Die Hervormer

Die Hervormer

AMPTELIKE MONDSTUK VAN DIE NEDERDUITSCH HERVORMDE KERK VAN AFRIKA

 

Redakteur

Ds Willem Sauer


Subredakteurs
Ds Etienne Fourie
Dr Johan van Staden


Produksieredakteur
Mev Tessa Oppermann


Redaksie
Ds Etienne Fourie
(voorsitter)
Dr Anet Dreyer-Krüger
Dr Elritia le Roux

Ds Elmien Knoetze

Mev Christa Clifton
Dr Wouter van Wyk
(sekretaris: SENTIK)

 

Grafies
 Mev Francis Nel

Mnr Hugo van Niekerk


Administrasie
Mev Sanell van Vuuren


Uitgewer
SENTIK
Nederduitsch Hervormde
Kerk van Afrika
Posbus 2368
PRETORIA
0001
Tel 012 322 8885
Faks 012 322 7906
sentik@nhk.co.za

 

By die Hoofposkantoor as
nuusblad geregistreer
ISSN 0259-949X


Individuele intekening

(gedrukte kopie)
R110 vir 11 uitgawes
R15 per individuele eksemplaar

 

Drukkers

Seriti Printing
Pretoria


Die redaksie aanvaar
verantwoordelikheid vir die
inhoud. Menings deur skrywers
uitgespreek, is egter
nie noodwendig die beleid
of standpunt van die
Hervormde Kerk nie.

’n Nuwe begin vir ’n Kerk met ’n nuwe visie

Hierdie maand het Die Hervormer ’n nuwe mashoof. Die rede? Een van die aanbevelings van die konsultante wat die Kerk met raad oor bemarking en ’n nuwe korporatiewe beeld bedien het, was dat die verskillende publikasies en korrespondensie ’n meer eenvormige beeld moet vertoon.

Daarom het ons hierdie maand Die Hervormer en Blitspos se mashoofde verander om in lyn te kom met die nuwe korporatiewe beeld van ons Kerk. Gemeentes sal ook eersdaags briefhoofde kry met hierdie selfde eenvormige beeld. Ek is opgewonde oor die nuwe gesig. My bede is dat die Kerk ook oorwegend positief sal wees. Ons dank aan die grafiese personeel by SENTIK wat die nuwe mashoofde ontwerp het.

Elke jaar gaan baie predikante van ons Kerk, maar ongelukkig nie almal nie, na die VTT. Ek wonder egter of almal weet waarvan die dominee praat wanneer hy afkondig dat hy volgende week by die VTT is. VTT staan vir Voortgesette Teologiese Toerusting. Die Hervormer het dr André Ungerer, hoof van die Hervormde Teologiese Kollege, gevra om die verskillende letternaamwoorde te verduidelik: VTT, VTK (Voortgesette Toerusting Kerkraad), en VBO (Voortgesette Bedieningsopleiding). In sy artikel vertel hy ook meer oor verlede jaar se tema, Die bestuur van verandering, en vanjaar se tema, Emosioneel gesonde leierskap.

Dit is belangrik om dr Ungerer se artikel saam met dr Frikkie Labuschagne se artikel op die voorblad oor uitdagings vir kerklike leierskap te lees. Ek het gedurende die Julie-vakansie gelukkig genoeg tyd gehad om Dana Snyman se reisjoernaal, Op pad, te kon lees. Op sy kenmerkende wyse kyk hy na dieselfde goed waarna ek en jy elke dag kyk, maar hy sien dit anders. Vir my, as plattelandse dominee, was sy kyk na kerkgeboue as beeld van die agteruitgang van die platteland interessant. Eers is daar die kerkhorlosie wat op ’n dag gaan staan het, en niemand doen iets daaraan nie. Dan die aanddiens wat nie meer plaasvind nie. En ook die kerkgebou, wat baie maal moeg en afgeleef lyk, wat deur ’n duiwelsvurk-palissade en die een of ander sekuriteitsmaatskappy beskerm word. Tot my skande moet ek erken dat hierdie beelde dikwels waar is. Daarom is die beeld wat dr Labuschagne gebruik van die Tangier-eiland in die VSA so treffend. Hierdie eiland is bietjie-bietjie besig om weg te kalwe. Dit maak nie saak wat gedoen word en hoeveel gespandeer word nie, die agteruitgang kan nie omgedraai word nie.

Die feit is, die wêreld waar jy woon, verander. Dit is niemand se skuld nie, allermins die dominee en die kerkraad s’n. Dit is nie iemand se skuld dat die platteland ontvolk of dat misdaad toeneem nie. Dit is nie die Kerk se skuld dat daar meer bejaardes as kinders in die gemeente is nie. Die feit van die saak is dat ons moet ophou om ons blind te staar teen al die probleme en uitdagings en eerder op geleenthede moet begin fokus. Die tyd het gekom dat kerkleiers soos avonturiers bereid moet wees om ongekende water in te vaar en meer aandag aan die verkondiging van die evangelie as aan die instandhouding van ’n gebou te bestee. Die vroeë kerk het net ’n voorkamer en soms selfs slegs ’n grafkelder nodig gehad om as kerk bymekaar te kom.

Hierby sluit ook die artikel van ds Japie Coetzee oor Kerkspieël 2018 aan. Gemeentes moet asseblief ook hierdie geleentheid gebruik om hulle te help om verandering in hul gemeente te bestuur.

Maar net soos wat die boek wat ek in Julie gelees het en drr Ungerer en Labuschagne se artikels my gehelp het om anders na die bekende te kyk, het dr Tanya van Wyk se artikel my gedwing om weer mooi na te dink oor eutanasie. In Afrikaans verwys ons na eutanasie as genadedood. Dr Van Wyk begin by die woord genade en vra dan die vraag oor die verband tussen lewe en dood. Sy skryf soos volg oor die Afrikaanse taalkeuse van die woord genadedood: Daarom keer ek terug na my aanvanklike waarneming aangaande die taalkeuse ten gunste van “genadedood”. “Genade” het ʼn baie spesifieke konnotasie en implikasie in ons lewe. Dit is nie ’n terloopse woord nie. Dit is ʼn “sterk” woord met verreikende gevolge: onverdiend, uit guns alleen. Daar is geen rede voor en geen beloning te verkry nie. Dit is wat dit is: ’n misterie. ’n Misterie wat bo ons verstand en wetenskap iets ten goede laat meewerk en goed laat geskied, sonder dat ons weet hoe of hoekom. Dit is myns insiens beduidend dat ons in ons spreektaal daardie woord gebruik.

Vergun my ook weer om drr Barry van Wyk en Wim Dreyer te bedank vir hul artikels oor die belydenisskrifte.