Die Hervormer

Die koninkryk van God as herskepping

Jesus se gebruik van die term koninkryk van God, wanneer dit verstaan word in die konteks waarin Hy hierdie uitdrukking gebruik het, was die verkondiging van ’n nuwe skepping; die herskep van ’n wêreld wat geskep was deur die sogenaamde regeerders en die groot manne wat hul mag misbruik het en oor ander baas gespeel het (Mark 10: 42).

Kom ons sê iets meer hieroor om Jesus se verkondiging van die koninkryk in konteks te plaas. Jesus het geleef in ’n tyd waarin Galilea deur Herodes Antipas geregeer is. Antipas was tetrarg van Galilea by grasie van die keiser van Rome. Rome was ’n “koninkryk” wat, volgens die Romeinse propaganda, deur die gode uitverkies is om te regeer vir ewig en altyd. Die pax Romana (vrede van Rome) is tot stand gebring deur geweld, ’n “vrede” wat met dieselfde geweld in stand gehou is. Die geweld van Rome het onder andere bestaan uit verpligte belasting, rente en huur wat deur kleinboere aan Rome betaal moes word. Antipas was verantwoordelik om hierdie belasting aan Rome te lewer. Antipas het egter nog meer uit die kleinboere in Galilea getap. Hy het fondse benodig vir sy bouprojekte en weelderige leefstyl, asmede die Herodiane wat saam met hom regeer het (Mark 3: 6). Ook hierdie fondse het gekom vanaf die kleinboere. Die kleinboere was dus aan verskeie vlakke van belasting onderwerp, in so ’n mate dat dit ’n daaglikse stryd was om bo die broodlyn te lewe. Dit was die “koninkryk van Rome” – ’n geskepte wêreld waarin die armes net armer geword het, en die rykes net ryker.

Read more ...

Nadenke oor vrede

Ons leef in ’n wêreld waarin die soeke na vrede elke dag iewers op die agenda is. Daar is die oorweldigende nuus waarmee ons gekonfronteer word van opstande en geweld, van godsdienstige ekstremisme en gepaardgaande terrorisme, volksmoorde en algemene onrus. Daarmee saam is daar oorvloedige organisasies en stigtings wat hulle elke dag met hierdie soeke na die ontwykende vrede besighou.

In ons geledere is daar dikwels in die verlede klem gelê op vrede as vertikale gegewene vanuit die godsdiens. Ons was nie verder geïnteresseerd in hierdie tema nie en dit is afgemaak as deel van horisontalisme, social gospel en politieke agendas waarmee ons ons nie wou vereenselwig nie. Die Kerk moes net die evangelie verkondig en klem plaas op die vrede en versoening wat God gegee het deur die kruis. So asof die alledaagse kwessies ons nie aangegaan het nie…

Read more ...

Debatspunte in die teologie

Die kerk se roeping is om die wêreld in ontmoeting te bring met die lewende God. Die belangrikste manier waarop die kerk dit doen, is deur die Woord van God te verkondig. Die aandrang hiertoe vind ons enersyds in Jesus se opdrag Gaan na al die nasies en maak hulle my dissipels..., en andersyds in die Woord self wat met inherente krag vorentoe stu.

Die kerk oordeel dat manne en vroue wat geroepe voel om die taak van verkondiging te onderneem, toegerus moet word met kennis en vaardigheid daarvoor. Die manier waarop die toerusting verkry word, is deur studie in die teologie. In die meeste gevalle behels dit ’n formele kursus aan ’n universiteit of seminarie (teologiese skool). Die kursus word saamgestel uit ’n aantal vakke waarvan sommige die student skool in die hantering van die Bybel, terwyl ander meer gerig is op die praktyk in ’n gemeente. Geen student is volleerd wanneer die kursus afgehandel is nie. Studente word eintlik net ingelei in die dissipline. Hulle leer wat die onderafdelings van die teologie is, hoe hulle met mekaar in verband staan en wat die bronne by elke afdeling is. Studente word geleer hoe om te leer, sodat hulle die teologiese arbeid selfstandig kan onderneem wanneer hulle in gemeentes bevestig is. Teologiese studie is dus ’n lewenslange taak wat in verantwoording teenoor die roeping onderneem word. Skoling in die teologie en ervaring in die praktyk vul mekaar aan en groei oor tyd tot groter onderskeidingsvermoë en verfyning van denke.

Read more ...

Die mees aktuele saak van alle tye

Sedert 1994 het daar ’n proteskultuur in Suid-Afrika posgevat. Dansende, singende en plakkaat­swaaiende massas vermag wat oorwoë kritiese besinning skynbaar nie meer kan doen nie.

Dikwels gaan hierdie soort protesoptrede gepaard met geweld wat verstandloos juis dié dinge vernietig wat toegang kan verleen tot ’n beter lewenstandaard, soos skole, biblioteke, munisipale eiendom en paaie. Winkels word gestroop, private eiendom bly in die slag, selfs nooddienste soos ambulanse en die brandweer word onder die klippe gesteek. Dit is in sigself ’n veelseggende kommentaar op die status quo. Dit skep ook ’n angstigheid en diepgaande pessimisme by almal in hierdie mooi land wat maar net in vrede wil woon en die plek wil opbou, soos ’n mens behoort te doen.

Read more ...

Islamitiese fundamentalisme – waar gaan dit eindig?

Op die strand aan die kus van Libië het hulle gestaan, 21 Koptiese Christene in oranje oorpakke. En toe word hulle onthoof – een ná die ander. Dreigend het die woordvoerder van die moordenaars van die Islamitiese Staat (IS) noordwaarts na Europa gekyk en gesê: Ons sal Rome verower, met Allah se toestemming. Met Rome, hoofstad van Italië wat Libië vroeër gekoloniseer het, word natuurlik (Westerse) Europa bedoel.

Almal wat daarna gekyk het, het ’n beklemming om die hart gekry. Veral as jy aan ander gebeure die laaste tyd dink – die moordtog by die satiriese publikasie Charlie Hebdo, die onthoofding van die Amerikaanse fotograaf James Foley deur ’n terroris van die Islamitiese Staat (IS), en die ontvoering van meer as 200 skoolmeisies in Nigerië deur Boko Haram, nog ’n groep Moslem ekstremiste. Wat is besig om te gebeur en waar gaan alles eindig? Die wêreld se gevoel is mooi uitgedruk deur pous Franciskus se beroep op die internasionale gemeenskap om “fundamentalistiese terrorisme” in die Midde-Ooste te beëindig en op Moslem leiers om “ekstremistiese vertolkings” van die Islam geloof om geweld te regverdig, te veroordeel.

Read more ...