Die Hervormer

Sketse uit die geskiedenis van die Hervormde Kerk (1824-2024)

Die geskiedenis van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika begin by 1824. Deur die loop van 2024 kan die Hervormde Kerk twee eeue van kerkwees in Afrika herdenk. In hierdie aflewering kyk ons na die verdeeldheid in kerk en staat.

Van der Hoff se eerste besoek aan Lydenburg het op ’n botsing tussen Van der Hoff en die Lydenburgse kerkraad uitgeloop. Dit was grootliks die gevolg van ’n staatkundige magspel tussen Oos- en Wes-Transvaalse politieke groeperinge. Lydenburg was al op die punt om van die Transvaalse Republiek af te skei (hulle het in 1853 reeds die eerste keer hul eie grondwet opgestel). Die konflik tussen Van der Hoff en die Nederlandse handelaar Smellekamp, asook die besluit van die Hervormde Kerk om nie onder die Kaapse sinode te ressorteer nie, die sinodekwessie, was die laaste strooi.

Op 31 Augustus 1854 het die kerkraad van Lydenburg ver-gader en besluit om hulle kerklik van die res van Transvaal af te skei, Van der Hoff nie te erken as hul leraar nie, en aansluiting te soek by die Kaapse Sinode. Dit het die weg gebaan vir die latere optrede van Frans Lion Cachet, wat direk gelei het tot die vestiging van Nederduits Gereformeerde gemeentes in die ZAR.

Die Lydenburgse Kommissieraad het op 16 Oktober 1854 op die plaas Elandsrivier, distrik Lydenburg, vergader. Tydens die vergadering het diaken Spies van die Lydenburgse kerkraad ter vergadering gekom en ’n beroepsbrief aan die Kommissieraad oorhandig met die versoek dat hulle die beroep van ’n predikant moet goedkeur. Die Kommissieraad was eers onwillig omdat hulle gevrees het dat hulle ultra vires sou optree. Daar is druk op hulle uitgeoefen om dit wel goed te keur, wat hulle toe gedoen het. Verder het daar ’n versoekskrif voor die Kommissieraad gedien om Van der Hoff nie te erken as leraar nie, as gevolg van wanstaltig levensgedrag. Dit verwys waarskynlik na sy konflik met Smellekamp. Verder het die Lydenburgse kerkraad versoek dat hulle toegelaat word om met die Kaapse Sinode in onderhandeling te tree met die oog op inlywing van Gemeente Lydenburg by die Kaapse Sinode. Die Kommissieraad het hierdie versoeke goedgekeur.

Die afloop van hierdie gebeure vind ons in September 1855, waar die Volksraad onder leiding van MW Pretorius aan die Pienaarsrivier vergader. Pretorius het by die vergadering die Lydenburgse volksraadslede wat die Kommissieraad gevorm het en die versoeke van die Lydenburgse kerkraad goedgekeur het, aangekla. Die klag was dat hulle strydig met besluite van die Volksraad gehandel het en dat hulle verraad gepleeg het teen die ZAR deurdat hulle met buitelandse moondhede en amptenare wou onderhandel. In werklikheid het hulle ultra vires opgetree, soos hulle vermoed het, omdat ’n kommissieraad nie besluite kon neem wat strydig met besluite van die Volksraad is nie. Hulle is almal met 150 riksdaalders beboet en verklaar as onwaardige ampsdraers.

Die Lydenburgers het hierdie optrede nie aanvaar nie. Nadat verskeie pogings aangewend is om die breuk te herstel en alles misluk het, het die Lydenburgers daartoe oorgegaan om hul eie republiek te stig. Dit was ’n politieke skeiding, wat later opgelos sou word toe Lydenburg in 1860 weer met die res van Transvaal verenig het. Dit was ook ’n kerklike breuk, ’n voorspel tot die vestiging van die NG Kerk in Transvaal.

In 1859 het die Hervormde Kerk verder verdeel. ’n Groep lidmate, onder leiding van ds Dirk Postma, het hulle van die Hervormde Kerk afgeskei en die Gereformeerde Kerk gestig. Een van die besware van die streng gereformeerde lidmate was teen die sing van gesange in Hervormde eredienste. Die evangeliese gesange is in 1814 in gebruik geneem en dikwels in eredienste gesing. In die Oosgrens-distrikte was daar mense, onder andere die Kruger­familie, wat beswaar gemaak en volgehou het dat net Psalms in die erediens ge-sing mag word. Reeds by die eerste AKV van die Nederduitsch Hervormde Kerk in Transvaal (1853) het diaken Stephanus Kruger van Gemeente Rustenburg ’n memorie van lidmate ingedien waarin hulle beswaar teen die gesange aanteken. Hierdie versoek is op al die vergaderings herhaal.

Met die koms van ds Dirk Postma na Suid-Afrika gedurende Julie 1858, het die afskeidingsbeweging momentum gekry. Postma is as waarnemer van die Afgeskeie Gereformeerde Kerk in Nederland na Transvaal gestuur om hier ’n ondersoek te kom doen, veral met die oog op die sending. Aanvanklik skakel hy by die Hervormde Kerk in, maar spoedig het sake so verloop dat hy saam met die Psalmsingers hulle van die Hervormde Kerk afgeskei het en hul eie kerklike weg gevolg het.

Die afskeiding het onder die Wes-Transvaalse groep plaasgevind, in Rustenburg. Omdat die Gereformeerdes positief was teenoor die Wes-Transvaalse politiek, en onder andere die Wes-Transvalers gesteun het in hul onafhanklikheid van die Kaapse Sinode, is hulle grootliks met rus gelaat. Die Gereformeerde afskeiding in die Wes­Transvaal het nie dieselfde impak op die gemeenskap gehad as die Lydenburgse afskeiding nie. Dit het onherroeplik beteken dat daar in Suid-Afrika meer as een gereformeerde kerk onder Afrikaners tot stand gekom het.

(Prof Wim Dreyer is medeprofessor

aan UP se Departement Historiese en Sistematiese Teologie)