Die Hervormer

Stilte in die Lydenstyd

As daar ’n remedie vir die tuimelende moderne wêreld voorgeskryf kon word, sou dit stilte moes wees (Søren Kierkegaard)

Die Here Jesus se sewe kruiswoorde is die kulminasie van alles wat die voorafgaande ure met Hom gebeur het: die laaste aandete saam met die dissipels en die heenwysing na verraad; die alleen- en angstige ure in Getsemane, met sy dissipels wat drie keer aan die slaap raak; Judas se bitter soen en die vernederende arrestasie deur die tempelwag; die gebeure in die verhoorhof voor die Romeinse konsul, Pontius Pilatus; die wete dat die dissipel vir wie Hy die bynaam Rots gegee het, Hom drie keer in die steek gelaat het, met die haan se kraai kort daarna; die rondstuur tussen die konsul en Herodes en die wete dat die twee kwaaivriende oor sy lot “vriende” sou word; die eienaardige verhoor onder bedenklike regsleiding; die keuse vir Jesus Barabbas; die oorlewering aan die Romeinse teregstellingsoldate; die flagellum (sweep) wat deur sy rug kloof; die kroon van gevlegte doringtakke, hard en skerp genoeg dat dit deur sy skedel gedring het; die vernedering om in die openbaar kaal uitgetrek en op gespoeg te word; die spot, koggelry en sarkasme, nie minder snydend as die fisiese sweepslae nie; die INRI-hekelry oor sy “koningskap”, hoewel Hy tog altyd benadruk het: My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie.

Hy het begin loop met die dwarsbalk oor sy skouers, opwaarts, steil, via Dolorosa: Leeupoort, die Boog, skuifelend. Uiteindelik is hulle by Calvaria, die hoogste punt van Golgota, Kopbeenplek. Die soldate slaan Hom aan die kruis vas; hulle bind Hom aan die kruis. Dit is die geweld van hierdie wêreld wat Hom met geweld aan die kruis bind. Sy asem is reeds vlak en hortend, maar onafwendbaar volg die ophys van die kruis, met die gekrys van spykers wat verder deur been en weefsel skeur.  

Maar dan, genadiglik: stilte. Uiteindelik stilte. Na ure se foltering, lawaai, bloed, trane en sweet: stilte. Net die heuwelwind en geswiep van aasvoëlvlerke onderbreek nog die stilte. Stilte voor die afgryse, die spektakel; woordeloosheid voor die grimmigheid van hierdie donker teater.

Hy onderbreek hierdie stilte sewe keer, soos opgeteken in die vier Bybelse Evangelies. Daar is egter nog ’n heel laaste kruiswoord: Dit is die stilte self. Die Evangelies benadruk die gedempte kwaliteit van die afloop van hierdie gebeure. So moes dit by betragting ook wees, want stilte is die woonplek van God. Stilte is ook die werkplek van God. God werk in stilte. God praat ook wanneer God nie praat nie. Aan die kruis is die uiteindelike stilte daarom net so veelseggend as die beskeie kruiswoorde self. Daarom behoort ook ons saam met die heilige, algemene kerk stil te wees in die Lydenstyd, gevul met ’n skugter piëteit en egte vroomheid.