Die Hervormer

Sketse uit die geskiedenis van die Hervormde Kerk (1824-2024)

In die vorige aflewering is vertel van die stigting van die Gereformeerde Kerk in die Transvaal in 1859. In hierdie aflewering kyk ons na die vestiging van die NG Kerk in die Zuid-Afrikaansche Republiek. Dit het gebeur onder leiding van ds Frans Lion Cachet.

Cachet het aanvanklik in die Kaap as sendeling gewerk. Cachet is aan die Amsterdamse Seminarie as sendeling opgelei. Hulle het in die kring van die Réveil beweeg en het ’n basiese wantroue in die Nederlands Hervormde Kerk gehad. Omdat Cachet nie aan ’n universiteit opgelei is nie, is hy nie as predikant van die NG Kerk toegelaat nie. Dit was die begin van ’n lang en uitgerekte stryd wat Cachet gevoer het om as predikant georden te word. Uiteindelik het hy daarin geslaag en is hy na Ladysmith beroep, waar hy as predikant bevestig is.

Op 24 Maart 1864 besluit die ring van Natal, tydens sy tweede vergadering, dat Utrecht kerklik van Natal moes afskei, omdat die distrik Utrecht deel van die ZAR was. Die beginsel dat landsgrense en kerkgrense ooreenval, is weer van toepassing gemaak. Cachet is na Utrecht beroep en later na Gemeente Lydenburg. Cachet het telkens met die Transvaalse regering in verbinding getree om te hoor of die owerheid sy traktement sou betaal soos die geval was met ander predikante in die ZAR. Dit was problematies, omdat hy daarteen beswaar gehad het om deel van die Hervormde Kerk te wees. Hy wou dus predikant in die ZAR wees, maar onder die Kaapse (NG) Sinode se opsig ressorteer.

Op 11 Julie 1864 het pres MW Pretorius aan Cachet geskryf en hom daarop gewys dat volgens Artikel 1 van die Algemeen Kerkelijk Reglement en Artikel 227 van die Grondwet van die ZAR alle gemeentes binne die grense van die Republiek deel is van die Hervormde Kerk, en dat slegs Hervormde predikante kwalifiseer vir traktement uit die staatskas. Die Uitvoerende Raad het Utrecht besoek, en by dié geleentheid het Cachet weer aansoek gedoen om uit die staatskas betaal te word. Hierop het die Uitvoerende Raad besluit dat aan de gemeente der Nederd. Herv. Kerk te Utrecht worde toegekent de somma van Rds. 3000 jaars als salaris voor eene Leeraar, onder de Grondwet, aanvang te nemen zoodra zulk Leeraar zijn dienstwerk aanvaarde.

Cachet kon volgens hierdie besluit slegs traktement ontvang as Utrecht onder die AKV van die Nederduitsch Hervormde Kerk sou ressorteer. Nog dieselfde dag het Cachet aan die Uitvoerende Raad teruggeskryf en geantwoord dat Utrecht nie ’n Hervormde gemeente is nie, maar ’n Nederduitsch Gereformeerde gemeente, en hulle nie onder die AKV wil ressorteer nie maar onder die Kaapse Sinode. Die Uitvoerende Raad het weer hul standpunt bevestig, deur te stel dat die owerheid volgens die Grondwet slegs die Hervormde Kerk as staatskerk kan erken, en slegs aan Hervormde predikante traktement kan betaal.

In 1865 het Cachet wel die Algemene Kerkvergadering bygewoon en ’n spreekbeurt gevra. Hy het die geleentheid gebruik om die Hervormde Kerk aan te val en die naam Hervormd as onwettig te verklaar. Hy het sy argument gebou op die veronderstelling dat die Hervormde Kerk in Nederland die ware leer verlaat het. Daarom moet die Kerk Gereformeerd heet as aanduiding dat die Kerk die ware leer sou handhaaf.

Cachet het ook beweer dat dit die owerheid was wat die Kerk se naam verander het en dat die Kerk nie daarin geken is nie. Daarmee het hy beweer dat die owerheid onregmatig op die kerklike terrein opgetree het. Na lang bespreking het die AKV besluit dat die naam Hervormd sal bly, omdat die twee name presies dieselfde beteken.

Daarna het Cachet die quia/quatenus-vraagstuk op die tafel geplaas, en het hy geëis dat die predikante van die Hervormde Kerk opnuut ’n Proponentsformule onderteken soortgelyk aan die formule wat in die OVS in gebruik was. Ook op hierdie punt het die AKV hom teengestaan, en die predikante het geweier om nogmaals ’n formule te onderteken. Die vergadering het hierdie voorstel van Cachet met algemene stemme verwerp.

Cachet het die vergadering verlaat met die verklaring dat aan een vereniging met de Ned. Herv. Kerk alhier niet te denken is, en betreurt dat ten zeerste doch zegt dat hy van’t dierbaarste hetwelk hy en de gemeente bezitten niet kan scheiden. Hy zegt de gehele Republiek in lengte en breedte te zullen doortrekken om zuiver Geref. gemeenten op te richten, aangezien hy de enige zuivere Ned. Geref. pred. hier te Iande is.

Cachet het doelbewus die Nederduitsch Hervormde Kerk begin teenwerk en het orals waar daar groepies lidmate was wat na hom wou luister of wat onder die Kaapse Sinode wou ressorteer, in gemeentes georganiseer.

Die direkte gevolg van Cachet se optrede was dat die kerk in die Transvaal nog verder verdeeld was. Op baie dorpe (Potchefstroom, Wakkerstroom, Lydenburg en Marico) het Nederduitsch Gereformeerde gemeentes naas die Nederduitsch Hervormde gemeentes ontstaan, wat elkeen sy eie weg gegaan het. Op 3 Desember 1866 het die afgevaardigdes van die gemeentes wat Cachet gestig het die Eerste AKV van die NG Kerk van Transvaal bygewoon. Die vergadering het in Utrecht sitting geneem. Die gemeentes wat verteenwoordig was, is Utrecht, Hartebeesfontein, Nasaret (Middelburg), Pienaarsrivier (later Pretoria), Heidelberg, Potchefstroom en Vaalrivier.

Ten spyte van die kerkskeurende werk van Cachet, het die Hervormde Kerk in die tydperk 1860 tot 1880 gegroei en vooruitgegaan. Tien nuwe gemeentes is gestig, te wete Wakkerstroom, Heidelberg, Middelburg, Hartebeesfontein (Klerksdorp), Waterberg, Utrecht, Zeerust, Standerton, Bloemhof en die Konsulentsgemeente van Pretoria.

(Prof Wim Dreyer is medeprofessor aan UP se Departement Historiese en Sistematiese Teologie)