Die Hervormer

Die Hervormer

AMPTELIKE MONDSTUK VAN DIE NEDERDUITSCH HERVORMDE KERK VAN AFRIKA

 

Redakteur

Ds Willem Sauer


Subredakteurs
Ds Etienne Fourie
Dr Johan van Staden


Produksieredakteur
Mev Tessa Oppermann


Redaksie
Ds Etienne Fourie
(voorsitter)
Dr Anet Dreyer-Krüger
Dr Elritia le Roux

Ds Elmien Knoetze

Mev Christa Clifton
Dr Wouter van Wyk
(sekretaris: SENTIK)

 

Grafies
 Mev Francis Nel

Mnr Hugo van Niekerk


Administrasie
Mev Sanell van Vuuren


Uitgewer
SENTIK
Nederduitsch Hervormde
Kerk van Afrika
Posbus 2368
PRETORIA
0001
Tel 012 322 8885
Faks 012 322 7906
sentik@nhk.co.za

 

By die Hoofposkantoor as
nuusblad geregistreer
ISSN 0259-949X


Individuele intekening

(gedrukte kopie)
R110 vir 11 uitgawes
R15 per individuele eksemplaar

 

Drukkers

Seriti Printing
Pretoria


Die redaksie aanvaar
verantwoordelikheid vir die
inhoud. Menings deur skrywers
uitgespreek, is egter
nie noodwendig die beleid
of standpunt van die
Hervormde Kerk nie.

Geskep as God se verteenwoordiger

As die son oor my vloer in die môre kom loer
en die dou van my lippe kus,
dan kyk ek net stom met ’n glimlag om
en lê maar weer stil in my rus.
(Uit: Die vlakte van Jan FE Celliers)

Kort voordat ek en my vrou onlangs op ’n Kaapse vakansie vertrek het, het vriende ons helderheid van verstand bevraagteken. Die Kaap in die winter! het een verbaas uitgeroep.  Ten spyte van al die waarskuwings was dit eindelik een van die mees onbevange stukkies vreugde ooit. Ons kon die wonder van ons land se natuurskoon sonder voorwaardes geniet.  Dit in sigself is reeds besonders. Ek kan my kwalik herinner wanneer laas ek iemand sonder  voorwaarde hoor sê het: Ons leef in ’n wonderlike land. Ons hoor veel eerder dat ons in ’n wonderlike land leef, net jammer... Hierop volg ’n rits redes waarom ons stukkie paradys dít waarskynlik nooit in die volste sin van die woord kan wees nie.

Ek het onlangs eers begin om ekopoësie te lees en te waardeer. Dit beteken natuurlik nie dat dit ’n nuwe kunsvorm is nie. Trouens, digters soos John Donne het al in die 17de eeu oor die natuur en die mens se verhouding daartoe geskryf. In een so ’n gedig gebruik hy die mooi begrip hulp-keiser om die mens se verhouding tot die natuur te beskryf. Ons is na sy oordeel mede-regeerders oor die natuur. Dit pas natuurlik by die beeld wat Genesis 1 aan ons voorhou. God maak ons verantwoordelik vir die natuur. Ons is volgens Genesis sy verteenwoordigers met ’n bepaalde opdrag rakende die skepping.

Ekopoësie het deur die jare meer bekend en bemind geraak. Verskeie begaafde digters het hierdie kunsvorm omarm en uitgebou, veral gesien teen die agtergrond van die ekokrisis in die wêreld. Een van die belangrike feite rondom ekodigters is dat hulle nie van die werklikheid geskei kan word nie. Ekodigters word gebind aan die omstandighede waarin hulle hulself bevind. Hulle vertel van hul liefde vir die natuur en hoe noodsaaklik dit is om die skepping wat aan ons as hulp-keisers of rentmeesters toevertrou is, te beskerm en te bewaar. Hierdie passie kom egter tot sy reg vanuit ’n spesifieke en unieke leefwêreld.

Een van ons ekodigters, Martjie Bosman, skryf soos volg:

Om my klein huis van klinkersteen
het ek vroeg reeds rye rose geplant
wat soggens met hul helder kleur
gloei teen die muur se noordekant.
Miskien is daar te min van roosmaryn
om my te verweer teen die vaal ding
wat snags nadat die motorhek vir laas toeklap
deur die dun hout van die voordeur in wil dring.

Die digter se liefde vir haar persoonlike stukkie natuur word treffend uitgedruk. Haar stukkie paradys, haar tuintjie, is kosbaar. Sy skets egter ook ’n ander kant van die muntstuk. Haar natuurliefde word deur die harde en ongenaakbare werklikheid besoedel. Die prag van die natuur word oorskadu deur die vrees vir indringers, wat die dun hout – die karige beskerming – wat haar huis teen misdadigers bied, wil deurbreek.  

Dit klink bekend vir die meeste van ons. Van die hipnotiese roering by ons kusstreke tot die woestynagtige Karoo met sy matelose kalmte, bied elke deel van ons land sy eie bekoring en byna elke deel het ’n voorwaarde aan sy skoonheid gekoppel.

Ons kan ons ook nie losskeur van die werklikheid nie. Onder andere omdat ons tyd en plek bederf word deur sisteme waar normale, alledaagse menswees nie maklik is nie. Die dienste waarmee ons tevrede moet wees, is gebrekkig. Ons lees daagliks van kragonderbrekings. Ons hoor telkens van verkrummelende infrastrukture. Ons word lamgelê deur stakings en onbillike eise. Voeg daarby misdaad wat voortdurend ons spanningsvlakke opjaag en die natuur, die tuin by wyse van spreke, verloor iets van sy betowering. Ons loer eerder oor ons skouer as wat ons na die pragtige sonsondergang kyk. Ons is meer op die uitkyk vir potensiële rowers as vir die keur uit die plante- en diereryk wat by ons verbyskuif.

Daarby het die verwaarlosing en vernietiging van ons natuurskoon alledaags geword. Ons kan moontlik vooruitgang daarvoor blameer. Rian Malan sing hiervan in die liedjie Eens: Eens het hier ’n wilde vlei gestaan, waar flaminke soos wolkerose in die lug opgaan. Nou is dit ’n mooi gholfbaan. Eens het hier ’n groen woud gegroei, bontebok en tarentaal, geelhoutbome wat die hemel haal; nou is dit ’n groot “highway” – bring vooruitgang vir die hele kontrei. Eens het hier ’n skoon rivier geloop; wilgerboom en donker kuil waar likkewaan en geelvis skuil. Almal doodgegaan...

Deur die bewaring van dit wat aan ons as mede-keisers toevertrou is, kan ons ’n verskil maak. Deur ons stem te laat hoor teen die misbruike, nalate en misdade van ons dag, kan ons druk plaas op instansies om te verbeter. Ons het die geleentheid om elkeen ’n konstruktiewe bydrae tot ons leefwêreld te maak. Sommige mense doen dit deur gebare.  Begaafde digters en sangers, soos Martjie Bosman en Rian Malan, stimuleer en aktiveer ander mense deur woorde wat roer. Die taak en verantwoordelikheid van lidmate en landsburgers bly steeds om die wêreld met al sy skatte in hul omgee-visier te hou.