Die Hervormer

Die Hervormer

AMPTELIKE MONDSTUK VAN DIE NEDERDUITSCH HERVORMDE KERK VAN AFRIKA

 

Redakteur

Ds Willem Sauer


Subredakteurs
Ds Etienne Fourie
Dr Johan van Staden


Produksieredakteur
Mev Tessa Oppermann


Redaksie
Ds Etienne Fourie
(voorsitter)
Dr Anet Dreyer-Krüger
Dr Elritia le Roux

Ds Elmien Knoetze

Mev Christa Clifton
Dr Wouter van Wyk
(sekretaris: SENTIK)

 

Grafies
 Mev Francis Nel

Mnr Hugo van Niekerk


Administrasie
Mev Sanell van Vuuren


Uitgewer
SENTIK
Nederduitsch Hervormde
Kerk van Afrika
Posbus 2368
PRETORIA
0001
Tel 012 322 8885
Faks 012 322 7906
sentik@nhk.co.za

 

By die Hoofposkantoor as
nuusblad geregistreer
ISSN 0259-949X


Individuele intekening

(gedrukte kopie)
R110 vir 11 uitgawes
R15 per individuele eksemplaar

 

Drukkers

Seriti Printing
Pretoria


Die redaksie aanvaar
verantwoordelikheid vir die
inhoud. Menings deur skrywers
uitgespreek, is egter
nie noodwendig die beleid
of standpunt van die
Hervormde Kerk nie.

Jesus Christus, gebore om te sterf vir my en jou...

Tog snaaks hoe daar iets anders, iets besonders aan Kersfees is. Tog snaaks hoe oud en jonk opgewonde kan raak wanneer dit Kerstyd is. Dalk is dit die geskenke – hoewel ons as gesin nie meer Kersgeskenke gee nie, onthou ek nog die opgewondenheid van geskenk oopskeur.

Dalk is dit die feit dat alles ’n bietjie rustiger raak, dat baie van ons nog gelukkig genoeg is om op ’n gesinsvakansie te gaan, of saam met familie of vriende te kan kuier. Dalk is dit die versierings in die winkels en die Kersliedjies wat in die winkels en oor die radio speel. Of dalk is dit wérklik omdat die geboorte van ons Heer en Verlosser, Jesus Christus, vir ons nog baie beteken...

Ek het al baie gehoor hoe mense, en skaam erken ek ekself ook, gesê het dat die wêreld Kersfees gekaap het en dat alles oor geld en geskenke en genietinge gaan. Maar dan dink ek aan my kinderdae in ou Pietersburg. Aan die vragmotor met die mense, oud en jonk, wat op Oukersaand deur die strate gery en Kersliedere gesing het. Nogal begelei met ’n klavier wat met groot moeite op die vragmotor gelaai is. Kersoggend se opgewondenheid wanneer ons voor die Kersboom, wat ons gewoonlik van rolbos wat opgestapel was gemaak het, geskenke gekry het. Een maal was daar ’n Kersvader, maar ek het sy skoene herken... En dan die hoogtepunt, wanneer Pa, Ma en al ses Sauertjies 05:00 op Kersdag in die kerkbank ingeryg gesit het.

Dít was Kersfees: die orrelspel, die Kersliedere wat gesing is selfs voor die votum en seën, die Kersboodskap, die koffie na die diens, en dan huis toe vir die ete, die skaapboud, beestong, kalkoen...

Ja, beslis is dit die geboorte van Jesus, die Christus, wat Kersfees so spesiaal maak. Want haal ons Jesus uit die viering van ons Kersfees, vervlak ons dit tot bloot ’n lekker saamkuier- of geskenkiedag. Vir ons as Christene het Kersfees so ’n spesiale plek omdat dit ons weer onder die besef bring van hoe God ook aan ons gedink het, vir ons sy Seun gestuur het om ons aan die kruis te verlos, om ons iets van die ware vrede, God se vrede, te laat beleef.

Daarom het ons hierdie maand vir ds David Barnard en dr Anet Dreyer-Krüger gevra om vir ons oor hoop te skryf. Hoop wat soms so ’n skaars ding in ons wêreld geword het. Vir ds Barnard lê hoop en genade baie na aan mekaar. Hy skryf: Die wonder van God se genade, deur die liefde van ons Here Jesus, lê daarin opgesluit dat daar ín ons seer en hartseer, ín ons verlange en onstuimigheid, vrede kan wees. En daarin lê vir ons hoop.

Dr Dreyer-Kruger sê weer dat, anders as die spreekwoord waar daar lewe is, is daar hoop, moet ons as Christene eerder sê waar daar hoop is, is daar lewe. Vandaar die aanhaling van die Duitse spreekwoord: Hoop sterf laaste...

Vir die middelblad het ek Suid-Afrikaners wat in Australië, Kanada en die VSA woon, gevra om met ons te deel hoe Kersfees in ander lande, waar daar nou baie van ons familie en vriende woon, gevier word. Ja, so anders en tog ook so dieselfde, want wanneer ’n mens die viering van Kersfees van al die streekstradisies stroop, maak dit nie saak of jy van ’n stille nag van vrede onder die Suiderkruis of van ’n sneeuwit Kersfees iewers in die Noordelike Halfrond sing nie. Kersfees gaan oor Jesus wat gebore is in ’n stal, om uiteindelik vir ons aan ’n kruis te sterf. Jesus Christus kan eenvoudig nie uit die middelpunt van ons Kersvieringe gehaal word nie.

Die redaksie van Die Hervormer wens elke leser ’n geseënde Kersfees toe. Mag dit, waar u ook al is en hoe u ook al Kersfees vier, vir u ’n ervaring wees waar u deur die geboorte van Jesus te herdenk, weer diep bewus word van die feit dat Hy gebore is om aan ’n kruis te sterf – ja, vir my en vir jou.

Voel jy ook nou sy warm liefde

as ons die dag gedenk,

toe Hy sy Seun aan ons gestuur het –

ons grootste Kersgeskenk.