Die Hervormer

Die Hervormer

AMPTELIKE MONDSTUK VAN DIE NEDERDUITSCH HERVORMDE KERK VAN AFRIKA

 

Redakteur

Ds Willem Sauer


Subredakteurs
Ds Etienne Fourie
Dr Johan van Staden


Produksieredakteur
Mev Tessa Oppermann


Redaksie
Ds Etienne Fourie
(voorsitter)
Dr Anet Dreyer-Krüger
Dr Elritia le Roux

Ds Elmien Knoetze

Mev Christa Clifton
Dr Wouter van Wyk
(sekretaris: SENTIK)

 

Grafies
 Mev Francis Nel

Mnr Hugo van Niekerk


Administrasie
Mev Sanell van Vuuren


Uitgewer
SENTIK
Nederduitsch Hervormde
Kerk van Afrika
Posbus 2368
PRETORIA
0001
Tel 012 322 8885
Faks 012 322 7906
sentik@nhk.co.za

 

By die Hoofposkantoor as
nuusblad geregistreer
ISSN 0259-949X


Individuele intekening

(gedrukte kopie)
R110 vir 11 uitgawes
R15 per individuele eksemplaar

 

Drukkers

Seriti Printing
Pretoria


Die redaksie aanvaar
verantwoordelikheid vir die
inhoud. Menings deur skrywers
uitgespreek, is egter
nie noodwendig die beleid
of standpunt van die
Hervormde Kerk nie.

Hoe lyk ons Kerk 501 jaar na die Reformasie?

Nou, 501 jaar na die Reformasie, is dit tyd dat ons weer ons bediening en die manier waarop ons as gemeentes lewe en optree, herevalueer. Ons moet opnuut seker maak dat ons by die kern bly en opregte gemeentes is wat Christus in ons dorpe en stede wil verkondig as die Hoop, die enigste Hoop vir ons wêreld.

Op Sondag 16 September het ek op ’n verhoog by die plaaslike hoërskool gestaan. Langs my was drie leraars van ander kerke: ’n NG-dominee, een van die Gereformeerde Kerk, en ’n pastoor van ’n onafhanklike kerk. Ons het geleentheid gehad om ’n gesamentlike erediens waar te neem waar alvier van ons oor temas van hoop kon preek.

Na die tyd staan ons langs mekaar terwyl die seën oor die “gemeente” uitgespreek word. Op daardie oomblik is daar ’n besondere band tussen ons, ’n band gebou in die een ding wat ons saamvoeg, wat alle verskille uit die weg ruim. Ons staan daar as gevolg van ons liefde vir ons God, omdat Jesus Christus, ons Here, vir ons gesterf het en ons God se kinders is. Ons staan daar saam op die verhoog om Christus as die Hoop vir ons dorp en vir die wêreld te verkondig. Tog staan ons daar as leraars van verskillende kerke wat in baie opsigte van mekaar verskil...

In hierdie uitgawe kyk ons na ’n klompie temas oor kerkwees in die wêreld waarin God ons geplaas het.

Die Hervormer het prof Natie van Wyk gevra om ’n artikel te skryf oor die herdenking van die Reformasie, ’n jaar later. Hy vra reguit en belangrike kritiese vrae oor ons Kerk ’n jaar na die Reformasievierings. Ons kan tog nie redeneer dat die Reformasie gaan oor ’n klomp Europeërs van 500 jaar terug en dat die Reformasie niks met ons te doen het nie. Ons is kerk van die Reformasie. Daarom vra hy wanneer gaan daar kritiese debatvoering in ons Kerk wees oor wat hy noem die sekularisering van die kerk. Hy maak oor die stelling dat sonder kritiese denke het die kerk as kerk nie ’n toekoms nie! Hy soebat dat ons asseblief nie die skatte van die Reformasie moet verruil vir dinge wat nie werklik troos kan bied nie en uiteindelik nie die storms van die lewe kan oorleef nie.

Die volgende tema wat hanteer word, is die vraag na sentrale vergoeding van predikante en ’n alternatiewe heffingstelsel. Ds Colin Hertzog verduidelik dat wanneer alle moontlike inligting en scenario’s in ag geneem word, die huidige stelsel van sinodale offergawe (heffing) steeds die regverdigste bly.

Dr Wouter van Wyk skryf oor kerkgeboue wat verkoop word. Hoe gemaak as die demografie so verander dat ’n gemeente eenvoudig nie langer hul bediening en geboue in stand kan hou nie? Dan gebeur die hartseer maar ongelukkig onafwendbare om ’n kerkgebou te verkoop.

En dan vra dr Wian Kloppers: Wat het ons om aan die volgende generasie aan te gee? Wisselende giere en “aanpassings” by die nuutste tendense, ten einde die kerk “aktueel” te probeer hou? Ons kinders word dikwels in allerlei “kindergroepe” besig gehou terwyl die erediens aan die gang is. So sluit ons hulle uit! En die “grootmense” staan alleen asof hulle geen “geloofsnageslag” het nie.

Dit bring my terug by die vraag wat Die Hervormer vir prof Natie van Wyk gevra het: Hoe lyk die Hervormde Kerk ’n jaar na die viering van Reformasie 500?

’n Klompie jare gelede het die destydse redakteur van Die Hervormer vir my ’n uitdruk gegee van ’n blog van ’n Amerikaanse Christen waarin die vraag gevra is wat vir jongmense belangrik is wanneer hulle by ’n kerk aansluit. Anders as wat ons sou dink, was die musiek vir hulle nie juis belangrik nie. Wat vir hulle belangrik is, is om deel te word van ’n kerk wat sterk klem lê op die sakramente en gebruike, en die betekenis daarvan. Die hoofrede hoekom jongmense by ’n bepaalde gemeente aansluit, is dat hulle die lidmate van daardie gemeente as warm en opreg beleef.

Dalk het ons oor die jare te veel klem gelê op kunsmatige maniere om by te bly en by die wêreld rondom ons aan te pas. Om elke paar jaar iets anders uit te dink wat ons glo die antwoord gaan wees en die kerke vol gaan kry. Dalk het die tyd gekom dat ons as plaaslike gemeentes weer onsself krities afvra wat buitestanders sien as hulle van buite af inkyk. Sien hulle ’n gemeente waar mense opreg kinders van die Here is en vir elkeen daar ’n plekkie in die son gun, of wat sien hulle? Sien hulle ’n gemeente wat die Woord suiwer verkondig en waar die sakramente steeds met eerbied bedien word? Sien hulle ’n gemeente wat nie so in die wêreld vasgevang is dat dinge soos politiek en selfsugtige besluite die eenheid van die kerk versteur nie?

Hoe lyk ons Kerk 501 jaar na die Reformasie?

Dit bring my terug na die drie leraars wat langs my op die verhoog gestaan het. Ons was saamgebind deur ons liefde vir God en ons geloof in die opgestane Heer. En tog verskil ons. Ek wil nie kerk hou soos een van hulle nie, en hulle nie soos ek nie. Maar elkeen van ons wil hê dat mense van buite af inkyk en opregte gelowiges sien wat in elkeen van ons se kerke bymekaarkom.

Dalk is dit juis nou die tyd dat ons weer, soos Besluit 2 van die 71ste AKV bepaal het, ons bediening, maar meer as dit, die manier waarop ons as gemeentes lewe en optree, herevalueer en seker maak dat ons by die kern bly en opregte gemeentes is wat Christus in ons dorpe en stede wil verkondig as die Hoop, die enigste Hoop vir ons wêreld.