om by enige beskrywing van ’n visie of droom vir die kerk uit te kom, dit nodig is om die begrip visie reg te verstaan: Visie is die prentjie van wat God wil doen, skryf hy. Om te vra na sý wil en te soek na sy ideaal vir ons Kerk, vereis eerlike, opregte, diepsinnige nadenke en grondige bestudering van God se Woord. Dit is natuurlik nie altyd maklik om eerlik in ’n spieël te kyk en gekonfronteer te word met die antwoorde wat so ’n introspeksie dalk mag bring nie, maar ’n ware soeke na die wil van God vir sy kerk vereis dit.

Biskop George Berkeley, ’n filosoof wat in die 17de en 18de eeu geleef het, het gemeen dat alle menslike waarnemings se oorsprong by God lê. Ons kan dus, aldus Berkeley, nooit na die kerk of enigiets anders kyk sonder dat God die bron of oorsprong van die uitkyk is nie.

Belangrik om te weet, is dat visie en droom ’n immer bewegende proses is. Ons bereik nie op ’n gegewe dag ’n oase en vertoef by wyse van spreke daar vir tyd en ewigheid nie. Ons soeke na die wil van God het ’n dinamiese element daarin verweef. Ons bly voortdurend vra na die wil van God en na die beste manier om sy Woord te laat tuiskom in ’n bepaalde tyd en ruimte. Visie is nie ’n bestemming nie, maar  eerder ’n reis.  

Southerland gebruik Nehemia as ’n voorbeeld van oorgang. Nehemia se verhaal gaan oor die herstel van die land na die tyd van die ballingskap en gee kosbare riglyne oor hoe visie realiseer. Die eerste stap was om inligting bymekaar te maak oor waar jy jou bevind. Nehemia doen sy huiswerk deur noukeurig navraag te doen oor die omstandighede in sy land. Hoe lyk dit in Jerusalem? Die geheim is om opreg en so objektief moontlik met die feite om te gaan. ’n Volgende stap sou wees om onrustig te raak oor die leemtes in die toneel. As dit nie lyk soos dit moet nie, herken dit en erken dit. In Nehemia se geval was die terugkeer na hul eie land en die herbou daarvan van kritieke belang. Die alternatief, naamlik gevangenskap en voortleef in die fisiese en geestelike ruïnes van die verlede, kon nie meer aanvaarbaar wees nie.  

Vervolgens is dit van groot belang om stil te raak voor God. Om eenvoudig ons voortgaande beplanning by sy voete neer te lê en vir sy leiding te vra. In Nehemia se geval het hierdie klein word voor God met vas en gebed gepaard gegaan.

Die laaste stap gaan oor geduld. Dit bly in ons gejaagde wêreld, waar ons skarrel van een punt na die volgende en waar alles kits geword het – kitskos, kitsoplossings – ’n moeilike saak. Een van my senior kollegas het in sy wysheid altyd oor prediking én beplanning gesê: As jy alles uitgewerk het, laat die totale beplanning en inhoud eers vir ’n tydjie ryp word in jou gedagtes.

Wanneer ons as Kerk vorentoe kyk en nadink oor ’n nuwe bedieningsmodel, pas dit om ons huiswerk te doen, leemtes te identifiseer, stil te raak voor God en geduldig te wag totdat die visie en beplanning helder voor oë raak. Dit vra voorts onverskrokkenheid om doelgerig jou visie en droom in werking te stel.

In hierdie uitgawe deel dr Wim Dreyer, voorsitter van die Algemene Kerkvergadering, met ons grepe uit die nadenke en beplanning wat onlangs deur die Kommissie van die AKV gedoen is. As Kerk loop ons biddend hiermee saam. Ons bede is dat ons eie Quo vadis? ons na Coram Deo –  tot voor God – sal lei.