Die Hervormer

Godsdiensvryheid en die selfregulering van die kerk

Die voortslepende drama in die hooggeregshof in Port Elizabeth waar pastoor Timothy Omotoso (en twee ander) verhoor word op aanklagte van verkragting en mensehandel, het die aandag opnuut gevestig op die kwessie van moontlike staatsregulering van godsdiensinstellings.

Voeg hierby die saak teen ses lidmate van die Seven Angels-kerk wat tans teregstaan op (onder andere) die moorde op vyf polisiebeamptes en ’n soldaat by die Ngcobo-polisiekantoor in die Oos-Kaap, en ook talle voorvalle van seksuele geweld, rampokkery, finansiële en bestuurs-ongerymdhede, belastingontduiking, magsmisbruik, onwettige geldmaakskemas en ander vorme van uitbuiting van kwesbares in die naam van godsdiens, soos insekdoder wat op lidmate gespuit word en mense wat petrol gegee word om te drink. Daar behoort dan min verbasing te wees oor die voorstelle vir die regulering van godsdiensaktiwiteite deur die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kulturele, Godsdienstige en Taalkundige Gemeenskappe (die KGT) (’n instelling waarvoor hoofstuk 9 van die Grondwet van Suid-Afrika voorsiening maak).

Vir hierdie doel het die KGT onder andere gevra vir evalueringsprosesse onder sy finale beheer, sowel as die verpligte registrasie van aanbiddingsentrums en godsdiensinstellings en -praktisyns. Die grondwetlike vryhede van kerke as instellings en noodwendig ook die beoefening van teologie in al sy fasette en gestaltes, word hierdeur geraak. Die NHKA het daarom reeds in 2017 in geen onduidelike terme nie beswaar gemaak teen die aanbevelings in die KGT se finale verslag aan die betrokke parlementêre portefeuljekomitee. Die aanbevelings is nie deur die parlement aanvaar nie, maar die KGT se fut hieroor is nog lank nie uit nie. Dit is vir die Kerk niks minder nie as skreiend onbehoorlik om oor dieselfde kam geskeer te word en aan dieselfde drakoniese regulasies onderwerp te word as die groepe en individue wat hulle in die naam van godsdiens skuldig maak aan verregaande vergrype en wanpraktyke.

Ingevolge Wet 19 van 2002 wat die werk van die KGT reguleer (die KGT-wet), is die KGT se rol slegs raadgewend en nie regulatories nie, met as eerste en belangrikste funksie om respek vir en verdere beskerming van onder andere godsdiensgemeenskappe (artikel 4 van die KGT-wet) te bevorder. Daarmee, en met verantwoordbaarheid, kan min fout gevind word. Wanneer die KGT egter aanvoer dat dit gemagtig moet word om self misbruike en wanpraktyke hok te slaan, oorskry dit sy statutêre mandaat. Alle pogings om godsdienstige aktiwiteite te reguleer en te beheer, is ultra vires ten opsigte van die KGT-wet. Die verspilling van waardevolle openbare hulpbronne op futiele pogings om die teendeel te bewys, druis in teen die openbare belang.

Indien misdadige gedrag of enige ander handeling wat die fundamentele regte van ’n persoon aantas, verband hou met godsdienstige aktiwiteite, wek dit tereg ernstige kommer, nie net by die KGT nie, maar ook by alle redelike Christene. Sodanige praktyke word egter volledig ondervang deur huidige wetgewing en die gemenereg, en dit is wetstoepassingsinstansies se taak om vinnig en effektief daarteen op te tree. Die strafhowe, die Menseregtekommissie en die Gelykheidshof moet dan die sake verder hanteer. En as die optrede van ’n godsdienspraktisyn nie skadelik of onwettig is nie, kan owerheidsingryping nie geregverdig word nie. Indien die probleem lê by die implementering en toepassing van huidige regsmeganismes, moet die oplossing by die oorsprong van die tekortkoming gesoek word.

Godsdiensvryheid

Die KGT en ander se siening dat die uitoefening van godsdiensregte beoordeel behoort te word aan die hand van die redelikepersoontoets, gaan ewe-eens nie op nie. Dit weerspreek onder meer die konstitusionele hof se uitspraak in Prince v President of the Law Society of the Cape of Good Hope (2002). Die hof het bevind dat ofskoon sommige mense se godsdienstige oortuigings bisar, onlogies of irrasioneel vir ander voorkom, of nie wetenskaplik verifieerbaar is nie, dit steeds die beskerming geniet wat deur die reg op godsdiensvryheid gewaarborg word. Gelowiges behoort nie aan die bewyslas vir die gronde van hul geloof onderwerp te word nie. Die uitspraak is ’n beslissende bevestiging van die reg van kerklidmate om hul godsdiens en geloofsoortuigings vrylik uit te lewe sonder vrees vir onbehoorlike owerheidsinmenging.

Die reg op godsdiensvryheid (geanker in die gelykheidsklousule en gerugsteun deur verwante regte soos vryheid van uitdrukking en vryheid van assosiasie en die diversiteitsvereistes van ’n pluralistiese samelewing), as ’n wesenlike fundamentele reg, regverdig ’n sterk voorkeur ten gunste van die selfregulering van die kerk. Die staat en sy wetgewers moet ag slaan op die kerk se selfverstaan. Die reg op outonomie en selfregering sluit ook die reg van kerke in om ongehinderd hul eie regsposisie vas te stel sowel as hul eie leerstellings, geloofsoortuigings en belydenisse en die praktyke wat daaruit voortspruit. Die kerk kan selfs as die beliggaming van grondwetlik verskanste godsdiensregte beskou word. Om hierdie outonomie van die kerk te minag, is nie net ongrondwetlik nie, maar ook contra bonos mores.

In die verdraagsame, oop en demokratiese samelewing wat die Grondwet in die oog het, moet godsdiensinstellings (ook kerke) voldoende ruimte gegun word om onafhanklik van eksterne verwagtinge te funksioneer, en ’n algemene vryheid geniet om hul eie reëls, standaarde en regulasies te promulgeer en toe te pas. Kerke behoort derhalwe hul eie interne sake rakende fokusterreine soos belydenis, ampte, gesag van kerkvergaderings, lidmaatskap en dissipline te reguleer – natuurlik binne die grense van die Grondwet.

Die konstitusionele hof (in S v Lawrence; S v Negal; S v Solberg [1997]) het voorheen ook gewaarsku teen maatreëls wat mense dwing om op te tree op ’n wyse wat in stryd is met hul godsdienstige oortuigings – of verhoed om op te tree ooreenkomstig hierdie oortuigings. Die beginsel van nie-inmenging soos deur die howe toegepas in Ryland v Edros (1997), Taylor v Kurtstag N.O. and Others (2004) en Singh v Ramparsad (2007) het reeds volledig deel geword van ons reg. Howe is versigtig om ’n oordeel te vel oor leerstellige kwessies en neig om toenemend ag te slaan op die outonomie en selfdefinisie van godsdiensinstellings gebaseer op hul leerstellings.

​​Daar is ook ’n ironiese anomalie wat betref oproepe tot staatsregulering. Daar bestaan ’n verskeidenheid ander aktiwiteite wat nie grondwetlik beskerm word op dieselfde wyse as godsdiensaktiwiteite nie, byvoorbeeld sport en ander vorms van ontspanning. Daarvan word egter nie dieselfde mate van regulering deur die staat vereis nie, terwyl die potensiaal vir onetiese, skadelike en onwettige aktiwiteite minstens net so groot is as by godsdiensinstellings.

’n Vry kerk

Die kerk het ’n Bybels-profetiese roeping om te getuig teenoor diegene in gesag, namens die stemloses en magteloses – ’n plig wat hy net kan nakom, en ’n reg wat hy net kan geniet mits sy onafhanklikheid van die mag van die staat gerespekteer en beskerm word.

Wat die staat nodig het, volgens Karl Barth, is ’n vry en onafhanklike kerk, wat die staat kan herinner aan sy eie beperkings en roeping, en hulle gevolglik kan waarsku om nie in óf anargie aan die een kant óf tirannie aan die ander kant te verval nie. Om dit te kan doen, moet die kerk daarteen waak om sy ekklesiologie te kompromitteer, wat noodwendig sal gebeur as hy homself verstaan soos die owerheid hom verstaan.

Kerke het sowel regte as verantwoordelikhede vis-à-vis die owerheid, terwyl die owerheid minstens die plig het om aan die kerk voldoende geleentheid te bied om te funksioneer sonder om gebuk te gaan onder beperkings en dwang rakende sy kernbeginsels en kernpraktyke. Die owerheid moet deurgaans die kerk se selfdefiniëring soos afgelei uit die Bybel en kerklike leerstellings in ag neem. Kerke het ’n wederkerige plig om te funksioneer binne die voorskrifte van menswaardigheid, openbare beleid en die reg, terwyl hulle terselfdertyd die reg behou om op hul Bybels-profetiese outonomiteit en konstitusionele sanksie aanspraak te maak. Die kerk en die staat behoort komplementêr, met wedersydse respek, te funksioneer – elkeen soewerein in sy eie domein – in die nastreef van gemeenskaplike doelwitte, naamlik die bevordering van geregtigheid en die algemene welstand van die gemeenskap.

Die sentrale rol wat godsdiens in die lewens van baie mense speel en die wyd aanvaarde openbare voordele van kerke (as privaatgefinansierde instansies) kan kwalik ontken word, selfs nie deur die kerk se felste kritici nie. ’n Sterk, onafhanklike kerk bevoordeel nie net die kerk self nie, maar ook die samelewing wat daardeur gedien word. In Christian Education South Africa v Minister of Education (2000) het die konstitusionele hof toegegee dat godsdiens en geloofsaktiwiteite bydra om konsepte van selfwaarde, identiteit en menswaardigheid te kweek wat die hoeksteen van alle fundamentele regte vorm. Godsdiens het betrekking op mense se vermoë om sin te maak van hulself en hul omgewing, en bied ondersteuning, koestering, sosiale stabiliteit en groei, sowel as ’n begrip van reg en verkeerd – aldus die uitspraak. Vir lidmate is die kerk presies dít, maar ook veel, veel meer.

Die NHKA behoort verbind te bly aan pogings om sinvolle selfreguleringsoplossings vir die godsdienssektor te vind. Die term selfregulering moet egter in die regte konteks verstaan word. Christus regeer sy kerk. Die loci classici vir die verhouding tussen die kerk en die staat, naamlik Romeine 13: 1-7, 1 Petrus 2: 13-14 en artikel 36 van die Nederlandse Geloofsbelydenis, moet gelees word saam met Johannes 19: 11. Pilatus spog oor sy volkome mag oor Christus se lewe, waarop Jesus hom dan antwoord: U sou geen gesag oor My gehad het as dit nie van Bo aan u gegee was nie. Alle gesag kom van God. Enigeen wat toetree tot hierdie debat behoort deeglik daarmee rekening te hou.

(Dr Johan van Staden is een van Die Hervormer se twee subredakteurs en leraar in Gemeente Sionspoort)