Die Hervormer

Sketse uit die geskiedenis van die Hervormde Kerk (1824-2024)

Hierdie reeks oor die geskiedenis van die  Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (Hervormde Kerk of NHKA) begin by 1824. Deur die loop van 2024 kan die Hervormde Kerk twee eeue van kerkwees in Afrika herdenk.

Gewoonlik word die ontstaan van die Hervormde Kerk teruggevoer na 1852 toe die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) se politieke selfstandigheid, na afloop van die Sandrivier-konvensie, deur Brittanje erken is. Met die opstel van die grondwet het die Hervormde Kerk amptelik die staatskerk van die ZAR geword. Dit word gewoonlik as die begin van die Hervormde Kerk beskou. Dit is ook die rede waarom die Kerk se wapen of embleem die ou ZAR-staatswapen insluit.

Waarom  by 1824 begin? Die rede is eintlik vanselfsprekend: Die eerste selfstandige sinodale vergadering in Suid-Afrikaanse geskiedenis het van 2 tot 18 November 1824 in Kaapstad sitting geneem. Daarmee is die gereformeerde gemeentes aan die Kaap van Goeie Hoop de iure en de facto verenig onder ’n selfstandige sinodale vergadering, onafhanklik van die moederkerk in Nederland. Tot en met 1824 was die gereformeerde gemeentes aan die Kaap kerkordelik deel van die Nederlandse kerk en het hulle onder die opsig en beheer van die klassis van Amsterdam en die Sinode van Noord-Holland gestaan. Daar was dus tot en met 1824 nie ’n selfstandige gereformeerde kerk in Suid-Afrika nie.

Die Hervormde Kerk se ontstaansgeskiedenis kan ook teruggevoer word na 1824. Ek maak hierdie stelling, bewus daarvan dat baie historici nie met hierdie interpretasie van die geskiedenis saamstem nie. Laat ek daarom ook ’n tweede stelling maak: Ook die Nederduitse Gereformeerde Kerk, Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika en die sogenaamde “dogterkerke” wat uit hierdie kerke voortgekom het, se ontstaansgeskiedenis is te vind in die gebeure van 1824.

Miskien moet ’n mens dit vir jouself soos ’n boom voorstel: Die wortels van die Suid-Afrikaanse gereformeerde kerke lê in die Kerkhervorming van die 16de eeu, en meer spesifiek die Nederlandse geskiedenis. Die stam van hierdie boom is die selfstandige Nederduitse kerk wat formeel in terme van die kerkreg in 1824 in Kaapstad tot stand gekom het, en die takke is die verskillende gereformeerde kerke wat uit daardie stam gegroei het. Ek het dus ’n bepaalde organiese (of “genetiese”) verstaan van die groei en ontwikkeling van die gereformeerde kerke in Suid-Afrika.

Daar is ook ’n tweede rede om by 1824 te begin: Die AKV het in 1824 die naam van die Kerk as Nederduitsch Hervormde Kerk in Zuidelike Afrika vasgestel. Die naam is in 1842 verander na Nederduitsch Gereformeerde Kerk.

In die notule van die eerste AKV (bl 1) lees ons dat die vergadering na voorafgegane vertoë van Gemeente Kaapstad op 2 November 1824 wettig gekonstitueer het. Die praeses van die AKV, ds JC Berrangé, het verklaar dat die vergadering ingevolge die Kerkorde wat kommissaris JA de Mist in 1804 uitgevaardig het, met die goedkeuring van goewerneur Charles Henry Somerset en onder toesig van die kommissaris-politiek, Sir John Truter, wettig gekonstitueer het. Naas ds JC Berrangé as praeses is ds M Borcherds as eerste skriba aangewys.

Van die gemeentes wat verteenwoordigers na die eerste AKV gestuur het, is Kaapstad, Stellenbosch, Paarl, Zwartland, Tulbagh, Graaff-Reinet, Zwellendam, Caledon, George, Uitenhage, Somerset en Worcester. Die gemeentes van Cradock en Beaufort was vakant en het geen verteenwoordigers na die AKV gestuur nie.

Een van die eerste take wat die AKV moes afhandel, was die goedkeuring van die kerklike reglemente wat die selfstandigwording van die Kaapse kerk sou formaliseer. ’n Kommissie is aangewys om die reglement na te gaan en voorstelle te maak. Tydens die vierde sitting van die AKV is die reglement en voorstelle ter tafel geneem.  Kommissaris Truter se advies was dat die kerkorde van De Mist als erkende grondwet as grondslag en uitgangspunt van die AKV moes dien en dat die nuwe reglement slegs as modificatien op die bestaande kerkorde beskou moes word. Hierdie suggestie van Truter is deur die AKV aanvaar en verskyn in die besluitebundel wat saam met die goedgekeurde reglement gepubliseer is (Synodale Resolutien, bl 35).

 Die bedoeling van Truter se advies was om die legitimiteit en handelinge van die AKV bo verdenking te stel. Nadat die Britse magte in 1806 die Kaap finaal beset het, is daar in die kapitulasievoorwaardes ooreengekom dat die gemeentes aan die Kaap met hul aktiwiteite in terme van De Mist se kerkorde kon voortgaan. De Mist se kerkorde het ook bepaal dat ’n selfstandige kerk met ’n eie sinodale vergadering tot stand kon kom. Die selfstandigwording van die Kaapse kerk, die konstituering van die eerste AKV en die aanvaarding van die reglement berus (volgens Truter) op die bepalings van De Mist se kerkorde.

Nadat die tegniese punte uitgeklaar is, het die praeses der algemeene bepalingen van het bestuur der Hervormden Kerken in deze volksplanting ter tafel geneem, en dit is eenparig aanvaar en goedgekeur. Verder is die Hervormde Kerken deze Kolonie in drie ringe verdeel. Daarmee het die Nederduitsche Hervormde Kerk in terme van die landswet en kerklike reg as ’n selfstandige kerk aan die suidpunt van Afrika gekonstitueer.

(Dr Wim Dreyer is ’n dosent aan UP se Fakulteit Teologie)