Die Hervormer

Die Hervormer

AMPTELIKE MONDSTUK VAN DIE NEDERDUITSCH HERVORMDE KERK VAN AFRIKA

 

Redakteur

Ds Willem Sauer


Subredakteurs
Ds Etienne Fourie
Dr Johan van Staden


Produksieredakteur
Mev Tessa Oppermann


Redaksie
Ds Etienne Fourie
(voorsitter)
Dr Anet Dreyer-Krüger
Dr Elritia le Roux

Ds Elmien Knoetze

Mev Christa Clifton
Dr Wouter van Wyk
(sekretaris: SENTIK)

 

Grafies
 Mev Francis Nel

Mnr Hugo van Niekerk


Administrasie
Mev Sanell van Vuuren


Uitgewer
SENTIK
Nederduitsch Hervormde
Kerk van Afrika
Posbus 2368
PRETORIA
0001
Tel 012 322 8885
Faks 012 322 7906
sentik@nhk.co.za

 

By die Hoofposkantoor as
nuusblad geregistreer
ISSN 0259-949X


Individuele intekening

(gedrukte kopie)
R110 vir 11 uitgawes
R15 per individuele eksemplaar

 

Drukkers

Seriti Printing
Pretoria


Die redaksie aanvaar
verantwoordelikheid vir die
inhoud. Menings deur skrywers
uitgespreek, is egter
nie noodwendig die beleid
of standpunt van die
Hervormde Kerk nie.

Bewoon, bewerk en bewaar – ons opdrag as rentmeesters van God se skepping

Die wêreld is in September geskape. So sê die oompie op die stoep van die tehuis vir bejaardes vir my terwyl hy stip na die groen belofte van lewe in die nuwe blaartjies van die witstinkhoutboom sit en kyk. Ja, die wêreld is in September geskape. Kan nie anders nie, reken hy, want dit is wanneer daar weer lewe uit die dood van die winter kom.

Of die oompie se teorie nou waar is, daaroor gaan ek my nie uitlaat nie, maar dat September skeppingsmaand in ons kerklike jaar is, dit weet ek. Dat die groen belofte van die lente ons weer herinner aan God se skepping en ons plekkie daarin, is maar alte waar. Daarom het die redaksie besluit om hierdie maand artikels oor die skepping, maar meer spesifiek oor ons verantwoordelikheid as rentmeesters van God se skepping, te plaas.

’n Paar jaar gelede, toe ons nog in Groot Marico gewoon het, het die saak van ons verantwoordelikheid teenoor die skepping vir my en my gesin baie aktueel geraak toe daar pogings was om nikkel by die Marico-oog te ontgin.

’n Mens lees baie maal in die media of sien programme op televisie oor hoe byvoorbeeld die mynbou of industrieë die ekologie en gemeenskappe bedreig. Ek het begrip daarvoor dat werk geskep moet word, dat myne en industrieë geleenthede kan skep, maar ons, as rentmeesters, staan altyd voor die fyn balans van ons verantwoordelikheid teenoor die skepping.

Kom ons gebruik weer die voorbeeld van destyds se planne om nikkel te myn naby die Marico-oog. In ’n suiwer ekonomiese sin klink dit na ’n goeie idee. Mynbou kan die arm gemeenskap ophef, geleenthede skep, welvaart bring. Die probleem is egter dat ten einde die nikkel te myn, moet ’n mens deur die dolomiet en die ondergrondse waterbronne kom. Wanneer die nikkel dan ontgin word, is die risiko groot, baie groot, dat swaarmetale in die waterbron wat die Marico-oog voed, kan beland: die oog wat weer op sy beurt die rivier voed, die rivier waaruit duisende gesinne hul drinkwater kry. Die rivier voed weer die besproeiingsdam: As die water onbruikbaar is vir landbou, sal dit weer ’n invloed hê op landbou, en werkgeleenthede op plase sal verlore gaan. Maar gewone rentmeesters, gewone mense soos ek en jy, het destyds die onmoontlike vermag deur ’n mynreus te stuit.

Die probleem van Groot Marico teken in ’n kleine die probleem waarmee ons op hierdie planeet met ons ekologiese krisis sit. ’n Probleem wat, soos ds Chris le Roux dit stel, deur ons, die mense, veroorsaak word. Meestal veroorsaak en vererger omdat ons so op ons eie belange en begeertes ingestel is dat ons nie twee keer dink nie wanneer ons vernietig so ver ons gaan.

Ja, ek weet u sit dalk en lees en dink dat u nie mynbou en groot ekologiese vergrype voorstaan nie. Wag, ek gebruik ’n tweede voorbeeld. Ek en my vriend Johan sit op die rotse aan die kus van die Tuinroete. Ons hou ’n pa dop wat, gewapen met dik industriële handskoene – want krappe knyp seer – tydens laagwater in die rotspoele rondgrou. Hy vang krappe en seekatte en wys dit trots vir sy kinders, waarna hy dit weer teruggooi. Niks verkeerd daarmee nie, dink u dalk. Dit is net dat ons sit en kyk hoe hy, in sy poging om die krappe te vang, baie delikate koraal afbreek. Koraal wat dekades geneem het om te groei.

So kan ek voortgaan. Dink aan al die plastiek wat ons jaarliks op ons planeet uitstort, die kweekhuisgasse, die oorbenutting van hulpbronne, die afmaai van bedreigde spesies. Ons het die kuns van bewoon en bewerk stewig onder die knie gekry, maar die bewaar... Ja, as dit by bewaar kom, skiet ons ver te kort.

Op pad terug van die see af praat ons in die motor oor my kommer. Wat kan ons doen, vra die kinders. Kom ons maak ’n ooreenkoms, sê een van hulle, dat ons volgende jaar elke keer as ons van die see af kom, sal probeer om elkeen ten minste drie stukkies plastiek op te tel. Klein begin, maar ’n begin...

Lees ons die verskillende artikels oor bewaring in hierdie uitgawe, is dit nogal interessant dat aldrie skrywers tot ’n mate twee onderwerpe soos ’n refrein deur hul artikels laat weerklink. In die eerste plek die sogenaamde skeppingsopdrag om te bewoon, te bewerk en te bewaar. En dan, aan die ander kant en tog baie prominent, die feit dat ons rentmeesters is met die verantwoordelikheid wat daarmee gepaardgaan.

Rentmeesters wat elkeen die verantwoordelikheid het om hierdie aarde wat God vir ons gegee het, nie net te bewoon en te bewerk nie, maar te bewaar. Kom ons herwin ons afval. Tel plastiek op. Verminder die gevaarlike stowwe wat ons in die atmosfeer instuur.

Kom ons begin klein, maar kom ons begin. My tuinier wat al byna 25 jaar vir my werk en van gemeente tot gemeente saam met ons trek, sê altyd as ek te haastig raak: Onthou, bietjie maak meer... Kom ons maak ’n verskil, hierdie September. Kom ons maak ’n verskil elke dag van ons lewens.

Wel, of die oompie reg was oor wanneer die wêreld geskape is, weet ek nie, maar ek weet dat ons in September kan begin om, as rentmeesters, ons deel te doen om die skepping te bewaar.