Die Hervormer

Bring dit vir My hier...

Hulle sê toe vir Hom: “Ons het hier net vyf brode en twee visse.” “Bring dit vir My hier,” sê Hy (Matteus 14: 17-18)

Lees Matteus 14: 13-21

Tog snaaks hoe ’n mens iets in die Bybel kan lees en lees en dan, op ’n dag, sien jy daar iets raak wat vir jou ander betekenis gee aan dit wat jy nog altyd gelees het. Ek het hierdie ondervinding ’n paar jaar gelede met die eerste vermeerdering van die brood in die Matteus-evangelie gehad. Ons lees daar van Jesus en sy dissipels wat na ’n afgeleë plek gaan om alleen te wees, maar daar gekom, daag daar duisende mense op wat agter Jesus aangaan. Ons lees dat Jesus hulle innig jammer kry en hul siekes genees.

Wanneer dit laat word, kom Jesus se dissipels na Hom toe en sê dat Hy die mense huis toe moet stuur sodat hulle kos kan gaan koop. Maar, in plaas van hulle huis toe te stuur, sê Hy vir sy dissipels om vir die mense iets te gee om te eet. En hier is die treffende deel. In die gesprek tussen Jesus en sy dissipels is daar nou ’n woordspeling tussen hier en daar. Sy dissipels wil hê dat Jesus die dissipels moet wegstuur om daar, in die wêreld buite die teenwoordigheid van Jesus, kos te gaan koop. Maar Jesus wil hê hulle moet vir die mense hier, in die teenwoordigheid van Jesus, kos gee. Sy dissipels sê dat hulle hier net vyf broodjies en twee vissies het – tog te min vir duisende mense...

Maar Jesus sê: Bring dit vir My hier... En nadat Hy na die hemel opgekyk en die kos geseën het, het Hy dit gebreek en uitgedeel. Ons ken die res van hierdie wondervertelling: Vyfduisend mans, buiten vrouens en kinders, het genoeg gehad om te eet – ja, daar was selfs twaalf mandjies se oorskiet oor.

Hierdie wondervertelling laat my nogal dink oor ons opdrag as gelowiges. Glo ons nog dat ons in die Kerk in staat is om vir mekaar om te gee en mekaar op die hande te dra? Glo ons nog dat ons as Kerk ons barmhartigheidsopdrag kan uitvoer?

Voor in die kerk in Gemeente Groot Marico hang ’n skildery van die vyf broodjies en twee vissies wat deur iemand na Jesus uitgehou word. Die simboliek is dat ons as gelowiges ons gawes en talente, ons tyd, ons gebede, ons omgee na die Here moet bring en Hom genoeg moet vertrou om dit na sy goeddunke te vermeerder.

Maar glo ons so? Is ons nog bereid om die Here so te volg en so op Hom te vertrou? Moet ons nie dalk weer in geloof na die Here toe gaan en dit wat ons het om te gee in sy hande laat, Hom daarmee vertrou nie?

Dalk, net dalk, word jy verras deur wat God met jou broodjies, jou vissies, jou gawe kan doen...