Die Hervormer

Wag op die Here

Ek het rus en kalmte gevind. Soos ’n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind. (Psalm 131: 2)

Lees Psalm 131

’n Paar jaar gelede tydens ’n vakansie het ’n gebeurtenis my opnuut laat dink oor my geloofslewe, oor my ontevredenheid en tevredenheid met wie ek is, wat ek het en waarmee ek besig is in die lewe. Ek het by die hoofstrand van Margate op ’n bankie gesit en na die see, die mense, die smouse en al die bedrywighede sit en kyk. Naas die see en eetplekke was daar ook ’n vlak kindervriendelike swembad. ’n Lawaai in die swembad het my aandag getrek.

Dit was nie ’n kleuter of selfs ’n jong kind nie, maar ’n groterige dogter. Sy het uitbundig en op haar eie in die swembad gespeel. Iets anders het my ook opgeval. Sy was ’n jong volwassene maar verstandelik en fisies ingeperk. Volgens ons maatstawwe ook oorgewig en onaantreklik. Sy het my elke dag daardie week vriendelik gegroet en geleer waarvan Psalm 131 praat – die lewenstevredenheid wat groei uit die genade en liefde van God.

Dalk is jou onmiddellike reaksie by die lees hiervan dieselfde as myne. Sies tog, die arme kind. Eintlik moet ons onsself jammer kry omdat ons nie dieselfde sorgelose uitbundigheid het wat dié pragtige dogter het nie. Sy is tevrede en sy het lewensvreugde. Sy reik onvoorwaardelik uit na ander mense.

Die Donderdagaand het ’n kunstenaar by die strand gesing. Sy was ook daar, deftig aangetrek – en die onverwagse gebeur. Sy groet my en onthou my as die oom wat daar op die bankie gesit het.

Het ons regtig soveel rede om so ontevrede, ongelukkig en bekommerd te wees? Waarom kry ons dit nie reg om werklik tevrede en gelukkig te wees nie? Ons het eintlik soveel meer rede om uitbundig en tevrede te wees. Die hele lewe, elke asemteug, hartklop, dag, happie kos en slukkie water is tog ’n genadegawe. En wat van ons gesondheid, skole, kerk, huise en vakansies?

En die grootste rede? Die kruis en die oop graf! Jesus Christus wat ons gered het van die dood en sonde. Ja, ook die sonde van ondankbaarheid en ontevredenheid. Paasfees is die fees van die lewe. Die ware en ewige lewe! Nie maar nog ’n welverdiende langnaweek om te rus nie. Nie maar net nog ’n erediens nie.

Weg met die hoogmoed en selfverheffing. Weg met die onnodige ontevredenheid. Weg met die besorg maak oor dinge wat bo ons vermoë is. Nou is daar vrede en tevredenheid by my. Nou is daar onvoorwaardelike vreugde in my lewe.

En as daar uitdagings kom in die lewe? Wag dan geduldig op die Here – die opgestane Here!