Die Hervormer

Die Hervormer

AMPTELIKE MONDSTUK VAN DIE NEDERDUITSCH HERVORMDE KERK VAN AFRIKA

 

Redakteur

Ds Willem Sauer


Subredakteurs
Ds Etienne Fourie
Dr Johan van Staden


Produksieredakteur
Mev Tessa Oppermann


Redaksie
Ds Etienne Fourie
(voorsitter)
Dr Anet Dreyer-Krüger
Dr Elritia le Roux

Ds Elmien Knoetze

Mev Christa Clifton
Dr Wouter van Wyk
(sekretaris: SENTIK)

 

Grafies
 Mev Francis Nel

Mnr Hugo van Niekerk


Administrasie
Mev Sanell van Vuuren


Uitgewer
SENTIK
Nederduitsch Hervormde
Kerk van Afrika
Posbus 2368
PRETORIA
0001
Tel 012 322 8885
Faks 012 322 7906
sentik@nhk.co.za

 

By die Hoofposkantoor as
nuusblad geregistreer
ISSN 0259-949X


Individuele intekening

(gedrukte kopie)
R110 vir 11 uitgawes
R15 per individuele eksemplaar

 

Drukkers

Seriti Printing
Pretoria


Die redaksie aanvaar
verantwoordelikheid vir die
inhoud. Menings deur skrywers
uitgespreek, is egter
nie noodwendig die beleid
of standpunt van die
Hervormde Kerk nie.

Die reg om aanstoot te gee?

Voordat ons praat, moet ons altyd eers vra: Is dit waar? Is dit hoflik? Is dit nodig om iets te sê? Indien die antwoord op enige van hierdie vrae nee is, kan dit die moeite loon om eerder stil te bly.

Immanuel Kant het geskryf dat vryheid van spraak waarskynlik die mees skadelose vorm van vryheid is. Hy het moeite gedoen om veral die verligte regeerders van sy tyd daarvan te oortuig dat hulle hierdie vryheid moet respekteer en akkommodeer. Elkeen se stem is immers belangrik. John Stuart Mill het gesê dat vryheid van spraak en vryheid van uitdrukking een en dieselfde ding is. Dit gaan oor die vermoë en die geleentheid om jouself te laat geld in ’n bepaalde samelewingstruktuur. Hy het dus net so sterk soos Kant gevoel oor die geleentheid om te mag sê wat jy wil en om selfs te handel soos jy goed dink (binne bepaalde parameters natuurlik).

Hulle was dit egter eens dat nie alle woorde en uitsprake onskuldig en heilsaam is nie. Woorde wond dikwels diep en moet daarom op die een of ander manier ingeperk of beheer word ten einde toehoorders en hul reg op waardigheid te beskerm. Hieroor skryf ds Willem Sauer treffend in hierdie uitgawe van Die Hervormer.

Die afgelope paar maande het onheilsame uitsprake en neerhalende woorde ons samelewing ernstig beproef. Daar is uit elke denkbare kring (politieke en vermaaklikheidskringe ingesluit) ten regte of ten onregte (na ons eie mening natuurlik) kwetsende woorde heen en weer geslinger. Of die motiewe polities van aard was en of dit gewoon gebore is uit eie seerkry en daaruit voortspruitende wraak, is nie altyd duidelik nie.  Wat wel duidelik is, is die feit dat die een kwetsende woord ’n volgende ontlok.

Die reg om te mag praat, kan duidelik nooit ’n onbegrensde lisensie insluit om te intimideer, om haat aan te wakker of om te bedrieg nie. Ons kan ook nie woorde in ons midde toelaat wat ander se lewens in gevaar stel nie. ’n Bekende filosoof het gesê: Jy kan nie Brand! uitskree in ’n volgepakte saal nie. Die paniek en die gevaar vir beserings en selfs dood is gewoon te groot. Dit sou waar wees van enige groep of organisasie, hetsy die media of groepe en individue wat in magsposisies is. Woorde is ’n kosbare kommoditeit wat geweeg behoort te word en wat met groot verantwoordelikheid gebruik moet word.

Wat die saak moeilik maak, is dat dit wat vir een mens aanstootlik en verwerplik is, weer gemaklik binne ’n ander een se raamwerk van billikheid val. Wie bepaal dan wat aanvaarbaar is en wat nie? Die konsensus by filosowe soos Kant en veral Thomas Hobbes is dat daar ’n hoër gesag moet wees en dat elke landsburger byna meganies moet inval by die reëls en wette soos neergelê deur daardie gesag. Hobbes gaan verder en meen dat die deursneemens se oordeel onbetroubaar is, aangesien dit deur die onmiddellike (die pyn en vreugde van die oomblik) en eie ideale bepaal word. Boonop is alle boodskappe wat geformuleer word nie ewe duidelik nie en is talle dus oop vir eie interpretasie  – wat verder kan lei tot erge konflik.

Die tydgees waarin ons ons tans bevind, is juis een van sensitiewe en uiters brose verhoudings. Soos ’n familielid dit op ’n keer gestel het: Jy hoef hulle nie kwaad te maak nie, hulle is reeds kwaad. Dit voel soms inderdaad of baie mense by voorbaat kwaad is. Die vonk wat die woede buite beheer laat ontvlam, is dikwels onbenullig klein. Dis miskien om hierdie rede dat Hobbes meen dit is noodsaaklik vir almal om deur die meganika van ’n hoër gesag bestuur en beperk te word. Byna elke bron van mag en gesag se kleivoete word ongelukkig soms té gou sigbaar.

Vir gelowiges kan hierdie hoër gesag net God en sy Woord wees. Dat ons ook hierdie Woord met groot verantwoordelikheid moet benader en deeglik navorsing en nadenke daaroor behoort te doen alvorens ons uitsprake maak, is eweneens waar. Dr Pierre Jacobs roep in sy artikel in hierdie uitgawe elke gelowige op tot ’n Damaskusoomblik, ’n ommekeer. Wanneer dit oor woordgebruik en handelinge gaan, is bekering inderdaad dikwels nodig.
Dalk kan ons tesame met al die oproepe ook waag om die gees van die Woord van God in te adem. Ek kan my nie indink dat God ons ooit sou aanspoor en oproep tot snydende en kwetsende woorde nie. Die gees van die Woord is een van liefde, toenadering, ruimte skep vir mekaar en stil raak. Geen woorde is soms beter as een te veel. Miskien geld dié goue reël voordat ons iemand aanval of op ’n persoonlike aanval reageer: Voordat ons praat, moet ons altyd eers vra: Is dit waar? Is dit hoflik? Is dit nodig om iets te sê? Indien die antwoord op enige van hierdie vrae nee is, kan dit die moeite loon om eerder stil te bly. Ons kan nie sommer uitsprake en veral haatspraak in ’n ander mens se rigting slinger indien ons nie moeite gedoen het om daardie mens te verstaan nie. Ons kan net ’n ander se leefwêreld behoorlik begryp as ons ’n paar tree in daardie skoene gestap het.