Die Hervormer

Ek wag op die Here

Ek wag op die Here, meer as wat die wagte op die môre wag... (Psalm 130: 6)

Lees Psalm 130: 1-6

Om te wag, kan somtyds uitmergelend wees, veral wanneer jy haastig is. Die gewag in ’n ry by die lisensiekantoor of in die verkeer het ’n manier om jou energie te dreineer. Dit breek somtyds ’n mens se moed wanneer jy wag en wag terwyl die horlosie die minute aftik. Niemand hou van wag nie. Wat wag nog erger maak, is wanneer jou verwagting om gehelp te word nie goed is nie. Ongeduld en wag gaan nie saam nie. 

Daar is egter groter en belangriker dinge om voor te wag as om by die lisensiekantoor gehelp te word. As gelowiges leef ons met die verwagting van die wederkoms van Christus. Vir meer as 2 000 jaar wag die kinders van die Here dat Hy moet terugkom. Beproewings, versoekings en daaglikse uitdagings bring mee dat ons met ’n gespanne verwagting leef ten opsigte van die wederkoms van Christus. Die vraag is: Wat doen ons in afwagting op die wederkoms? Wat gebeur met ons tussen die hemelvaart en die wederkoms?

Die pelgrim wat Psalm 130 geskryf het, gee ’n dieper perspektief op wag. Hy skryf vanuit ’n situasie van intense nood. Hy bevind hom in die donker dieptes wat deur sy eie sondigheid verander is in ’n situasie van verlorenheid en moedeloosheid. Bewus van sy eie gebrokenheid, roep hy na die Here. Meer as net roep: Hy bely dat hy op die Here wag. Hy wag nie maar net nie, hy wag op die Here. Hy wag op die ingrype van die Here in sy lewe. Hy wag dat die Here sy lewe nuut sal maak.

Soos wat wagte die donker nag trotseer, so het die pelgrim die donker van sy lewe getrotseer. Hy het egter geweet dat die donker van die nag verby sou gaan, en daarom kon hy hoopvol wag dat die nuwe dag sou deurbreek. Soos wat die wagte wakker en waaksaam moet wees, so was die pelgrim ook wakker en waaksaam om nie oorweldig te word nie deur die ellende van sonde wat soos diewe in die donkerte verwoesting saai. Soos wat die nuwe dag lig sou bring, so wag die pelgrim dat die Here se ingrype verandering bring.

Ons is ook pelgrims op ’n pelgrimstog na Christus se wederkoms. Ons geloofsreis neem ons somtyds deur die dieptes van ellende, wat deur die sonde en die gevolge daarvan vererger word. Die gevaar waaraan ons blootgestel is, is dat die donkerte van skuldgevoel en moedeloosheid ons so kan oorweldig en verlam dat ons nie opgewasse is teen die vernietigende mag van die sonde nie. Op ons lewensreis sien ons langs die pad mense wat moeg en moedeloos geword het, vir wie die wag en die reis te lank geword het.

Ons  leef  egter met die verwagting van hoop wat in Christus alleen geanker is. Die inhoud van ons verwagting is dat ons deur Christus alleen, die genade ontvang wat nodig is om te lewe. Christus het reeds die sonde en die dood oorwin, en Hy gee sin en betekenis aan ons tydelike en aardse lewe. Meer as dit, Christus gee ook aan ons die sekerheid van die ewige lewe.

In ’n verwarde en deurmekaar wêreld moet ons doelgerig wag op Christus alleen. In die Woord alleen vind ons die rigting om op die smal pad te wandel, en dit is die genade van Christus alleen wat ons redding is. Ons wag daarom met ons oë op God gerig. Moenie moedeloos word nie, die nag is amper verby. Wag op die Here.