Die Hervormer

Hou die dood daagliks voor oë – dit is die sleutel tot ’n ruim

Die vraag oor die dood is altyd met ons. Veral ook nou, omdat religieuse gemeenskappe toenemend gevra word om opinies oor genadedood te formuleer.

Gedurende 2017 het twee publikasies in Afrikaans verskyn wat ’n besondere indruk op my gemaak het as gevolg van elkeen se benadering tot die dood. Dit is Cas Wepener se Die reis gaan inwaarts: Die kuns van sterwe in die kreatiewe werke van Karel Schoeman, en Anton van Niekerk se Die dood en die sin van die lewe.

Byna 20 jaar gelede het die Duitse teoloog Jürgen Moltmann gevra na die betekenis van die dood. Het dit enige betekenis? Sy vraag, waarop ek byna agt jaar gelede afgekom het, het my teologie en lewensuitkyk wesenlik beïnvloed, omdat dit ’n vraag is wat my uitgedaag het om betekenis te vind in iets wat vir die meeste mense ’n vyand is. Die vraag oor die dood is altyd met ons. Veral ook nou, omdat religieuse gemeenskappe toenemend gevra word om opinies oor genadedood te formuleer.

My preek by die jaarlikse opening van die Hervormde Teologiese Kollege op 20 Februarie vanjaar verteenwoordig my nadenke oor ’n spiritualiteit van die dood. Die teksgedeeltes vir die preek was Psalm 16, Prediker 3: 1-11 en Filippense 1: 12-26. Hier volg ’n verkorte weergawe daarvan:

Op 21 Januarie 2015 is die bekende Nuwe Testamentikus, Marcus Borg, aan kanker oorlede. Barbara Brown Taylor, in haar huldeblyk, noem sy 30 jaar lange nadenke oor die dood “pre-hab”: ’n “vooraf gereed maak” sodat jy die krag het vir wanneer dit kom: Keep death daily before your eyes ... it is the key to abundant life. In die vyfde eeu het die mistikus Benediktus van Nursia hierdie wysheid in een van sy kloosterreëls saamgevat. Volgens Barbara was dit ook die hartklop van Marcus se spiritualiteit: Hou die dood daagliks voor oë – dit is die sleutel tot ʼn ruim lewe.

Hoe Marcus Borg God se teenwoordigheid in sy eie lewe ervaar het, is deur sy nadenke oor die dood vorm gegee. Dit is die toetssteen vir spiritualiteit: Hoe anders sal jy weet of jou mooiste geloofsbelydenis voor die dood staande sal bly? Dr Kellner, in Karel Schoeman se roman ’n Ander land, praat só daaroor: Om die verskynsel van die dood te aanvaar; om die beginsel te aanvaar dat jy self ook moet doodgaan; om jou eie persoonlike sterfte te aanvaar namate dit geleidelik nader – elkeen van hierdie stadiums is ’n nuwe krisis … Om dood te gaan, is eintlik nie so moeilik nie … maar om die gedagte van die dood te aanvaar, dís wat ’n stryd kos – soms wel ’n lewenslange stryd.

Die prys wat hierdie aanvaarding kan kos, kan gesien word in die verhaal van die seuntjie met die swart bril en die merkteken op sy voorkop – Harry Potter. Sy lewe word wesenlik beïnvloed deur die dood van sy ouers. Hul moordenaar, Voldemort, se lewensdoel is om sy eie eindigheid te omseil. Dood is vir hom swakheid. Eintlik vrees hy die onbekende van die dood.

Hou die dood daagliks voor oë. ’n Morbiede gedagte? Jong mense wil nie daaraan dink nie. Ouer mense dink miskien daaraan, maar waarskynlik nie met Marcus Borg se “pre-hab” spiritualiteit nie. Ons sien dikwels die dood as die vyand. Dood ontneem ons lewensmoontlikhede en vernietig ons drome. Ons haal dikwels 1 Korintiërs 15: 26 aan: Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood. “Vyand” en “vernietig” is oorlogstaal. Vyand is ’n teenstander, ’n nemesis. In die Ou Testament is die dood dikwels vyand, straf, of vergelding wat geregtigheid moet bewerkstellig. In Genesis 3 is “dood” egter nie die gevolg van gebroke gemeenskap met God nie. Om van God afgesny te wees, is “dood”.

Die Rooms-Katolieke priester Henri Nouwen noem die dood vriend. Met sy ma se dood het hy geleer om sy eie dood in die gesig te kyk en nie net al sy energie te gebruik vir oorlewing nie. ’n Mens moet te eniger tyd gereed wees om te sterf, want wie reg is om te sterf, is ook reg om te lewe. So maak jy van die dood ’n vriend.

Benewens die dood as vyand en die dood as vriend, wil ek ook die dood as leermeester byvoeg. Marcus Borg het met sy “pre-habilitasie” homself van binne af “gesond gemaak” en vrede gevind met sy eie dood. Die misterie van die dood het hom geleer hoe om met onvolledige inligting, met die onbekende van die dood, in God se teenwoordigheid te leef. Dit was sy voorbereiding vir die dood. Spore hiervan vind ek in die Bybel.

In Psalm 16 vertrou die digter op God se standvastige teenwoordigheid, want hy het dit self ervaar. God is selfs in die stiltes teenwoordig, in die nag wanneer die dag se lawaai tot rus kom. God is in die ritme en in die stilte van sy bestaan, volledig by sy menswees betrokke: in lewe en dood. God is teenwoordig in alle fasette van die lewe: hart, gees en liggaam. God is teenwoordig ook in die doderyk, graf en dood. God gee tyd en ruimte om te lewe. Bewus hiervan, kan hy die dood nader sonder vrees. Hier is geen belofte van ewige lewe nie.

Waar gemeenskap met God jou hele wese omvat (hart, gees, liggaam), daar verloor die dood sy aaklige belangrikheid. In God se teenwoordigheid, maak die “probleem” van die dood juis ruimte vir ’n vol lewe. Daarom sy ernstige gebed: Wys my die pad van die lewe. Leer my hoe om te lewe! Die dood is net ’n verskrikking vir wie nie weet hoe om te lewe nie. Insig in die betekenis van die lewe ontneem die dood sy boosaardige belangrikheid.

Dit sluit vir my aan by die Prediker. Soms lyk dit of die dood by die Prediker spook – die mens se eindigheid en die onvermydelikheid van die dood. Jy wil vra: As dít die dood vir jou is, wat beteken dit vir my lewe?! Lees ons die bekende teks oor tyd, kan ons probeer agterkom in watter “tyd” ons nou leef. Is dit ’n tyd vir vrede, of juis nie? Is die lewe net ’n sieldodende herhaling van siklusse waaruit ons nie kan ontsnap nie? Of roep die teks ons op tot ’n ruim lewe: Lewe so goed jy kan, ten spyte van teenstrydigheid, ongeag “watter tyd” dit is. Die teks is nie ’n fatalistiese aanklag teen die dood nie. Inteendeel, die dood bied ’n les oor wat belangrik is in die lewe.

In die tronk dink Paulus na oor lewe en dood. Hy weeg die wins en verlies, lewe en sterwe teen mekaar op. Wat sou hy wou kies? Hy kan aanhou lewe, want daar is nog werk om te doen. Hy kan nog ’n baken van hoop vir verdruktes en diensbaar vir Jesus wees. Maar, hy kan die dood ook tegemoet gaan. Dit sal “wins” wees, want dan is hy verlos van pyn, skipbreuk, vervolging en kommer. Dit sal vir hom “wins” wees om Christus onbelemmerd te kan ervaar. Juis omdat die dood ’n opsie is, omdat hy in staat is om die dood in die gesig te kyk, daarom kan hy lewe. Dit is wat die Voldemort-karakter uit Harry Potter nooit geleer het nie. Juis sy vrees vir die dood, gee die dood ’n houvas op hom. Dit het hy nie gesnap nie. Paulus het dit wel gesnap. Hy erken: In lewe en in sterwe behoort ek aan God. Lewe word nie oorbeklemtoon nie. Die dood word nie gedemoniseer nie. Dit is wat dit is, albei met wins en verlies. Uit die perspektief van gemeenskap met God, kan die idee van dood as vyand, boosheid of straf totaal omgekeer word. Ook vir Paulus maak hierdie perspektief oor die dood dit moontlik om te lewe. Die dood leer hom. Christus se dood het hom geleer. Dit leer ons.

Die siklus van lewe en dood is ’n misterie. Prediker sê: die mens kan die werk van God van begin tot einde nie begryp nie. Dood as leermeester lei ons tot ’n dieper menswees, ’n ruimer lewe. Dood vorm as’t ware die raam van die skildery. Dit is ’n “beperking” omdat dit omraam en inperk, maar dit bied ook ruimte, betekenis en perspektief aan wat daarbinne is.

Die dood van Marcus Borg en dié van my broer is presies een jaar uitmekaar. Toe ek Barbara Taylor se woorde oor Borg se “pre-hab” spiritualiteit lees, het my hart warm geword (soos die Emmausgangers). Ek het die teenwoordigheid van God, in lewe en in sterwe, ervaar. Vir my is dood ’n geskenk van God – ’n leermeerster wat my leer om te sien, te ervaar en te vertrou. Vir Ferdinand Deist is God tegelyk “weggesteek” en ’n skuilplek. God is in die stilte en in die ritme, in die dood en die lewe. Hoe? Dit is ’n misterie.

Die beste wat ons kan doen, is om na God toe te sterf ... en te hoop vir die beste. Vrees is onnodig, want die tafel van oorvloed staan vir ons gereed. Met Psalm 31 kan ons sê: U het my voete ’n ruim staanplek gegee. Amen.

(Dr Tanya van Wyk is ’n dosent aan UP se Fakulteit Teologie en Religie)