Die Hervormer

Die Hervormer

AMPTELIKE MONDSTUK VAN DIE NEDERDUITSCH HERVORMDE KERK VAN AFRIKA

 

Redakteur

Ds Willem Sauer


Subredakteurs
Ds Etienne Fourie
Dr Johan van Staden


Produksieredakteur
Mev Tessa Oppermann


Redaksie
Ds Etienne Fourie
(voorsitter)
Dr Anet Dreyer-Krüger
Dr Elritia le Roux

Ds Elmien Knoetze

Mev Christa Clifton
Dr Wouter van Wyk
(sekretaris: SENTIK)

 

Grafies
 Mev Francis Nel

Mnr Hugo van Niekerk


Administrasie
Mev Sanell van Vuuren


Uitgewer
SENTIK
Nederduitsch Hervormde
Kerk van Afrika
Posbus 2368
PRETORIA
0001
Tel 012 322 8885
Faks 012 322 7906
sentik@nhk.co.za

 

By die Hoofposkantoor as
nuusblad geregistreer
ISSN 0259-949X


Individuele intekening

(gedrukte kopie)
R110 vir 11 uitgawes
R15 per individuele eksemplaar

 

Drukkers

Seriti Printing
Pretoria


Die redaksie aanvaar
verantwoordelikheid vir die
inhoud. Menings deur skrywers
uitgespreek, is egter
nie noodwendig die beleid
of standpunt van die
Hervormde Kerk nie.

My onvolmaakte geestelike tuiste

Die bekende skrywer Frederic Raphael het in die artikel Why and why not gepeins oor geloof en verwêreldliking wat oral posvat. Hy meen dat dit beter is om in skeptisisme weg te raak as om vas te val in sekerhede.

Raphael verwys na dogmatiese nutteloosheid wanneer ons God se bestaan wil bewys óf ontken. Hy glo dat niemand ’n ander persoon se reg om in God te glo, of om daardie geloof op ’n spesifieke manier uit te leef, mag wegneem nie. Hy is egter ongemaklik met enige druk wat op mense geplaas word om te glo. Hy sluit selfs kinders wat deur ouers begelei word om te glo, hierby in. Indien ’n teorie (geloof) nie bewys kan word nie, hoe edel dit ook al mag wees of klink, moet mense se vryheid van denke en afleiding gerespekteer word. Hy stel verder dat wanneer ons vasgevang is in ’n bepaalde dogma of geloofskring, ons menslike intellek ingeperk word, ons individualiteit aan bande gelê word en ons onverdraagsaamheid teenoor andersdenkendes merkbaar verhoog.

Heelwat mense sou hulle by hierdie standpunt kon skaar en kon meen dat dit is waarom hulle liefs nie deel wil wees van ’n gestruktureerde en georganiseerde liggaam soos die kerk nie. Elke kerk het immers ’n eie dogma en elke kerk het bepaalde ordereëls wat teologiese nadenke slegs binne bepaalde grense verdra. Min mense hou in hierdie dae daarvan om voorgesê te word. Die groot klem wat op vryheid van denke en spraak geplaas word, verruim immers alle grense.

Dr Barry van Wyk verwys in sy artikel in hierdie uitgawe na die kerk wat meer gefokus is op die instelling en op die fisiese (geboue, en dies meer) as op die boodskap wat ons Here Jesus kom vestig het en wat van liefde aanmekaargesit is. Dalk word die kerk inderdaad onaantreklik wanneer die blye boodskap nie binne haar strukture figureer nie. Die behoefte om uit die strukturele te breek, leef in baie mense se harte. Ook ds Wouter van Wyk verwys in sy artikel na die behoefte aan vryheid waarna elke mens streef. Ds Van Wyk stel dan treffend dat die vryheid juis in Jesus Christus se dade (onder andere sy opstanding uit die dood) te vind is.

Miskien is dit die moeite werd om dié vrae te vra: Waarom beleef soveel mense deesdae die kerk, as draer van Jesus se bevrydende boodskap en as verkondiger van die opstandingsgebeure wat ons selfs van die mag van die dood bevry het, as las en vrag? Waarom ervaar sommige mense die kerk en die kerk se doen en late as intellektueel beperkend?

Dalk het dit inderdaad te make met die ewige stryd om finansiële oorlewing. Talle ampsdraers kla oor die gesukkel om rand en sent bymekaar te skraap. Dit kan ’n groef word wat ons vasvang en inperk. Dalk het dit te doen met die kerk se onvermoë om ’n eeue oue boodskap in ’n moderne konteks te verwoord. Etlike lidmate vlug na skerms (televisie en rekenaar) om antwoorde te kies wat gemaklik by hul persoonlike behoeftes pas, eerder as om met antwoorde wat skynbaar in beton gegiet is, gevoed te word.

Dalk het dit met die kerk se (somtyds) hartseer geskiedenis te make. Daar lê immers by wyse van spreke etlike lyke op die geskiedenispad van die kerk. Hierdie sogenaamde lyke verdryf mense wat na ’n suiwer geestelike en ongebonde tuiste soek. Iemand soos Johann Wolfgang von Goethe, ’n Duitse digter wat in die 18de en 19de eeu geleef het, het op ’n keer gesê dat die ganse kerkgeskiedenis ’n mengelmoes van geweld en dwaling is. Die Amerikaanse komediant en satirikus Lenny Bruce het meer as 50 jaar gelede reeds gesê: Elke dag raak meer mense afvallig van die kerk om na God terug te keer.

Dat die kerk inderdaad nie volmaak was of tans is nie, dat die kerk altyd bly soek na die waarheid en na die opregte uitleef van geloof, kan nie betwyfel of bevraagteken word nie. Dit is ’n gegewe. Miskien daarom dat ons eie Kerk nie gegiet Hervormd is nie, maar dalk eerder Hervormend.

Tog, ten spyte van al bogenoemde argumente en besware, bied die kerk steeds ’n veilige tuiste vir gelowiges om saam te aanbid, saam te dien en saam te worstel. Om ’n kerk te begrawe wat op die onbelangrike fokus en wat tred verloor het met die waarheid en die eietydse, is nie net ’n moontlikheid nie, dit word eerder ’n noodsaaklikheid. Om die kerk sonder meer te begrawe, kan egter nie gebeur nie. Die oproep en eis bly steeds vir elke gelowige om, in ons soeke en worsteling, terug te keer na God se woord en na sy wil, soos ons dit in opregtheid en eerlikheid ontdek en ontgin. Ons vryheid is nie te vind in die grootte van die ruimtes waarbinne ons mág dink en glo nie. Ons vryheid lê eerder opgesluit in ons Here Jesus wat ons van wette en die straf op ongehoorsaamheid daaraan vrygemaak het. Ons vryheid is sigbaar in ’n oop graf in ’n tuin naby Golgota (Joh 19: 41).