Die Hervormer

Sketse uit die geskiedenis van die Hervormde Kerk (1824-2024)

Die geskiedenis van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika begin (soos reeds voorheen aangetoon) by 1824. Deur die loop van 2024 kan die Hervormde Kerk twee eeue van kerkwees in Afrika herdenk.

Met die sitting van die eerste Algemene Kerkvergadering in Kaapstad in 1824, was die Afrikaners aan die Kaap reeds ’n gemeenskap met diverse eienskappe. Die vlak van opvoeding, taalgebruik, geletterdheid, welvaart, fisiese omstandighede, godsdiens, waardes en politieke denke het groot verskille vertoon. Daar was groot verskille in die leefwyse en geaardheid van die dorpenaars, gevestigde boere en trekboere. Dit is een van die mites van Afrikaner-geskiedskrywing dat alle Afrikaners van die eerste dag af stoere Calviniste en ’n homogene groep was.

Tog was die basiese elemente van volkwees aanwesig. Die Afrikaners het hulle aan die bodem van Afrika gebonde gevoel. Hulle het Europa nie meer geken nie. Hulle het dieselfde pioniersomstandighede en breë Protestantse erfenis gedeel. Deur huweliksluiting is families aan mekaar verbind. Die naam Afrikaner is stelselmatig al meer gebruik. Reeds in 1707 het Hendrik Bibault aan die landdros in Stellenbosch, toe dié dreig om hom te verban vanweë opstandigheid, verklaar: Ik ben een Africander. Piet Retief noem ds Van der Lingen een ware Africander, en veldkornet Buchner merk op dat die gebeure in die Kaapkolonie strydig was met den murg der Africanders.

Die Afrikaners aan die Oosgrens van die Kaapkolonie was in die jare 1820 tot 1840 met byna onoorkomelike politieke, ekonomiese en kulturele probleme gekonfronteer. Hierdie situasie moes hulle op die een of ander wyse hanteer. Die manier hoe ’n groep van hulle dit gedoen het, was deur die Kaapkolonie te verlaat en te emigreer na die gebiede noord van die Garieprivier. Tot en met 1840 het duisende Afrikaners, ongeveer 9% van die blanke inwoners van die Kaapkolonie, die kolonie op ’n georganiseerde wyse verlaat. Daarna sou nog heelwat mense na die binneland verhuis. Hierdie emigrasie het in die latere geskiedskrywing bekend geword as die Groot Trek, en die emigrante as Voortrekkers.

Die vraag of die Groot Trek ’n politieke daad en ook verset teen die owerheid was, is al dikwels in die verlede beredeneer. Engelse geskiedskrywers het dikwels die politieke aspek van die Groot Trek onderbeklemtoon, en veral klem gelê op die ekonomiese faktore wat die Groot Trek veroorsaak het. Dat die Groot Trek egter ’n politieke daad was, blyk onder andere uit Piet Retief se Manifes (Artikel 9) soos gepubliseer in die Graham’s Town Journal op 2 Februarie 1837: We quit this colony under the full assurance that the English government has nothing more to require of us, and will allow us to govern ourselves without its interference in future. Retief se manifes kan beskou word as die Voortrekkers se eensydige verklaring van politieke selfstandigheid. Dit is soortgelyk aan die Amerikaanse Declaration of Independence. Ons weet dat die Voortrekkers wel deeglik bewus was van die Amerikaanse stryd teen Brittanje om hul politieke selfstandigheid te verkry.

Die politieke aard van die Groot Trek blyk verder uit die Voortrekkers se verkiesing van ’n eie wetgewende vergadering op 2 Desember 1836 wat alle kerklike, militêre, wetgewende en regsprekende sake sou hanteer (Voortrekker Argiefstukke 1829-1849). As gevolg van die politieke aard van die Groot Trek, interpreteer sommige historici dit as ’n daad van verset, selfs as die eerste afwerping van imperiale en koloniale mag in Afrika.

Die goewerneur, sir George Napier, het in die Government Gazette van 4 Mei 1838 die Kaapse staatsamptenare en predikante opdrag gegee om alles in hul vermoë te doen om die uittog te stop en op geen wyse aan die uittog deel te neem nie.

Hierdie opdrag van die Britse goewerneur was nie strydig met die Kerk se eie opvattings nie. ’n Buitengewone Algemene Kerkvergadering van die Nederduitsch Hervormde Kerk het in 1837 in Kaapstad sitting geneem om die kerklike krisis en verlies aan lidmate te bespreek. Predikante het intussen van die kansels af, in korrespondensie en in persoonlike gesprekke die Groot Trek veroordeel omdat dit volgens hulle na geestelike verwildering sou lei. Dit is ook beskou as opstand teen die Engelse koningin. Die jong Victoria is juis in dié tyd met groot toejuiging as koningin van Engeland gekroon. Daarom het die vergadering besluit om ’n Herderlijke Brief aan die gemeentes te rig en van kerklike kant te probeer om die Groot Trek af te wys en sodoende die uittog te demp. Ds TJ Herold het die brief opgestel, en dit is deur die vergadering met net twee teenstemme aanvaar. Net ds GWA van der Lingen en ds HA Moorrees het beswaar gehad teen die inhoud van die Herderlijke Brief.

Die houding van die Kerk teenoor die Groot Trek blyk ook uit die besluite wat die ring van Graaff-Reinet geneem het. Die meeste Voortrekkers het uit die omgewing van Graaff-Reinet gekom en het by geleentheid teruggekeer om hul kinders te laat doop. Die vraag word tydens die Ringsvergadering gevra, of die Voortrekkers se kinders gedoop mag word. Uiteindelik het die ring toegelaat dat die predikante die evangelie aan die Voortrekkers mag verkondig, maar nie die sakramente aan hulle mag bedien nie. Die Voortrekkers is in effek onder sensuur geplaas, omdat die Nagmaalformulier opstand teen die owerheid en skeuring in die Kerk as ’n aanstootlike sonde beskryf. Omdat die Kaapse kerk die Voortrekkers as opstandelinge beskou het, sou dit noodwendig meebring dat hulle van die sakramente uitgesluit moes word.

Die gevolg van die negatiewe houding van die Kaapse kerk is dat daar ’n bepaalde verwydering tussen die Voortrekkers en die Kaapse kerk ingetree het, wat later daartoe sou lei dat die Hervormde Kerk in die Transvaal besluit het om onafhanklik van die Kaapse kerk te funksioneer.

(Dr Wim Dreyer is ’n dosent

 aan UP se Fakulteit Teologie)