Die Hervormer

Die Hervormer

AMPTELIKE MONDSTUK VAN DIE NEDERDUITSCH HERVORMDE KERK VAN AFRIKA

 

Redakteur

Ds Willem Sauer


Subredakteurs
Ds Etienne Fourie
Dr Johan van Staden


Produksieredakteur
Mev Tessa Oppermann


Redaksie
Ds Etienne Fourie
(voorsitter)
Dr Anet Dreyer-Krüger
Dr Elritia le Roux

Ds Elmien Knoetze

Mev Christa Clifton
Dr Wouter van Wyk
(sekretaris: SENTIK)

 

Grafies
 Mev Francis Nel

Mnr Hugo van Niekerk


Administrasie
Mev Sanell van Vuuren


Uitgewer
SENTIK
Nederduitsch Hervormde
Kerk van Afrika
Posbus 2368
PRETORIA
0001
Tel 012 322 8885
Faks 012 322 7906
sentik@nhk.co.za

 

By die Hoofposkantoor as
nuusblad geregistreer
ISSN 0259-949X


Individuele intekening

(gedrukte kopie)
R110 vir 11 uitgawes
R15 per individuele eksemplaar

 

Drukkers

Seriti Printing
Pretoria


Die redaksie aanvaar
verantwoordelikheid vir die
inhoud. Menings deur skrywers
uitgespreek, is egter
nie noodwendig die beleid
of standpunt van die
Hervormde Kerk nie.

God se oog

Michelangelo het op ’n keer ’n beeld van ’n engel gemaak. Een van die mense wat hierdie kunswerk gesien het, het gevra hoe hy dit kon regkry om so ’n buitengewone werk te skep. Sy antwoord was: Dit is eintlik baie maklik – ek het ’n engel in ’n marmerblok gesien en ek het gewoon gekap en gewerk totdat ek die engel bevry het.

Uit Michelangelo se reaksie het dit duidelik geword dat hy oor ’n buitengewone kunstalent beskik het. Moontlik sou ons selfs so ver kon gaan om te sê hy het besondere visie gehad om dit wat onbenullig lyk in iets kosbaar te omskep.

In een van die buite-Bybelse boeke word ’n waardevolle gedagte oor ’n soortgelyke gawe met lesers uit die tweede eeu voor Christus gedeel. Hou in gedagte dat daar buiten die Bybelse of die kanonieke boeke ’n verskeidenheid ander boeke bestaan het wat hul ontstaan in die Bybelse tyd en wêreld gehad het. Hierdie boeke staan bekend as die Apokriewe boeke. Apokrief beteken verborge. Dit is dus boeke wat nie noodwendig in die normale lewensgang gebruik is of algemeen beskikbaar was nie, maar wat tog vir sekere mense toeganklik was.

Daar is eintlik twee teorieë hieroor. Die een teorie was dat die boeke nie vir alle mense geskik was nie, maar net vir diegene wat die diepte van die geskrifte kon peil. Daarom is dit liefs weggesteek. Die tweede teorie was dat die boeke verwronge idees en vreemde teologie bevat het, en dit is om hierdie rede vir mense weggesteek. Niemand se geloof moes daardeur skade ly nie. Vandag is hierdie boeke natuurlik vrylik in die handel beskikbaar. In die Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 6, word byvoorbeeld na hierdie boeke verwys as boeke wat die Kerk wel mag lees en lering daaruit trek vir sover dit met die Kanonieke Boeke ooreenstem. Dit dien dus nie noodwendig as rigsnoer vir ’n gelowige se daaglikse lewe nie.

Die Wysheid van Ben Sirag word spesifiek vermeld in ons belydenisskrifte as een van die Apokriewe boeke. Ben Sirag kan vergelyk word met sommige van die ander wysheidsgeskrifte, byvoorbeeld Spreuke. In Ben Sirag word daar onder andere oor God se skeppingswerk geskryf. Daar is in hoofstuk 17:8 die volgende woorde opgeteken: Hy het hulle gemaak dat hulle dinge kan sien soos Hy dit sien sodat hulle kan begryp hoe wonderlik alles is wat Hy gemaak het. ’n Meer direkte vertaling hiervan lees: Hy het sy oog in hul harte gelê. Hierdie kosbare gedagte, naamlik dat God sy oog in gelowiges se harte gelê het, het ’n mooi agtergrond. Die “hart” waarna verwys word, is in hierdie spesifieke konteks ’n mens se verstand of intellektuele vermoëns. Dit beteken dat die Here aan ons die vermoë gee om op ’n unieke manier na die werklikheid om ons te kyk. Hy bied aan ons ’n gawe wat anders is as dit waaroor ander wesens beskik. Die mens word dus nie net deel van die skeppingsorde nie, maar die mens ontvang die vermoë om self ook met so ’n oog na die wêreld te kyk dat hy/sy self ook in ’n klein mate kan orden. Ons reaksie op hierdie gawe behoort dank, lof en eer te wees.

Deel van ons danksegging en lof aan God sou sekerlik wees om God se oog wat in ons harte gevestig is, met oorleg te gebruik. Ons kan dit so interpreteer dat God aan ons ’n sagte oog by wyse van spreke gegee het. Hy bied aan ons die geleentheid om na die skepping en skepsels om ons te kyk met insig, begrip, liefde en deernis.

Ons as Kerk het ’n trotse geskiedenis met ’n ryke teologie wat daaraan verbind is. Die bydrae van ds Etienne Fourie getuig opnuut daarvan. Ons vier binnekort 500 jaar as een van die Reformatoriese kerke in die wêreld. Tog het die mensdom met sy rykdom van gawes en die oog van God wat in ons harte gelê is dikwels hierdie gawes verwaarloos en ons geleentheid om die eer, dank en lof aan Hom te bring, laat verbygaan. Dat daar diversiteit in mense se nadenke oor God, sy skeppingswerk en sy handelinge met mense is, ly geen twyfel nie. Soms is dit nodig om weer diep na te dink oor ons erfenis en om opnuut met die oog van God in ons harte, met die wysheid wat aan ons gebied word, te kyk na ons medemens en veral ook ons eie roeping.

Terwyl kerke in getal en meelewing kwyn, soos ds Arie Kuyper dit duidelik stel in sy bydrae oor die kwynende Nederlandse kerke, is daar tog ’n verdieping wat in verskeie geloofskringe te bespeur is. Dit bly ons uitdaging om, met God se oog in ons harte, uit te gaan en te wees wat ons reeds danksy God se genade is – sy skepsels met die voorreg van sy oog in ons harte om dalk die engele in die ruwe rotsblokke te kan sien.