Die Hervormer

As die duiwel in jou oor fluister

Hierdie verhaal herinner ons daaraan dat keuses en versoekings deel is van ons menswees. Dit herinner ons ook daaraan dat God nie robotte gemaak het nie, maar mense wat keuses kán maak. ’n Wonderlike voorreg, maar ook ’n groot verantwoordelikheid.

Bashir is die aanvanklike hoofkarakter van ’n Arabiese teks uit die negende eeu. Die verhaal speel af tydens die oorlog tussen Bisantium en die Moslems van die Umajjade Dinastie.

Bashir is as kind uit sy geboorteland in die Bisantynse Ryk deur die Moslems weggevoer. In die vreemde Arabiese land is hy aan die kalief, die regeerder van die Moslems, se sorg toevertrou. Hy is as Moslem opgevoed, maar toe hy grootgeword het, lees ons: Die Satan het na hom gekom en vir hom gefluister en hom die Christendom laat onthou, die godsdiens van sy vaders. Daarna het hy terug na sy geboorteland en die godsdiens van sy vaders gevlug.

Die Satan met sy fluistering is dus die oorsaak van hierdie “bose daad”. In die Koran kry ons dieselfde werkwoord as ’n handeling van die Satan in die verhaal van Adam en Eva in die paradys. Volgens Sura 7:20 (die hoofstukke in die Koran staan as Suras bekend), het die Satan vir Adam en Eva gefluister. Die fluistering was ’n poging om hulle te versoek. Hulle het toegegee aan die versoeking, met die slegte gevolge wat ons almal uit die Bybelse verhaal ook ken.

In die Islam word die versoeking deur die Satan meestal as hierdie fluisteraksie beskryf. Satan word selfs in Sura 114:5 die Fluisteraar genoem. Hy word oor die algemeen uitgebeeld as die bose fluisteraar wat bose gedagtes in mense plaas en hulle so verlei tot bose dade. Omdat dit so ’n bose daad is, word daar van alle Moslems verwag om hulle van enige fluistering te weerhou.

Hierdie gedagte kom egter nie net in die Islam voor nie. Ons kry verwysings na hierdie verskynsel in die antieke Joodse literatuur. H Schwartz in sy boek, Reimagining the Bible. The Storytelling of the Rabbis, wys byvoorbeeld daarop dat rabbi Johanan ben Zakkai die fluistering van bose geeste bestudeer het. Die fluistering kom ook ter sprake as daar oor rabbi Hillel se dissipels gepraat word.

Dit kom ook voor by die kerkvaders in die eerste paar eeue na Christus. Hulle het baie nagedink oor die oorsprong van die boosheid in God se skepping en saamgestem dat gevalle engele die bron van die boosheid is. Volgens EC Prophet in sy boek Fallen Angels and the Origins of Evil is hierdie gevalle engele uitgebeeld as onsterflike, gevleuelde wesens, donker en skaduagtige demone wat die mens verlei om te dwaal. Die verleiding geskied deur bose gedagtes in hul ore te fluister.

Ons kry nie die werkwoord fluister in hierdie konteks in die Bybel nie, maar ons lees wel van ’n bose gees wat deur die Here gestuur is en vir Saul die hele tyd ontstel het nadat hy van die Here af weggedraai het (1 Sam 16: 14). Die parallelle gedagte lê daarin dat die bose gees hom ontstel het, maar ook dat die bose gees deur die Here gestuur is. Bashir se twyfel is deur die Satan se fluistering veroorsaak, maar dit is alles vooraf deur God bepaal.

Die versoeking van Jesus is nog ’n voorbeeld van die verleiding van Satan, of dan pogings om Jesus te versoek en twyfel in Hom te skep. In Jesus se geval het Hy egter die versoekings weerstaan en oorwin, soos ook vooraf deur God bepaal (Matt 4). Weer lees ons nie die woord fluister nie, maar die Satan het ook woorde gebruik om Christus te versoek.

Die invloed van hierdie tradisie strek baie wyd, tot in die moderne tyd. Daar word gereken dat die Satan se werkwyse om in sy prooi se ore te fluister, waarskynlik ook ’n invloed op John Milton se beskrywing van Satan in Paradise Lost gehad het. Net so was die tradisie ook in die vroeë moderne Christelike Europa bekend, soos uitgebeeld in ’n muurskildery waar die Antichris vir mense preek terwyl die Satan besig is om in sy oor te fluister. Dit is ’n muurskildery deur Luca Signorelli in die Orvieto Katedraal in 1501 (sien regs).

Die tradisie is dikwels ook teen die Islam gebruik. Talle uitbeeldings van Mohammed uit die 16de en 17de eeu wys die Satan wat besig is om in sy oor te fluister terwyl hy preek. Een voorbeeld kom uit Wynkyn De Worde se Here begynneth a lytell treatise of the turks lawe called Alcoran (sien skets).

In ons eie taal word ook graag vir ’n moeilike of stout kind gevra: Sit die ou duiwel alweer op jou skouer?

Die duiwel is dus meestal gesien as die bron van versoeking, en hy doen dit deur met mense te praat of vir hulle te fluister. In die skeppingsverhaal van Genesis 2 kry ons ’n interessante variasie daarvan, terwyl ons terselfdertyd sien waaroor dit werklik gaan. Ons lees dat daar twee spesiale bome in die middel van die tuin was, die boom van die lewe en die boom van alle kennis. God se opdrag was: Julle mag van al die bome in die tuin eet, behalwe van die boom van alle kennis. Hulle kon dus selfs van die boom van die lewe ook eet. Nie dat dit ’n verskil sou maak nie, want hulle het die lewe gehad. Die lewe by God, die lewe wat goed was, die lewe wat nie die dood geken het nie. Die lewe waar hulle dus kon fokus op dit wat God van hulle verwag.

Toe kom die slang, een van die wilde diere in die tuin, maar listiger as die ander. Later is die slang as die duiwel geïnterpreteer, maar hier is hy net die slang. Hy fluister nie noodwendig nie, maar gebruik steeds woorde as hy vir die vrou vra: Het God werklik gesê julle mag van geen boom in die tuin eet nie? Die leser weet God het nie dit gesê nie. Maar so lok hy die vrou uit tot ’n gesprek. Die vrou antwoord ontkennend, omdat God hulle net verbied het om van die boom van alle kennis te eet. Die slang versoek hulle met die aanloklike gedagte om, as hulle dit eet, net soos God te kan wees.

Die versoeking klop dus aan die deur. Skielik moet die mens nou iets anders doen, eers die vrou en later die man – hulle moet ’n keuse maak! Versoekings is immers eers ’n versoeking as jy ’n keuse moet maak. As jy nie vry is om te kan kies nie, is daar geen versoeking nie. Versoeking en die vryheid van keuse gaan dus hand aan hand. In Adam en Eva se geval is die keuse eenvoudig – gehoorsaam dit wat God van hulle in hul lewe vra, of kies om beter as God te weet. Die versoeking maak die keuse baie moeilik: As jy kies om van die boom te eet, sal jy so slim soos God word!

Die verhaal herinner ons dus daaraan dat dit deel van ons menswees is dat ons keuses moet maak. Maar juis daarom is versoekings ook deel van ons menswees. Dit is wat ons wil verlei om die verkeerde keuses te maak. Terselfdertyd herinner dit daaraan dat God nie robotte gemaak het nie, maar mense wat keuses kan maak. ’n Wonderlike voorreg, maar ook ’n groot verantwoordelikheid.

’n Verantwoordelikheid waarvan ons nie kan wegskram nie, want dit is deel van die lewe, deel van ons menswees. Ja, mense wil graag soms vir God die skuld gee vir daardie versoekings, maar Jakobus sê duidelik in die Jakobusbrief dat versoekings nie van God af kom nie. Niemand kan God verlei nie, maar God verlei self ook niemand nie!

Meer dikwels wil ons steeds vir die Satan die skuld gee, hy wat op ons skouer sit, wat in ons oor fluister, wat ons alweer verlei het. Ek is dan die onskuldige slagoffer. Niemand mag my veroordeel of kwalik neem nie!

Ook daar het Jakobus vir ons ’n antwoord in Jakobus 1: 14:  Maar ’n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep. Dit is dus ’n handige verskoning om die ou duiwel die skuld te gee vir my versoekings. Maar uiteindelik lê die probleem in myself, in my swakheid om aan versoekings te wil toegee. Daarom is Jesus Christus ook die antwoord op versoekings – vryspraak en vergifnis vir elkeen wat aan Hom behoort. Maar dit gaan saam met die verantwoordelikheid om my eie swakhede te ken en te erken, en om daarom die begeerte te hê om uit dankbaarheid daarmee te worstel om altyd te probeer reg kies.

(Ds Chris le Roux is leraar in Stellenbosch en Worcester)