Die Hervormer

Julle is my getuies

... julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld. (Handelinge 1: 8)

Lees Handelinge 2: 1-13

Dit was baie maklik om Jesus na te volg toe dit goed gegaan het, toe Jesus daar was om leiding te gee en self die inisiatief te neem. Hulle het alles vir Hom gelos: hul werk, families en vriende. Alles op die belofte van die nuwe koninkryk wat hulle saam met Hom sou oprig.

Die bietjie ontberings wat hulle wel moes verduur, kon hulle vat!  Dit was die moeite werd, want daar het iets groots vir hulle gewag. Hulle het ’n aardse koninkryk verwag, met Jesus as die koning en hulle in gesagsposisies.

Maar: Volg is baie makliker as om gevolg te word. Dit is baie minder moeite om te volg.

Jesus vaar voor hul oë op hemel toe. Hulle is wéér alleen. Alles is net té oorbekend: verwarring in hul gemoed; onvervulde drome; raaisels oor die toekoms. Skielik moes hulle vir hulself begin dink. Skielik was Hy nie meer daar om te sê maak of dink so en so nie. Hulle is alleen agtergelaat om in hierdie bitter deurmekaar tyd nie net sin te maak nie, maar meer belangrik, ook leiding te gee.

Hierdie groepie verskrikte dissipels moes nie meer net vir hulself dink nie. Hulle word skielik apostels na wie ander hooplose, verskrikte, teleurgestelde mense kyk vir leiding en antwoorde.

Toe gebeur Handelinge 2: 1-13: Vir hierdie moeë, keer op keer teleurgestelde mense, nog opdragte. Nee, ons is nou klaar... Maar God luister nie!

Natuurlik het die dissipels en die gemeente van Jerusalem se omstandighede verander die dag nadat die Heilige Gees uitgestort is. Hul taak en verantwoordelikheid het uitgebrei. Geweldig uitgebrei: Waar hulle in die verlede Jesus gevolg en gehelp het, passief toegekyk het, het die voortbestaan van die verkondiging nou geheel en al van hulle afgehang. Hulle kon nie nou meer toeskouers wees nie.

Maar, die belangrike: Hulle het nuwe krag ontvang om dit wat op hul pad kom te verstaan, te aanvaar en te verwerk. Wanneer God mense roep en stuur, vereis dit natuurlik moeite en opoffering!

Ons leef ook nou in 2019 in ’n wêreld waar dit lyk of Christus opgevaar het en die paar van ons wat oorgebly het, alleen agtergelaat het. Oral rondom ons is ’n wêreld wat nie meer lus is vir God en die kerk nie. Die slagspreuk van die kerk en godsdiens het woorde geword soos postkerklik, buitekerklik, agnosties, gee-nie-meer-om-nie, krimpende getalle, koudheid, wêreldgelykheid, nie meer relevant nie...

Voordat ons wat nog oor is in moedeloosheid verval en ook wil opgee of weghardloop: Natuurlik was dit 20, 30 jaar gelede makliker om kerk te wees; makliker om ’n Christen te wees; makliker om beginsels te hê. (Dit was amper soos dit was toe Jesus nog by sy dissipels was.) Nou voel dit of Hy opgevaar het en ons alleen agtergelaat het.

’n Dokter is op die nodigste daar waar die siekte die felste is. Is ons as kerk en gelowiges nie nou juis in hierdie wêreld ongelooflik veel nodiger as 20, 30 jaar gelede nie?

Kort na daardie dag toe God sy Gees uitgestort het in Jerusalem, was die duiwel los met die vervolging van die gelowiges. Maar God het ook daarmee ’n plan gehad: So sou sy kerk versprei word, waar gelowiges ook al gekom het en kragdadig getuig het. En Hy het hulle ook toegerus met vaardighede wat hulle daarvoor kon gebruik.

Miskien moet ons as kerk, predikante en ampsdraers, lidmate, moedeloses en hooploses, ophou kla oor dit wat was, dit wat ons verloor het, dit wat van ons weggeneem word en die aanslae teen ons. Miskien is dit nou die tyd om kragdadig op te staan vir Hom in wie ons glo, en ons werk begin doen. Of gaan ons wag tot die klippe uitroep?