Die Hervormer

Hy is Heer!

Terwyl hulle nog oor hierdie dinge praat, staan Jesus self meteens daar tussen hulle en sê vir hulle: “Vrede vir julle!” (Lukas 24: 36)

Verward, teleurgesteld, ontnugter en sonder hoop – dit moes die emosies gewees het wat Jesus se volgelinge ervaar het toe hulle sien hoe Hy aan die kruis sy laaste asem uitblaas. Alles is verby.

Hulle het so gehoop dat alles anders sou wees. Hulle het geglo dat Hy die lank verwagte Verlosser is. Hulle het gehoop op ’n nuwe kwaliteit van lewe, ’n toekoms met nuwe moontlikhede. Hulle sou vry wees van vervolging en onderdrukking. Maar die Een op wie hulle hul hoop gestel het, is dood, en so ook hul drome en verwagtings. Al wat oorbly, is om om te draai, terug te gaan en aan te gaan met wat hulle gedoen en geken het, voordat Hy “gekom” het.

Die Emmausgangers loop met hul somber gesigte weg van Jerusalem af en deel hul verwarring en ongeloof met mekaar in gesprek. Maria Magdalena gaan voer die nodige versorgingsritueel by Jesus se graf uit. Die dissipels, gevul met vrees, sluit hulle in ’n bovertrek toe. Later besluit Simon Petrus om weer te gaan visvang, en die ander volg hom.

Dit is by hierdie gewone plekke en op die gewone tye dat Jesus onverwags aan hulle verskyn. Die Emmausgangers, in gesprek gewikkel en oorweldig deur hul emosies, herken nie vir Jesus wanneer Hy saam met hulle begin stap nie. Eers wanneer Hy soos in die verlede die brood breek, die seën uitspreek en saam met hulle eet, gaan hul oë oop en besef hulle dat dit Hy is. Hul woorde sê alles oor hul ervaring van hierdie ontmoeting: Het ons hart nie warm geword toe Hy op die pad met ons gepraat en vir ons die Skrif uitgelê het nie? (Luk 24: 32).

Maria staan buite die graf, verblind deur haar trane, en sien Hom aan as die tuinier, wanneer sy haar hartseer met Hom deel. Wanneer Hy haar op haar naam roep, herken sy Hom en spreek sy Hom aan as Rabboeni (Joh 20: 16).

Dan verskyn Hy weer op die strand en braai vir die dissipels vis en breek vir hulle brood, en hulle weet net dat Hy die Here is.

Party van hulle, soos Tomas, wou meer sien! Sy onvermoë om te kan glo, refrein deur sy woorde: As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien nie, ...sal ek nooit glo nie (Joh 20: 25). Dan ontmoet Jesus hom soos wat hy nodig het om te kan sien en glo, en Tomas antwoord: My Here en my God! (Joh 20: 28).

Hierdie verskynings van Jesus nadat Hy gekruisig is, moes vir hulle baie verwarrend gewees het, maar elke ontmoeting met die opgestane Heer loop uit op ’n belydenis – ’n belydenis dat Jesus die opgestane Heer is. In hul gewone handel en wandel verskyn die opgestane Heer aan hulle, en met hierdie ontmoeting kom daar weer herstel. Hulle kry weer hoop. Hul lewe kry weer nuwe betekenis. Deur hul ervaring van sy teenwoordigheid, van sy brood-breek, van sy saam-met-hulle-loop en saam-met-hulle-eet, gaan hul oë oop en word hul harte warm. Hulle glo weer!

Dalk is jy op ’n plek waar jou ervaring van die lewe jou ontnugter en verward gelaat het. Dalk wonder jy of God werklik teenwoordig en betrokke is in jou lewe. Dalk verblind jou trane jou. Of dalk is jy by ’n plek waar jy duideliker wil sien!

Jesus se volgelinge getuig dat Hy die opgestane Heer is. Op onverwagse tye en plekke het Hy op gewone maniere sy teenwoordigheid gewys, want Hy is die Heer.

Onthou: Hy is nie “weg” wanneer jou omstandighede jou verhinder om Hom te sien nie. Hou aan met opkyk na Hom – Hy ís die Heer.