Die Hervormer

Hoop in ’n verwarde wêreld

...julle (moet) vas en sterk bly staan in die geloof en julle nie laat losruk van die hoop wat in julle gewek is deur die evangelie wat julle gehoor het nie. Dit is die evangelie wat aan al die mense op die aarde verkondig is... (Kolossense 1: 23)

Lees Kolossense 1: 9-23

Dié brief van die apostel Paulus is al beskryf as die kortste brief, maar ’n brief deurdrenk met hoop. Boonop het die brief nie sy ontstaan in voorspoedige en onbekommerde tye nie, maar klink die boodskap van hoop vanuit die gevangenis en ’n wêreld uitgelewer aan talle magte en kragte. ’n Wêreld van verwarring en onsekerheid – en in so ’n wêreld gryp mense na strooihalms, na iets wat hoop of sekerheid bring.

Van hierdie magte of grepe was die troonbestyging van ’n nuwe keiser. In 54 nC word ’n keiser gekroon, ’n keiser wat ’n deeglike opvoeding geniet het by van die vooraanstaande filosowe in die Romeinse Ryk, en wat bekend is vir sy liefde vir musiek en teater. Nero bestyg die troon, en talle Christene sou mettertyd met die nuwe keiser te doen kry. Trouens, dwarsdeur die Romeinse Ryk is – soos die konings van Babilon en die farao’s in Egipte gedoen het – munte geslaan met die beeld van die keiser daarop met die inskripsie “seun van god”, “heerser oor die wêreld”. Standbeelde en bouwerk is opgerig om die burgers, die bevolking, te herinner aan die mag en heerskappy van die keiser.

In Kolosse, die markdorp, in wat vandag Turkye is, het gelowiges onder die indruk gekom van die magte en kragte waaraan mense uitgelewer is. Dwaalleraars het gelowiges verseker dat daar tog ’n manier is om beheer oor of toegang te kry tot die engele of kragte wat ’n greep het op die lewe. Die regte gebruike, rites of rituele, eetgewoontes en kultiese gebruike is middele waardeur die lewe beheer en verlossing verseker kan word. In ’n verwarde en verwarrende wêreld bring hierdie rituele of lewenstyl hoop.

Vir eeue nou al vind ons telkens dat al hierdie magte, keisers, heersers, lewenstyle en modegiere nie die beloofde hoop laat realiseer nie, nie sekerheid bring nie. Dit is ’n rondomtaliespel.

Hierteenoor roem Paulus in Jesus Christus. Die koningskap, die Heerskappy van Christus, is anders. Dit is anders as die magte in die wêreld wat met die swaard en belasting heers. Christus se Heerskappy begin met sy offer aan die kruis en sy opstanding uit die graf. Dit is sy kruisdood en opstanding wat sy koningskap verklaar. Hy vestig allereers sy Heerskappy deur Homself te offer, en uit liefde teenoor die Vader sy wese prys te gee.

Dit bewerk versoening aan die kruis met God en versoening wat nodig is vanweë die mens se sonde. Die mens, ons, volhard in onophoudelike wantroue en opstand teen God, of soos Eksodus, Deuteronomium en Johannes Calvyn stel: Die mens is ’n afgodsmaker; ons hoop op en vertrou in iets anders as die Here en ons God.

Dit is die versoening met God wat ’n nuwe bestaan, ’n nuwe skepping inlei. Paulus beklemtoon dit in die gedig of himne: Jesus Christus is die eerste uit die graf. Die opstanding is die aankondiging dat God deur Jesus Christus sy heerskappy vestig en die werklikheid herskep. Op grond van God se Woord wat in Christus mens geword het en deur die Heilige Gees gedra en verkondig word, word Christus geopenbaar as Hoof van die kerk en Heer van die wêreld.

Vir diegene wat soms so uitgelewer voel aan die chaos en stryd van die lewe, is dit moeilik om te glo dat alles deur en vir Christus geskep is; dat Hy besig is om nie net koers te gee aan die lewe nie, maar om hemel en aarde, die ganse kosmos, te herskep. Tog is dit waarin ons glo en waarop ons hoop. En dit is u en my roeping en heerlike taak, die Kerk en kerk se taak, om hierdie hoop te verkondig en daaruit te leef. Om te verkondig dat Christus die Hoof van die kerk is en Here oor die wêreld, en ons met Hom sal laat leef.