Die Hervormer

Behalwe by U…

Ek behoort aan U, daar is vir my niks goeds nie behalwe by U (Psalm 16: 2) 

Lees Psalm 16: 1-11 

Wondermooi is die verbondsgrond wat ek geërf het. Ragfyn en innig die verbintenis tussen God en sy verbondskind. Alles wat ek nodig het om te lewe, is te vind binne die grense wat U vir my getrek het. Reënbooggrense wat my koester en beskerm teen die aanval wat die paletmes: afgod spel op die skilderdoek.

 

Die besef dat geen vrede of intieme wyding my deel is nie wanneer ek gekose mank gaan aan God se deurlopend vloeiende bystand, ondergrawe die waaisand waarop ek destyds al my eie-ek-beeld opgerig het. Waaisand wat die verterende vuur binne my komplementeer in haar sinlose voortbrand oor dowwe voorbrandstroke heen, op pad na oorwinning wanneer sy daarin slaag om lig in duisternis om te ploeg. Lig wat van mooi mooi maak en van pragtig pragtig. Lig wat beloofde afgemete dele as ontvang bevestig – rykdom waarin ek deel op grond van my verbondsverhouding met God: vrede, geloofsvertroue, veiligheid, geborgenheid, vryheid, vergifnis, die voorreg om aan God te mag behoort en tot Hom te mag bid, by God te mag wees…

Om selfs in die naglig te weet: God wéét. Dat Hy wat as Opperwese heers oor lig en duisternis my denke verlig tot verbondskennis in grond geanker. Tot die eweknie van die verbondswete aan ’n Aäron van ouds dat God sy deel en sy erfenis is.    

Hierdie wete is nie te danke aan my eie-ek-insig nie, maar is ragfyn geheg aan die wondermooie genade wat God op die lewenspel plaas. Genade wat reënbooggrense trek ten spyte van my waaisand-waansin. Genade in pastel wat die vuurrooi sondaar-wees binne my salwend uitdoof tot vaal as in sy besig-wees met my oor hoe om te lewe: deur my hart op God te sit – heeltemal; deur my lewe in sy Vaderhande te lê – hier en nou, die dag van môre, die toekoms in, vir ewig...

So ’n lewe kom uit by ’n weelde van vreugde wat sonder spel is, wat eg is en skitterend die lig weerkaats teen die reënbooggrense rondom die verbondsgrond, wat net wondermooi kan wees omrede God net wat mooi is vir ons gee.

My eie-ek verbeur haar staanplek, die waaisand beweeg weg om ruimte te skep vir verbondsgrond, die skilderdoek is vasgekeer in pastelpalette van lila, lemmetjie en geel.

Sekerheid is God se deel aan my. Geloofsekerheid. Rus is verbode, behalwe by U