Die Hervormer

Die Hervormer

AMPTELIKE MONDSTUK VAN DIE NEDERDUITSCH HERVORMDE KERK VAN AFRIKA

 

Redakteur

Ds Willem Sauer


Subredakteurs
Ds Etienne Fourie
Dr Johan van Staden


Produksieredakteur
Mev Tessa Oppermann


Redaksie
Ds Etienne Fourie
(voorsitter)
Dr Anet Dreyer-Krüger
Dr Elritia le Roux

Ds Elmien Knoetze

Mev Christa Clifton
Dr Wouter van Wyk
(sekretaris: SENTIK)

 

Grafies
 Mev Francis Nel

Mnr Hugo van Niekerk


Administrasie
Mev Sanell van Vuuren


Uitgewer
SENTIK
Nederduitsch Hervormde
Kerk van Afrika
Posbus 2368
PRETORIA
0001
Tel 012 322 8885
Faks 012 322 7906
sentik@nhk.co.za

 

By die Hoofposkantoor as
nuusblad geregistreer
ISSN 0259-949X


Individuele intekening

(gedrukte kopie)
R110 vir 11 uitgawes
R15 per individuele eksemplaar

 

Drukkers

Seriti Printing
Pretoria


Die redaksie aanvaar
verantwoordelikheid vir die
inhoud. Menings deur skrywers
uitgespreek, is egter
nie noodwendig die beleid
of standpunt van die
Hervormde Kerk nie.

God teenwoordig en in beheer

...en snags sal die maan jou nie kwaad doen nie. (Psalm 121: 6)

Ek het die afgelope wintervakansie die voorreg gesmaak om op die stoepie van ’n vakansiehuis te sit en my te verkyk aan die buitengewone prag van ’n volmaan wat die hemelruim versier. Voor die maan het ’n paar wolkies onheilspellend en langsaam verbygeskuif.

Dit het my onwillekeurig weer laat dink aan ’n familielid wat jare gelede reeds oorlede is. Sy het telkens onrustigheid ervaar wanneer die volmaan sy gesig kom wys het en was vas oortuig dat die verskynsel soms vreemde gedrag by haar man veroorsaak het. Wat die aard en omvang van sy beweerde vreemde gedrag was, kon ons as kinders nooit in besonderheid vasstel of verstaan nie. Dit was waarskynlik nie vir ons brose en naïewe ore geskik om te hoor nie.

Sy was natuurlik nie die enigste persoon wat geglo het dat die maan vreemde dinge aan ’n mens doen nie. Sy het haar in goeie geselskap bevind. Die Griekse filosoof Aristoteles en ander in sy tyd het geglo dat die menslike brein wel deur die maan beïnvloed word. Die rede, so het hulle geredeneer, het te make gehad met die hoë voginhoud van die menslike brein.  Indien die maan die beweging van groot waterliggame kon beheer, sou dit vanselfsprekend so wees dat die maan ook die grootste bron van vog in die menslike liggaam, die brein, op die een of ander misterieuse wyse kon raak.

So onlangs as 1996 was daar weer wetenskaplikes wat verdere bewyse vir hierdie teorie ter tafel gebring het. In 2007 het die polisie in die Verenigde Koninkryk addisionele beamptes ontplooi om die verhoogde misdaadsyfer, selfmoordgevalle, gesinsgeweld en ander vreemde ge-beure tydens volmaan te hanteer. Aldus die German Journal of Psychiatry (2006) glo ’n groot persentasie van gesondheidswerkers dat die maan wel menslike gedrag beïnvloed. Dienooreenkomstig word meer personeellede beskikbaar gestel tydens volmaan.
Die meeste wetenskaplikes se konsensus hieroor is egter eerder dat die brein geslote en besonder klein is en dus nie deur die maangetye beïnvloed kan word nie. Trouens, die meeste wetenskaplikes beskou dit as ’n belaglike mite.

Die maan en die invloed van die maan op ’n mens se welsyn was in die Bybelse tyd ’n werklikheid in gelowiges se gedagtes. In die tyd toe Psalm 121 geskryf is, was daar ook ’n vaste geloof dat die maan ’n mens se gedrag kon bepaal en dan wel op ’n negatiewe wyse. Soos die son fisiese skade aan jou liggaam kan veroorsaak in die vorm van sonbrand of dehidrasie, so sou die maan geestelike of emosionele skade kon veroorsaak. Die Engelse woord lunatic wat in ons tyd vertaal word met ’n vorm van geestesversteuring, het sy oorsprong by die Latynse woord luna wat maan beteken.

Die oorkoepelende tema van Psalm 121 is beskerming. Die digter is nie bekommerd oor die son of maan of enige ander dreigende mag nie. In God se teenwoordigheid vind hy vrede.  Geen gevaar, werklik of fiktief, sou oor hom die oorhand kry nie. Hy het gewoon na bo gekyk en kalmte gevind.

Die beeld wat in elkeen van ons se gedagtes oor God leef, het waarskynlik vele ooreenkomste aangesien ons tog dieselfde Bybel lees. Dit bly Woord van God en Woord oor God. Hierdie uitgawe van Die Hervormer herinner ons egter daaraan dat daar ’n wye verskeidenheid van beelde is wat dalk onderontgin en dalk selfs onontdek is. God die moeder, God die kwesbare. Dit is maar twee van baie perspektiewe wat dalk nog ontdek, ontwikkel en bedink kan word.

In al hierdie pogings van mense om iets van God se wese en sy betrokkenheid in ons lewens raak te vat, vind ons telkens die een gemeenskaplike faktor: God bring kalmte en vrede in ons midde. God versorg, en sy liefde is van so ’n aard dat ons sonder vrees en onsekerheid die toekoms kan betree. Hierdie werklikheid is waar vir jonk en oud, ongeag die omstandighede.  

Dr Willie Strydom skryf van die hartseer van egskeidings en die impak wat dit op kinders se lewens, veral hul geloofslewens, kan hê. Ons Godsbeeld, ons omstandighede, ons tydgees en ons kennis van die wetenskap of dalk die gebrek daaraan, bepaal nie die kalmte al dan nie wat ons by God kan vind nie. Dit kanselleer nie sy teenwoordigheid nie. Ons kan eerder daaraan dink dat sy teenwoordigheid gewoon meer forums vind waarop dit teregkom. Vir die digter van Psalm 121, soos vir elke gelowige, was dit en is dit ’n werklikheid en ’n sekerheid in ’n onseker wêreld.

Miskien daarom dat ek vreesloos op die stoep na die volmaan kon kyk in verwondering oor die toneel wat voor my afgespeel het, en dit gewoon as nog ’n glimmering van God se ongelooflike skeppingswerk kon waardeer.