Die Hervormer

Die Hervormer

AMPTELIKE MONDSTUK VAN DIE NEDERDUITSCH HERVORMDE KERK VAN AFRIKA

 

Redakteur

Ds Willem Sauer


Subredakteurs
Ds Etienne Fourie
Dr Johan van Staden


Produksieredakteur
Mev Tessa Oppermann


Redaksie
Ds Etienne Fourie
(voorsitter)
Dr Anet Dreyer-Krüger
Dr Elritia le Roux

Ds Elmien Knoetze

Mev Christa Clifton
Dr Wouter van Wyk
(sekretaris: SENTIK)

 

Grafies
 Mev Francis Nel

Mnr Hugo van Niekerk


Administrasie
Mev Sanell van Vuuren


Uitgewer
SENTIK
Nederduitsch Hervormde
Kerk van Afrika
Posbus 2368
PRETORIA
0001
Tel 012 322 8885
Faks 012 322 7906
sentik@nhk.co.za

 

By die Hoofposkantoor as
nuusblad geregistreer
ISSN 0259-949X


Individuele intekening

(gedrukte kopie)
R110 vir 11 uitgawes
R15 per individuele eksemplaar

 

Drukkers

Seriti Printing
Pretoria


Die redaksie aanvaar
verantwoordelikheid vir die
inhoud. Menings deur skrywers
uitgespreek, is egter
nie noodwendig die beleid
of standpunt van die
Hervormde Kerk nie.

Elkeen het 'n stem

My seun, behou die takt en oorleg; moet dit nie uit die oog verloor nie... (Spreuke 3: 21). ’n Moontlike definisie van die woord takt is: Die vermoë om die regte ding te doen of te sê wanneer daar gevaar bestaan dat iemand kwaad of beledig of seergemaak kan word (Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal).

Een van die aangrypendste gedeeltes in die Evangelies is waar Jesus by ’n put met ’n Samaritaanse vrou gesels. Wat hierdie paar verse uit Johannes 4: 1 en verder so merkwaardig maak, is die feit dat mans in daardie tyd nie sommer spontaan met vroue gesels het nie.

Wat verder opmerklik is, is die feit dat hierdie vrou boonop ’n slegte naam gehad het en dus in ’n groter mate onaanvaarbaar sou wees binne die gewone kringe. Sy het immers volgens alle aanduidings reeds ’n handvol mans gehad. Boonop was die een by wie sy gewoon het in die tyd toe Jesus met haar gesels het, nie haar wettige man nie. Jesus oorskry verder alle grense wanneer dit duidelik word dat hierdie vrou nie uit sy eie volk se geledere kom nie, maar ’n Samaritaanse vrou is. ’n Mens sou ver soek om, deur die oë van ’n deursnee Jood, ’n meer aanstootlike toneel te skets as die een wat in Johannes 4 vir ons uitgebeeld word.

Daar is etlike voorbeelde in die Evangelies waarmee Jesus dit duidelik maak dat die ou Joodse onderskeid wat tussen mense op grond van rang, status, geslag en herkoms getref is, deur sy oë gesien nie waarde gehad het nie. Ook in Griekse en Romeinse kringe het mense hulself van ander onderskei op grond van hierdie maatstawwe. Jesus het almal aanvaar en het almal met liefde behandel. Almal het stand en ’n stem by Hom gehad.

Teen hierdie agtergrond behoort vryheid van spraak ten minste vir gelowiges ’n riem onder die hart te wees. Hoe bevoorreg is ons om in hierdie dae in ’n wêreld te leef waar die meerderheid mense wêreldwyd ’n stem het en waarin ons, hetsy in die openbaar of selfs in howe, kan veg sodat elkeen se stem gehoor kan word. Alle mense, ongeag geslag, stand of herkoms, mag oor enige denkbare onderwerp hul stem laat hoor. Dit was van die vroegste tye reeds ’n droom vir alle mense. Trouens, die Griekse filosoof Diogenes, wat geleef het van 412 tot 323 vC, het reeds gesê: Die mooiste ding in die wêreld is vryheid van spraak.

Waarom is daar dan in meer onlangse tye ’n bitter smaak in my mond oor die gebruik van hierdie vryheid? Moontlik omdat heelparty mense wat hierdie vryheid gebruik het, se standpunte my nie pas nie. Daar word in hierdie dae onder andere in hofsake gepoog om alle vorme van godsdiens in ons skole weg te neem. Dit pas my nie, want ek sou verkies om steeds die bietjie blootstelling wat ek by skole kry, te gebruik om aan jongmense die blye boodskap van ons Here Jesus te verkondig.

In die Parlement spring enige lid deesdae met groot vrymoedigheid op en ontwrig verrigtinge onder die dekmantel van vryheid van spraak.

In die buiteland verguis tydskrifte en dagblaaie mense se geloof (letterlik tot die dood toe), ook onder die vaandel van vryheid van spraak. Hoewel ek die beginsel van harte steun, het daar ’n ongemak en ’n onrustigheid in my binneste kom vassteek daaroor. Dit het my gedring tot selfondersoek. Is daar dalk ’n tikkie valsheid in my binneste opgesluit wanneer ek vryheid van spraak steun of bevorder? Is ek nie dalk alleen ’n voorstander daarvan in soverre die woorde en dade wat in hierdie kader val, parallel is aan my eie sienswyse en standpunte nie?

Dalk kan daar ’n element van onopregtheid in my hart leef wanneer dit by vryheid van spraak kom. Een van die kragtigste uitsprake ooit oor hierdie onderwerp is deur Francois-Marie Arouet, beter bekend as Voltaire, gemaak: Ek verskil van jou, maar sal tot die dood veg vir jou reg om daardie standpunt te kan stel.

So edel, vermoed ek, is die meeste van ons nie.

Ek vermoed dat die ongemak wat in my leef, te make het met die manier waarop vryheid van spraak benut word. Dalk moet ek eerder sê, misbruik word. Dit het ’n wapen geword waarmee joernaliste en politici mense, volke en gelowe polariseer. Die opregte, weldeurdagte standpunt wat gestel word en wat gebore is uit oortuiging, het plek gemaak vir verskuilde agendas en om blatant voordeel te trek uit ’n saak wat edele bedoelings het. Die hoeveelheid nuusblaaie wat verkoop kan word, bepaal die gebruik of misbruik van vryheid. Die blootstelling wat ’n bepaalde standpunt in die openbaar kry, weeg skynbaar swaarder as ’n wêreld van vrede en samehorigheid. ’n Wêreld waar almal se welsyn gewig dra.

Die vaartuie waarin vryheid vervoer word, het ver weggedryf van ons Here Jesus se akkommoderende en liefdevolle benadering tot alle mense. Sy onbevange en openhartige kontak met alle mense, insluitende die uitgeworpenes van sy tyd, behoort by elke gelowige ’n verantwoordelike omgang met vryheid van spraak aan te wakker. Ons bede kan slegs wees dat so ’n uitgangspunt ook die ongelowiges van ons tyd dring tot introspeksie en ’n opregte soeke na opregte vryheid van spraak.