Die Hervormer

Die Hervormer

AMPTELIKE MONDSTUK VAN DIE NEDERDUITSCH HERVORMDE KERK VAN AFRIKA

 

Redakteur

Ds Willem Sauer


Subredakteurs
Ds Etienne Fourie
Dr Johan van Staden


Produksieredakteur
Mev Tessa Oppermann


Redaksie
Ds Etienne Fourie
(voorsitter)
Dr Anet Dreyer-Krüger
Dr Elritia le Roux

Ds Elmien Knoetze

Mev Christa Clifton
Dr Wouter van Wyk
(sekretaris: SENTIK)

 

Grafies
 Mev Francis Nel

Mnr Hugo van Niekerk


Administrasie
Mev Sanell van Vuuren


Uitgewer
SENTIK
Nederduitsch Hervormde
Kerk van Afrika
Posbus 2368
PRETORIA
0001
Tel 012 322 8885
Faks 012 322 7906
sentik@nhk.co.za

 

By die Hoofposkantoor as
nuusblad geregistreer
ISSN 0259-949X


Individuele intekening

(gedrukte kopie)
R110 vir 11 uitgawes
R15 per individuele eksemplaar

 

Drukkers

Seriti Printing
Pretoria


Die redaksie aanvaar
verantwoordelikheid vir die
inhoud. Menings deur skrywers
uitgespreek, is egter
nie noodwendig die beleid
of standpunt van die
Hervormde Kerk nie.

2015

Riviere het gedruis, Here, riviere het gedruis, riviere het gedreun, maar hoog bo die geraas van baie waters, hoog bo die golwe van die see, troon die Here in sy koninklike mag (Psalm 93: 3-4).

Tydens ons Desembervakansie het ek opnuut besef hoe uniek elke mens is. Kinders wat in dieselfde huis grootgeword het en aan dieselfde waardes blootgestel is, het elkeen die werklikheid op hul eie persoonlike manier beleef en beskryf. Ons het Oujaarsaand rondom ’n braaivleisvuur oor die komende jaar gesels. Elkeen het onbewustelik ’n lysie gemaak van drome en ideale wat gekoester word. Trouens, elkeen het stelselmatig ’n droomjaar in hul gedagtes laat vorm kry.

Die ideale jaar se inhoud het gewissel van ek hoop om die nuwe betrekking waarvoor ek aansoek gedoen het, te kry tot ek wil beter punte op my jaarverslag hê omdat ek vir ’n beurs wil aansoek doen. Daarmee saam al die normale ideale van ’n gesonder lewenstyl, minder spanning, ensovoorts.

Umberto Eco skryf in The infinity of lists dat wanneer ons na ’n bepaalde toneel kyk, is daar sekere dinge wat met die oog waargeneem kan word. As ’n mens die eenvoudige voorbeeld van ’n skildery neem, sal daar waarskynlik natuurtonele of persone met spesifieke gelaatstrekke gesien kan word. Dalk ’n vrug of ’n houer wat geskilder is. Daar is egter ook dinge wat nie met die oog waargeneem kan word nie en wat die lys van sigbare dinge heelwat langer maak. Hierdie onsigbare of agtersigbare lys beskryf Eco met die woord ensovoorts. Die ensovoorts in ’n natuurskildery, byvoorbeeld, kan herinneringe wees wat deur die skildery wakker gemaak word. Die ensovoorts het natuurlik nie perke nie. Dit is so groot soos mense se vermoëns en so groot soos mense se verbeelding en dalk meer...

Ons aanvanklike gesprek oor die jaar 2015 wat voor ons uitgestrek lê, sou die letterlike van ’n toneel  wees. Met ander woorde, die verf op die doek by wyse van spreke.  

Ons Oujaarsgesprek het later ’n bietjie dieper geraak. Ons het iets van die ensovoorts met mekaar begin deel. Een van die kinders het gesê: Ek wil ook probeer om ’n beter ek te wees. Ek wil meer vrede in my hart hê en meer vrede na die mense om my uitstraal. Ek wil nie toelaat dat die wêreld en die aardse dinge my lewe volledig insluk nie. Ek wil tyd maak vir God en my verhouding met Hom; ek wil meer tyd beskikbaar hê vir familielede en vriende; vir geestelike verdieping; vir... Die  hoër punte en beter betrekking het ’n spesifieke nuanse gekry.

Elke mens maak lysies aan die begin van ’n jaar. Almal teken hoopvolle prentjies van ’n nuwe jaar. Sommige onderdele van hierdie prentjies is maklik om te eien en maklik om oor te praat. Dit is lysbaar. Ander vind hul pad moeilik na ’n eenvoudige nuwejaarslysie.

Dit sou deel van die ensovoorts wees waarna Umberto Eco verwys het. Die toneel agter die toneel. Die mens agter die lysie. Hoeveel van hierdie droom, oppervlakkig of dieper, waar sal word, gaan die tyd ons leer. Ervaring het geleer dat dit ’n mens nie lank neem om weer weg te raak in die roetine van elke dag en die gejaag van ’n jaar nie. As jy weer kyk, het die jaar gevorder, en die hartseer is dikwels dat dit dieselfde mens is wat met dieselfde hoop na ’n nuwe datum uitsien. Ons drome word dikwels deur die werklikheid verwilder. Jy wou nog beter wees, maar mense en omstandighede laat jou nie toe om te wees wie jy wil wees nie.

Daar is ’n verdere vlak van die sogenaamde ensovoorts. Dit is die deel waarvan min, trouens slegs enkelinge in jou binnekring, kennis dra. Dit is die gevoelens en die vrese en die onsekerhede wat met ons lysies gepaardgaan. Ek is op soek na nuwe werk, maar die vraag waarmee ek worstel, is of ek dit sal kan doen. Ek wil graag ’n beter mens wees, maar wonder of ek oor die nodige mensemateriaal beskik om dit te word. My verborge lysie is dikwels my eie worsteling met die onsekere ek. Vir hierdie worsteling is daar nie goedkoop geneesmiddels nie.

Ervaring leer ons dat ons ook op die onverwagse en die onbeplande moet reken. Ons moet maar reken op gebeure en wedervaringe wat glad nie deel was van ons oorspronklike of selfs ons onsigbare en onmeetbare lysies nie. Die lewe verras ons gereeld, positief sowel as negatief.

Die een werklikheid waaroor ons nooit hoef te wonder nie, is dat God teenwoordig sal wees in ons ooglopende én verborge drome en ideale. Wanneer ons ideale realiseer, staan Hy langs ons om te deel in ons vreugde. Wanneer ons drome misluk en die beproewinge wat enige jaar mag oplewer ons platslaan, dan is Hy ook teenwoordig om ons te troos en te bemoedig. Die omvang en aard van sy teenwoordigheid is soms op die skilderdoek van die lewe sigbaar, en soms moet ons dit in die ensovoorts gaan soek. Geen mens weet wat 2015 gaan oplewer nie. Ons kan egter deurgaans weet Wie in ons gesigsveld gaan wees. Ons kan dit in die geloof en met groot vrymoedigheid glo en bely.

Psalm 93 vertel van moontlike natuurrampe en vyande wat die volk se welsyn kon bedreig.  Hierop antwoord die digter: ...maar hoog bo die geraas van baie waters, hoog bo die golwe van die see, troon die Here in sy koninklike mag (Ps 93: 4).