Die Hervormer

Die Hervormer

AMPTELIKE MONDSTUK VAN DIE NEDERDUITSCH HERVORMDE KERK VAN AFRIKA

 

Redakteur

Ds Willem Sauer


Subredakteurs
Ds Etienne Fourie
Dr Johan van Staden


Produksieredakteur
Mev Tessa Oppermann


Redaksie
Ds Etienne Fourie
(voorsitter)
Dr Anet Dreyer-Krüger
Dr Elritia le Roux

Ds Elmien Knoetze

Mev Christa Clifton
Dr Wouter van Wyk
(sekretaris: SENTIK)

 

Grafies
 Mev Francis Nel

Mnr Hugo van Niekerk


Administrasie
Mev Sanell van Vuuren


Uitgewer
SENTIK
Nederduitsch Hervormde
Kerk van Afrika
Posbus 2368
PRETORIA
0001
Tel 012 322 8885
Faks 012 322 7906
sentik@nhk.co.za

 

By die Hoofposkantoor as
nuusblad geregistreer
ISSN 0259-949X


Individuele intekening

(gedrukte kopie)
R110 vir 11 uitgawes
R15 per individuele eksemplaar

 

Drukkers

Seriti Printing
Pretoria


Die redaksie aanvaar
verantwoordelikheid vir die
inhoud. Menings deur skrywers
uitgespreek, is egter
nie noodwendig die beleid
of standpunt van die
Hervormde Kerk nie.

Die toekoms in saam met God

In hierdie tyd in Suid-Afrika, en aan die begin van ’n nuwe jaar, staan die Kerk en al ons lidmate voor nuwe uitdagings en groot onsekerheid. Maar soos Psalm 131 sê: Ek het rus en kalmte gevind. Soos ’n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind. Wag op die Here, Israel, nou en vir altyd.

Tydens ons gesinsvakansie by Swartvlei kom ek op ’n groepie seuntjies van so tussen vyf en sewe jaar oud af wat besig is om heftig te stry. Hulle praat oor die opgewondenheid van Kersfees en van Kersvader wat vir hulle geskenke gaan bring. Die volgende oomblik gooi die een seuntjie koue water oor al hul verwagtinge toe hy met outoriteit in sy stem verklaar: Kersvader is nie regtig nie, dit is dáárdie outjie se oupa wat soos Kersvader aantrek wat die geskenke bring... Jy kan jou net die gesiggies indink wat – gestroop van ’n droom, ’n illusie – daar gestaan het en probeer uitmaak het wat om van hierdie inligting te maak.

Ja, en hier sit ek vandag en skryf. En tot ’n groot mate is ek ook soos hierdie seuntjies wat gestroop is van die illusies wat ons deel van ’n verstaansraamwerk gemaak het. Gestroop van daardie kinderlike onskuld waaraan ons almal tog wil vasklou. Gestroop van die droom dat ons Kerk, elke gemeente, elke lidmaat en ampsdraer steeds oor alles dieselfde dink en doen. Gestroop van die illusie dat as jy lank genoeg wag, alles sal regkom. Dat elke sukkelende gemeente gaan oorleef.

Die feit is, daar is baie ander skokke wat ’n mens ook kry namate die jare verbygaan.

Karen Zoid sing in haar lied As musiek begin speel: Hulle sê ons moet glo, net soos die kinders, so is hierdie lewe dan net vir beginners...? Nee, hierdie lewe is nie net vir beginners nie. Hierdie lewe is juis vir avonturiers wat bereid is om te waag, bereid is om nuwe horisonne te verken, want die ou illusies, die ou drome, werk nie meer altyd nie.

En in hierdie uitgawe beleef ons deur die artikels heen iets van die soeke na die nuwe horisonne. In die voorbladartikel het ek gepoog om iets te deel van die feit dat ons as Kerk nie meer die Kerk is waar gemeentes as’t ware soos klone van mekaar dwarsoor die land bestaan nie. As gevolg van verskeie faktore, party doelbewus gekies, ander as gevolg van ’n veranderende wêreld op die Kerk afgedwing, het ons nie meer die eenvormigheid van die verlede nie. Daarom moet ons as Kerk soek na wat ons gemeen het, wat ons nog ’n uniforme karakter gee.

Op bladsy 5 is daar ’n voorbeeld van hoe die gemeentes in die ring van Middelburg tydens die viering van Reformasie 500 daarin geslaag het om nog so, ten spyte van die verskillende gemeentes se verskillende karakters, saam te kon kom en een van ons ooreenkomste, ons verbondenheid aan die kerk van die Reformasie, te kon vier.

Ds Willem Kok wys in sy artikel (bladsy 3) op die demografiese uitdagings vir die Kerk. Baie gemeentes is al in die loop van jare gestroop van die illusie dat alles goed gaan en dat ’n bees en ’n basaar enige probleem kan reg koop. Die feit bly, ons as Kerk het nie altyd die kragte van demografiese skuiwe verstaan en proaktief daarop gereageer nie. Die gevolg is gemeentes wat kleiner geword het en selfs verdwyn het, nie oor swak bediening nie, maar omdat die wêreld waarin hierdie gemeentes geleef het, eenvoudig verander het. Gemeentes en lidmate is dan soos daardie seuntjies gestroop van hul illusies, en moedeloos gelaat. Daarom is daar in die Kerk navorsing aan die gang om hierdie invloede te bestudeer en te bestuur, om groeipunte te identifiseer en so alles wat vir ons as mense moontlik is, te doen om ons Kerk te help om te bly groei.

En dit sluit juis baie mooi aan by dr Frikkie Labuschagne se artikel (bladsy 6) oor die kollektiewe belange van ’n geloofsgemeenskap. Weer eens beleef ’n mens die seuntjies se ontnugtering in die feit dat ons gekonfronteer word met ’n Kerk wat verander, ’n Kerk wat moeiliker finansieel bekostig word en in lidmaattal krimp. Ons lees dat hy skryf: Ten einde die bediening op elke plek volhoubaar te laat gebeur, word gemeentes genoop om meer beweeglik te wees en die nodige aanpassings te doen.

Die lewe is nie net vir beginners nie, die lewe is vir hulle wat bereid is om te waag, saam en in hul God te waag...

En dan die bydrae oor die bosberaad van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering waar vir twee dae in afsondering onder leiding van Theuns Eloff, eertydse visekanselier van Noordwes-Universiteit, saam gedink is oor die implikasies en impak van Besluite 1 en 2 van die 71ste AKV op ons gemeentewees en missionale kerkwees. Om deel te kon wees van hierdie geleentheid, het my weer met moed huis toe laat ry.

Ja, ons is dalk soms ontnugter deur ons situasie en deur die faktore waaroor ons nie beheer het nie, maar ons is nie alleen gelaat nie. Ons is steeds Kerk van die lewende God. Hy bly in beheer.

Of soos die tannie eenmaal vir my by ’n kombuistafel in ’n plaashuis Psalm 131 in haar eie woorde teruggegee het: Moenie van jou meer dink as wat jy moet nie, want voor God is ons almal gelyk. Moenie jou kop breek oor wat jy nie kan verander nie. Nee, gaan sit op die skoot van God, daar is jy veilig, daar word jou gebede verhoor. Jy kan maar, want hy is dieselfde, gister, vandag en altyd.

Ja, ons is Kerk van die toekoms, solank as wat ons dit glo. Soos my kamp-buurman sou sê: Daar gaan ons, ja, daar gaan ons die toekoms saam met God in.