Die Hervormer

Maak die Kersevangelie enige verskil?

Gelukkig is elkeen wat nie aan My begin twyfel nie (NAV Lukas 7: 23); [wat nie aan My aanstoot neem nie – Direkte Vertaling]

Lees Lukas 7: 17-23

 Het Jesus se koms na hierdie wêreld op niks uitgeloop nie, was dit ’n mislukking? Dit was klaarblyklik wat in Johannes die Doper se gemoed as worsteling rondgerol is. Dit was nie ’n vraag uit ongeloof nie. Inteendeel, dit het voortgevloei uit sy diep en ernstige gedagtes oor godsdiens en oor hoe God se gestuurde Een sake in die wêreld moes kom regruk. Hy het gedink die Een sou kom as regter wat met vuur doop; met ’n skop in sy hand die dorsvloer kom skoonmaak en die kaf met onblusbare vuur verbrand; die vernietigende byl wees om onvrugbare bome uit te kap!

Daarom stuur hy vanuit sy gevangeniskrot met van sy volgelinge die vraag na Jesus. Ja, hy het ook die berigte gehoor oor alles wat Jesus gesê en gedoen het, en hoe Hy aangesluit het by die profetiese woorde van Jesaja daar in die sinagoge in Nasaret (Luk 4: 16-21), maar was dit dan nou al wat moes gebeur? Die antwoord wat hy ontvang, bied ook niks nuuts wat hy nie reeds gehoor het en van geweet het nie. Trouens, dit moes vir Johannes soos ’n dubbele beproewing getref het: Waar is die kragtige oordeel oor al die onreg, en gaan dit net oor deernis met al die nood van mense, en wat nog verder oor die belofte van Jesaja dat daar vrylating uit die gevangenis sal kom? Moes hy maar in die tronk bly sit terwyl die goeie nuus (evangelie) aan die armes verkondig word? Was/is Hy die Een na wie se koms hulle so hartstogtelik uitgesien het, of moet daar op ’n ander een gewag word?

Ken ons ook besondere verwagtinge wat met God en sy beloofde Verlosser saamhang? Ons is weer in die feestyd waar die kerke ook elke jaar ’n besondere toespitsing beleef op die boodskap van die koms van Jesus na hierdie tranedal. Dit gaan gepaard met allerlei verwagtinge.

Daar word telkens gespeel met al die mooi prentjies van hoe dit beter kan gaan in mense se lewens. Daar is verbeeldingsvlugte van idilliese gesinsvreugde, oorvloed van lig en liefde wat mense sal omring, uitreiking na behoeftiges en utopiese verwagtinge van vrede op aarde. En dan tref die harde werklikhede en word ons oorval met berigte van gebroke verhoudings en gesinsgeweld, armoede en broodgebrek wat toeneem. Ons sien veel meer van vooroordele, agterdog, haat en onvrede wat rondom ons toeneem.

Verstaan ons iets van Johannes se probleem? Kom van sy vrae en angs nie ook in ons gemoedere op nie? Maak die Kersevangelie dan geen verskil aan die omstandighede wat ons omring nie? Hoe raak dit ons geloof en, selfs ondenkbaar, kan dit nie aanleiding gee dat daar aanstoot geneem word aan Jesus nie? Kon Hy darem regtig nie met ’n kragtiger hand ’n verskil kom maak het aan al die onreg en sonde nie? Was Hy toe werklik die Een wat sou kom, of moet daar op ander maniere antwoorde gevind word op al die probleme?

In Jesus se antwoord op Johannes se vraag hoor ons sy selfgetuienis. Die heilsprofesieë van Jesaja het wel in Hom in vervulling gegaan, maar op ’n verborge en indirekte manier. Hy het met sy lewe, woorde en dade die wil van God tot uitdrukking gebring. Dit is bevestig met sy menswording. Hy het in die volste sin medemens geword en het met sy dood en oorwinning mense in nuwe verhoudings met God gebring. Hy het aan armes die evangelie gebring, sodat hulle/ons nooit sonder God hoef te wees nie – selfs nie in ons diepste nood nie.

Maar Hy stel ook ’n eis: Ons kan geseënd en gelukkig wees indien ons nie aan Hom begin twyfel of aanstoot neem nie. Dan word ons deel van sy opdrag in die wêreld, die missie waarvoor God Hom gestuur het. Ons word geroep om die verskil te maak waarna ons so sterk verlang: om met deernis, sorg en liefde die nood rondom ons raak te sien en met woord en daad die blye Boodskap van God se verlossende, heelmakende liefde met elkeen op ons pad in die wêreld te deel.