Die Hervormer

Die Hervormer

AMPTELIKE MONDSTUK VAN DIE NEDERDUITSCH HERVORMDE KERK VAN AFRIKA

 

Redakteur

Ds Willem Sauer


Subredakteurs
Ds Etienne Fourie
Dr Johan van Staden


Produksieredakteur
Mev Tessa Oppermann


Redaksie
Ds Etienne Fourie
(voorsitter)
Dr Anet Dreyer-Krüger
Dr Elritia le Roux

Ds Elmien Knoetze

Mev Christa Clifton
Dr Wouter van Wyk
(sekretaris: SENTIK)

 

Grafies
 Mev Francis Nel

Mnr Hugo van Niekerk


Administrasie
Mev Sanell van Vuuren


Uitgewer
SENTIK
Nederduitsch Hervormde
Kerk van Afrika
Posbus 2368
PRETORIA
0001
Tel 012 322 8885
Faks 012 322 7906
sentik@nhk.co.za

 

By die Hoofposkantoor as
nuusblad geregistreer
ISSN 0259-949X


Individuele intekening

(gedrukte kopie)
R110 vir 11 uitgawes
R15 per individuele eksemplaar

 

Drukkers

Seriti Printing
Pretoria


Die redaksie aanvaar
verantwoordelikheid vir die
inhoud. Menings deur skrywers
uitgespreek, is egter
nie noodwendig die beleid
of standpunt van die
Hervormde Kerk nie.

Deurdagte verandering

Oom Gert van Staden van Gemeente Groot Marico vertel my dat ds At Mc Donald blykbaar destyds tydens ’n kerkraadsvergadering in Zeerust gesê het dat nie alle nuwe goed sleg is nie, maar dat alle ou goed ook nie noodwendig reg is nie.

In hierdie wêreld waarin ons leef, word ons gekonfronteer met ’n ondenkbare pas van verandering, en is dit dalk goed om ag te slaan op die wyse dominee se woorde. My kinders kan byvoorbeeld hulself nie indink dat ek en hul ma vir mekaar briewe geskryf het wat gepos is en eers dae later afgelewer is nie. In hierdie veranderende wêreld waar, soos dr Wouter van Wyk dit stel, jy ’n e-pos na bykans enige plek in die wêreld kan stuur en dit feitlik dadelik daar afgelewer word, staan die kerk voor nuwe uitdagings.

Ek was as voorsitter van die Raad vir SENTIK bevoorreg om die hele proses met die mense van Uppe Marketing mee te maak. Soos die proses gevorder het, het ek besef dat ds At reg was. Die tyd het gekom dat ons weer moet kyk na die manier waarop ons in die Kerk kommunikeer. Al die ou maniere is nie noodwendig reg nie – dalk is daar ’n beter manier om effektief in die hedendaagse wêreld te kommunikeer.

Hoe kommunikeer ons tans in die Kerk? Behalwe die amptelike skrywes wat van die kantore van die drie sekretarisse – die algemene sekretaris, die sekretaris van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering en die sekretaris van die Algemene Diakensvergadering – uitgaan, beskik die Kerk ook tans oor verskeie webblaaie, ’n sentrale elektroniese nuusbrief, en drie gedrukte publikasies – Die Hervormer, Konteks en die Bybelse Dagboek/Almanak. Die gevoel van die konsultante was dat die baie verskillende webblaaie, wat elkeen ’n afsonderlike karakter en selfs logo het, meer verwar as inlig. Die voorstel was dat die Kerk eerder net een webblad moet hê wat al die verskillende dele van die Kerk verteenwoordig.

Verder het die konsultante ook voorgestel dat ons weer moet besin oor die logo van die Kerk en dat ons ’n meer moderne maar tog eenvoudige logo moet kry wat ook vir eksterne kommunikasie gebruik kan word. Op die voorblad plaas ons ’n voorstel van hoe so ’n logo moontlik kan lyk. Maar soos dr Van Wyk in sy artikel skryf, dit is baie belangrik dat die insette van die breër Kerk gekry moet word, want op die ou end bly dit ons Kerk.

Verder is die vraag gevra oor die gedrukte publikasies en of alle publikasies nie eerder elektronies uitgegee moet word nie. Uit die aard van die saak sal ek as redakteur van Die Hervormer daarvoor bly veg dat die publikasies steeds in gedrukte vorm beskikbaar moet wees. Ek is as plattelandse dominee maar alte bewus van hoe baie mense, oud en jonk, nie toegang tot rekenaars en die internet het nie. Die vraag is egter hoe u as lesers daaroor voel. Ons hoor graag van u.

Grondonteiening bly ’n netelige saak wat met baie emosie gepaard gaan. ’n Vriend van my wat by die eiendomsmark betrokke is, vertel van die groot hoeveelheid bejaardes wat ná die nuus oor onteiening op die radio en TV opsluit hul huise en woonstelle wou verkoop. Heel interessant hoor ek op ’n TV-nuusprogram dat die meeste stedelike mense nie belangstel in ’n plaas waar hulle kan boer nie. Hulle het juis van die armoede van die platteland gevlug deur na die stede te trek met hoop op ’n beter toekoms. Die kwessie van grondonteiening is in ’n mate ’n politieke speelbal wat gebruik word om steun te kry en stemme te werf. Ek erken dat daar ongelykheid is en dat daar ’n beter verdeling van grond moet wees. Ek stem egter met dr Johan van Staden saam dat begin moet word met die duisende hektaar onbenutte en onderbenutte grond in staatsbesit – plase wat eens spogplase was en wat nou verlate lê. Mag ons egter van grondgrype soos in Zimbabwe gespaar word. Soos dr Van Staden sê, moet die publiek elke kanaal gebruik om ons stem te laat hoor en saam te werk vir ’n oplossing wat tot almal se voordeel sal wees. Voedselsekerheid mag nie ter wille van populistiese politiekery in gevaar gestel word nie.

Ds Adriaan Roets verduidelik in hierdie uitgawe hoe die befondsing van teologiestudente tans werk. Die Hervormer het hom gevra om as voorsitter van die Kuratorium te reageer op ’n skrywe van die pa van ’n voornemende teologiestudent oor hul ontnugtering rakende die huidige befondsing. Die Hervormer wou die Kuratorium die geleentheid gee om te verduidelik hoekom die beurslening wat in die verlede aan studente toegestaan is, nie meer so geld nie. Ds Roets beklemtoon dat ons steeds ons kinders moet aanmoedig om teologie te gaan studeer, omdat heelwat van ons predikante eersdaags emeriteer.