Die Hervormer

Geloof leef in verhoudings

Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie, omdat julle weet dat julle van die Here as beloning sal kry wat Hy belowe het. (Kolossense 3: 23-24)

Lees Kolossense 3: 18 – 4: 1

Ons lees hierdie oordenking in die Lydenstyd. Dit laat ons primêr dink aan die betekenis en inhoud van Jesus Christus se lyding. Ons bedink Jesus se intog in Jerusalem, die gevangeneming, onregverdige verhore, wrede marteling en die kruisiging. Met tyd het Jesus se volgelinge geleer dat hulle self lyding sal ken. Ons lyding hier en nou bestaan uit allerlei uitdagings, gedurige beproewings en slu aanvegtings.

Paulus skryf ’n brief aan die klein gemeente in Kolosse. Hulle ken lyding in al sy vorme en Paulus se brief motiveer, doen toerusting en stuur gelowiges uit om in die wêreld ’n impak te maak. In die brief kry ons baie teologie en praktiese riglyne vir oorlewing. So leer hy hierdie volgelinge (en ons) om hul lyding in die geloof op te neem – meer nog, hulle moet besef dat geloof leef in verhoudings.

Randy Frazee het hieroor ’n boek geskryf: The connecting church. Die skrywer vra aan die begin van sy boek: What was the mightiest miracle of the first New Testament church?Alhoewel mense sou kon sê die bekering van duisende mense of die uitstorting van die Heilige Gees of dalk Paulus se bekering, is hy van mening dit lê dieper. Hy sê die grootste wonder van die vroeë Christelike gemeente was die onderlinge verhouding wat daar bestaan het (vgl Hand 2: 44-47).

In die gelese gedeelte neem Paulus drie basiese verhoudings uit hul tyd: (i) vrou-man, (ii) kind-ouer, en (iii) slaaf-eienaar. By hom is daar geen etiese uitsprake oor hierdie verhoudings nie. Die vrou-man-verhouding was selde gebou op ’n liefdesverhouding; meer dikwels was die huwelik die gevolg van ’n saketransaksie tussen die ouerpare. ’n Kind was bloot deel van die eiendom van die ouer, netso slawe. Sy raad vir hierdie drie basiese verhoudings beklemtoon die belangrikheid van verhoudings. Dit is asof die mens geskep is om in verhoudings te leef en oorleef. Sy raad aan die gemeente wat lyding ken: Aan elke vorm van verhouding wat julle ken, moet hard gewerk word, want so word lyding deurleef.

Verhoudings is egter nie so maklik nie en die mens se eie reg(te) staan teenoor gesonde verhoudings. In ons tyd ken ons menseregte en dit het ’n te belangrike woord geword. Die gevaar met menseregte is dat dit gefokus is op die individu en nie op verhoudings nie. Dus laat dit die individu met al sy regte om alleen die lyding van sy oomblik te dra. Menseregte bring vereensaming, bitterheid en verbittering. Menseregte verwoes verhoudings en dit maak dat geloof nie ’n groeiplek het nie.

Teenoor menseregte is daar God-se-wil. God-se-wil vorm en versterk verhoudings. Ek vat ons terug na die teks toe en daar kyk ons na die herhaling van ’n paar gedeeltes:

  • ...soos dit pas by mense wat in die Here glo.
  • ...want die Here verlang dit van kinders wat in Hom glo.
  • ...maar werk met ’n opregte hart uit eerbied vir die Here.
  • ...Christus is die Here in wie se diens julle staan.
  • ...in die wete dat julle ook onder iemand staan, onder die Here in die hemel.

Ons leer dat verhoudings net kan slaag as dit volgens die wil van God is. Luister wat is Paulus se opsommende raad oor verhoudings: Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie.