Die Hervormer

Die Hervormer

AMPTELIKE MONDSTUK VAN DIE NEDERDUITSCH HERVORMDE KERK VAN AFRIKA

 

Redakteur

Ds Willem Sauer


Subredakteurs
Ds Etienne Fourie
Dr Johan van Staden


Produksieredakteur
Mev Tessa Oppermann


Redaksie
Ds Etienne Fourie
(voorsitter)
Dr Anet Dreyer-Krüger
Dr Elritia le Roux

Ds Elmien Knoetze

Mev Christa Clifton
Dr Wouter van Wyk
(sekretaris: SENTIK)

 

Grafies
 Mev Francis Nel

Mnr Hugo van Niekerk


Administrasie
Mev Sanell van Vuuren


Uitgewer
SENTIK
Nederduitsch Hervormde
Kerk van Afrika
Posbus 2368
PRETORIA
0001
Tel 012 322 8885
Faks 012 322 7906
sentik@nhk.co.za

 

By die Hoofposkantoor as
nuusblad geregistreer
ISSN 0259-949X


Individuele intekening

(gedrukte kopie)
R110 vir 11 uitgawes
R15 per individuele eksemplaar

 

Drukkers

Seriti Printing
Pretoria


Die redaksie aanvaar
verantwoordelikheid vir die
inhoud. Menings deur skrywers
uitgespreek, is egter
nie noodwendig die beleid
of standpunt van die
Hervormde Kerk nie.

Wêreld van konflik – hoop op vrede

Vele individue en groepe het deur die eeue gepoog om ’n vreedsame leefwêreld vir mense daar te stel. Party het politieke stelsels of ideologieë gebruik om hierdie harmonieuse milieu te probeer skep. Ander het weer godsdiens gebruik.

Karl Marx was van mening dat daar deur die geskiedenis altyd konflik tussen verskillende klasse was en dat dit waarskynlik in die toekoms ook so sal wees. Die rede hiervoor is dat diegene wat beheer het diegene wat sonder mag is deurgaans sal oorheers, en laasgenoemde sal altyd afgunstig en krities wees teenoor die maghebbers. Dit sou een van die beweegredes word vir die ideaal van ’n klaslose, sosialistiese bestel waarin almal gelyk kon wees en almal dieselfde behandel kon word. In hierdie stelsel sou daar nie besitters wees nie. Die Staat sou alles besit en sou toesien dat alle onderdane gelyke voordeel uit die stelsel trek. Dit het om verskeie redes gefaal.

Ander het weer godsdiens gebruik as vaartuig om ’n harmonieuse leefwêreld daar te stel. Die bedoeling was om almal onder die een groot Hoof te verenig en in verdraagsaamheid met mekaar te laat leef. Die eise wat mense stel, die aandrang op eie denke wat voorkeur moet geniet en vooroordele waarvan min mense op die oog af kan vrykom, het egter telkens verhoed dat hierdie ideale realiseer. Trouens, deur die eeue het die teenoorgestelde dalk eerder gebeur. Oorlog in plaas van vrede. Onmin in plaas van harmonie. Ook hierdie soeke na eenheid en vrede het dus as gevolg van die verskeidenheid van godsdienste en die uiteenlopende denke daarrondom nooit tot sy reg gekom nie. Selfs binne elke godsdienstige of kerklike groep is daar soveel diversiteit dat vrede in ’n bepaalde kring moeilik haalbaar blyk te wees. Ons eie Kerk se onlangse geskiedenis is ’n hartseer herinnering hieraan.

Daar bestaan geen twyfel nie dat konflik en wrywing tussen individue en groepe ’n werklikheid is waarvan die mensdom skynbaar nie kan ontsnap nie. Moontlik is dit maar net ’n simptoom of eienskap van die menslike natuur. Selfs in die vroeë kerk waar groot opgewondenheid geheers het oor ’n nuwe bedeling in Jesus Christus, kon die gemeentes nie onderlinge spanning en verdeeldheid vryspring nie. Die gemeente in Korinte verdeel hulself in twee groepe: die Paulusgroep en die Apollosgroep.

Paulus voer aan dat albei groepe se probleem wêreldsheid was. Hul koppeling aan aardse dinge veroorsaak spanning en verdeeldheid. Dit is nie heeltemal duidelik of hul verskille gebore is uit uiteenlopende teologiese standpunte en of dit suiwer oor persoonlike voorkeure gegaan het nie. Heel waarskynlik ’n kombinasie van die twee. Die werklikheid was egter spanning wat volgens die apostel Paulus skadelik vir die groei en vooruitgang van die kerk was. Diegene wat so optree, is soos mense wat steeds babakos en nie vaste kos nie eet. Hiermee sê die apostel dat die nodige diepte in hul geloof ontbreek.  
Ds Anet Dreyer-Krüger wys duidelik in haar bydrae oor die bestuur van diversiteit hoe dit ook in kleiner kringe epidemiese afmetings kan aanneem. Sy gebruik die huisgesin as voorbeeld vir die soeke na verdraagsaamheid.

Eers wanneer ’n mens nié afgunstig is op ’n ander nie, wanneer jy nié jou eie belange op elke manier denkbaar wil dien nie, eers wanneer jy daarin slaag om die groter prentjie raak te sien en die diens aan God en sy koninkryk voorop kan stel, word dit moontlik en makliker om konflik te bestuur. Dan eers slaag ’n mens daarin om vaste kos in te neem by wyse van spreke. Eers dan is dit moontlik om bowêrelds te wees.
Jesus se optrede op aarde was nie net in ’n fisiese sin van die woord bowêrelds nie. Hy het wel afgestorwenes uit die dood opgewek en siekes uit hul siektetoestande bevry. Hy het egter verder alle mense ingesluit in sy liefdesboodskap. Geeneen is op grond van ekonomiese of sosiale stand uit sy kring gelaat nie. Hy het bo die wêreldse denke en standaarde geleef en opgetree. Ironies genoeg het hierdie manier van dink en doen weer eens konflik geskep – dit het eindelik daartoe bygedra dat Hy gekruisig is.

Sou die teendeel van konflik in hierdie spesifieke konteks moontlik beskryf kon word as die raaksien van ’n ander mens se standpunt en die akkommodering daarvan in jou eie ruimte? Sou die teenpool vir konflik wees dat ons vrede maak met die feit dat ons medeverantwoordelik is vir die verligting van ander se nood en die dra van hul seer? As dit waar is, plaas dit ’n geweldige verantwoordelikheid op elke gelowige se skouers.

Lees gerus in hierdie uitgawe hoe ds Colin Hertzog hieroor ’n gedagte in ons midde laat. Deur nuut te dink oor eie gemeentelike finansies, kan ons ’n wesenlike verskil in ’n ander een se lot teweegbring. Dit vra egter bowêreldse denke van ons. Om die bowêreldse te bedink en veral te bedryf, voel dikwels buite ons bereik. Indien ons tog daarin kan slaag om dit reg te kry, lyk die begrip konflik dalk anders.

Spanning en konflik het vele oorspronge en gronde; versoening en ’n gees van omgee se oorsprong is waarskynlik net liefde, soos Jesus Christus dit geopenbaar het.