Die Hervormer

Die Hervormer

AMPTELIKE MONDSTUK VAN DIE NEDERDUITSCH HERVORMDE KERK VAN AFRIKA

 

Redakteur

Ds Willem Sauer


Subredakteurs
Ds Etienne Fourie
Dr Johan van Staden


Produksieredakteur
Mev Tessa Oppermann


Redaksie
Ds Etienne Fourie
(voorsitter)
Dr Anet Dreyer-Krüger
Dr Elritia le Roux

Ds Elmien Knoetze

Mev Christa Clifton
Dr Wouter van Wyk
(sekretaris: SENTIK)

 

Grafies
 Mev Francis Nel

Mnr Hugo van Niekerk


Administrasie
Mev Sanell van Vuuren


Uitgewer
SENTIK
Nederduitsch Hervormde
Kerk van Afrika
Posbus 2368
PRETORIA
0001
Tel 012 322 8885
Faks 012 322 7906
sentik@nhk.co.za

 

By die Hoofposkantoor as
nuusblad geregistreer
ISSN 0259-949X


Individuele intekening

(gedrukte kopie)
R110 vir 11 uitgawes
R15 per individuele eksemplaar

 

Drukkers

Seriti Printing
Pretoria


Die redaksie aanvaar
verantwoordelikheid vir die
inhoud. Menings deur skrywers
uitgespreek, is egter
nie noodwendig die beleid
of standpunt van die
Hervormde Kerk nie.

Hoop onder die oppervlakte

...deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut (Klaagliedere 3: 22-23)

Gerhard Verdoorn skryf ’n treffende artikel in die dagblad Beeld (5 Januarie 2016) waarin hy die droogte en gepaardgaande ellende met beelde uit die natuur beskryf. Hy verduidelik hoe sekere plante en diere ’n buitengewone vermoë het om in droogtes te oorleef. ’n Haasbolletjie wat byvoorbeeld agter ’n ysterklip skuil en die mistigheid van die vroeë oggend benut om doudruppels vir oorlewing op te vang. ’n Veldrot wat rustig sy pels kam asof môre nie nog ’n dag is nie. By die ingang van sy gat lê ’n klompie droë saadjies wat hy versamel het om die droogte te oorkom.

Verdoorn skilder ’n ander deel van die wêreld, een wat dalk in onlangse tye by ons verbygegaan het. ’n Werklikheid waarbinne alles normaal voortgaan te midde van die droogte. ’n Wêreld wat onder die oppervlak van die normaal sigbare lê. Ons ervaar dit nie altyd nie. Ons word versmoor deur tonele van verskroeiende plante en graan, sterwende vee en magtelose hande wat aan moeggesukkelde arms hang.

Verdoorn meen die enigste wesens wat tydens droogtes moed verloor, is maar ons, die mense. As ons van ver af oor die vlaktes, vallei, berge en klowe staar, sien ons beswaarlik die beloftes van hoop vir nuwe lewe. Hy skryf verder: Dan kom daar ’n dag wanneer die donkerblou wolke soos troppe wilde perde oor die veld sal jaag en met blits en donder die lewe op aarde weer sal wakker skud. Daar is lewe, daar is hoop. Ons moet net moed hou.

Vir ons lê ’n klomp uitdagings voor in die komende jaar: Buiten die droogte en veral die ingrypende gevolge daarvan, is daar boonop die droewige ekonomiese klimaat, die waarde van die rand wat erg val, politieke onrus en onnadenkende optrede van politici, kwetsende opmerkings van mense oor alle grense heen wat, veral in onlangse tye, soos koeëls uit verskillende loopgrawe gefluit het.

Dit en vele ander sake gooi ’n skadu oor die kinderspore van die nuwe jaar. Alle aanduidings is daar dat dit nie makliker gaan word algaande die jaar vorder nie. Ons beleef ál hierdie kommer en onsekerhede in byna elke gemeente, elke huishouding. Wêreldwyd raak die ellende trouens groter. Die sogenaamde veilige hawens van vroeër, naamlik dele van Europa, die VSA en ander, worstel met hul eie uitdagings. Die gebiede wat vroeër as ideale en alternatiewe tuistes vir vele mense gedien het (sou die ellende in hul eie land totaal ondraaglik raak), is nou ook besoedel met die groter krisisse van die wêreld. Europa word uit verskeie oorde oorvloei met vlugtelinge en moontlik terreurmakers. Die VSA bly ’n teiken vir terroriste. So kan ons voortgaan en die lysie tot vervelens toe vol skryf. Dit voel soms inderdaad of die kissie van Pandora, die nuuskierige vrou uit die Griekse mitologie, vroeg in 2016 oopgemaak is.

Dalk is dit goed om die woorde wat in Klaagliedere 3: 21-23 vervat is, in ons nuwejaarsgedagtes te hou: Maar dit sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. Ook vers 26: ...dit is goed om geduldig te wag op die hulp van die Here. Die agtergrond van Klaagliedere is die val van Jerusalem in 586 vC. Die stad het in puin gelê. Die tempel, wat vir die volk ’n aanduiding van God se teenwoordigheid was, was vernietig. Trouens, al die pilare waarop die volk se geloof destyds gestaan het, was daarmee heen. Tog slaag die skrywer daarin om bo en buite die normale, die sigbare hoop, as’t ware oor die puinhope heen te sien. Tog beweeg hy buite die grense van die tyd en visualiseer reeds iets van die uitkoms wat, so het hy geglo, sou kom. Ons ken die geskiedenis: Die uitkoms en bevryding het inderdaad ongeveer 50 jaar later gekom. Die wiel het gedraai en die genade was tasbaar.

In watter vorm en op watter tydstip, en óf bevryding (ons idee daarvan) uit die moeras van spanning gaan kom, sal ons nog moet sien. Vir geloofsdoeleindes is die aard en tyd van uitkoms dalk nie so belangrik nie. Soos die haasbolletjie of die veldrot en soveel ander wat kan moed hou deur die droogtes van die lewe, word ons opgeroep om moed te hou. Om so rustig en normaal as wat moontlik is, te lewe. Om dit boonop te doen met ’n diepe bewustheid van God wat aan die stuur van sake staan.

Hierdie jaar is reeds weer ’n jaar van genade. Dit is ’n jaar waarin ons die geleentheid sal hê om ons Heer se dade en bemoeienis met ons op verrykende maniere te ervaar. Droogtes en ellende kom en gaan, maar die Here en sy teenwoordigheid is van ewigheid tot ewigheid.