Die Hervormer

Geloof vóór bang

As dit gaan soos dit nou gaan, het die oumense altyd gesê: In tye soos hierdie moet ’n mens geloof sit vóór bang.

Dit is ’n spanningsvolle tyd. By feitlik elke aspek wat te doen het met die politiek, ekonomie, onderwys, familie en die regstelsel kan ’n mens die woord krisis veronderstel. Die verdelingslyne in die samelewing verdiep, ou stereotipes word afgestof en blinkgevryf. Die skrif is aan die muur, vertel ons vir mekaar. Wat is jou Plan B?

Die Kerk is in die proses nie onaangeraak nie. ’n Lang tydperk van groei en die afstigting van nuwe gemeentes is volledig omgekeer na die kombinering, amalgamering en konsolidasie van gemeentes. Berekeninge wat die ring van Wes-Kaapland gedoen het vir die afgelope ringsvergadering in Mei dui aan dat daar in die Kerk tans 43 ringe is met 344 gemeentes en 451 predikante, waarvan ongeveer 120 reeds afgetree het. Gedurende die volgende vyf jaar sal nog sowat 35 of meer predikante aftree (getalle is benaderd). Tel daarby nog ’n aantal wat bedank, siek word of sterf. Met die lae getal predikante wat toetree tot die bediening, kan daar dus oor vyf jaar ’n tekort van tot 50 predikante in die Kerk wees, gemeet teenoor die huidige getal gemeentes. Indien die tendens van die afname in lidmaatgetalle boonop voortduur, mag selfs verdere aanpassings noodsaaklik wees vir die voortgesette funksionering van die Kerk.

Die driepuntplan

In Die Burger van Woensdag 5 September 2018 verskyn dr Chris Jones van die NG Kerk se artikel Ten duurste ten gronde. Hy begin met die opmerking dat daar tans min in die kerk is wat hom inspireer. Dit hou onder andere verband met die NG Kerk se hantering van selfdegeslagverhoudings en die hofsaak waarop dit uitgeloop het. Die onderwerp gee aanleiding tot ’n dieper, diagnostiese kyk na die manier waarop die kerk vraagstukke hanteer wat nie net die materiële gehalte van mense se lewe raak nie, maar hulle in hul wese aantas, krenk en verwring.

Hoe land ’n kerk daar? Dr Jones skryf dit toe aan leë teologiese rakke, die misbruik van tekste en saam hiermee ook skottels vol holrug-reseppies. Stoele vol kamma-kenners. Gretige vertoners. En natuurlik derduisende meegevoerde kykers.

Wie dryf dit? Met ’n snydende metafoor daag hy die kerklike deelnemers se motiewe uit: ...priesters van eiebelang, en die selfvoldane verering van eie agendas...

 As ’n diagnose is die insigte van dr Jones van toepassing op alle kerke. Al het die Hervormde Kerk die deernisvolle, en na my oordeel teologies korrekte, besluit geneem om vir gay lidmate ruimte te skep vir die volle verwesenliking van hul geloofsroeping in die Kerk, is daar altyd ander bestaande en nuwe sake wat ons weer en weer gaan toets of ons nie optree soos priesters van eiebelang nie. Die soeke na eiebelang is ’n byna onweerstaanbare sleurkrag waarteen ons waaksaam moet bly. Die manier om dit te doen, is drieledig:

  1. Hou die tradisie van teologiese uitnemendheid lewend in die Hervormde Kerk, spesifiek met betrekking tot kritiese vraagstelling en die ontdekkende soeke na die bedoeling van God.
  2. Daar is ’n verskil tussen kerk speel en kerk wees. Dr Jones se ontleding en kritiek is veral van toepassing waar kerk gespeel word. Dit is waar die struktuur of program die belangrikste is en die priesters van eiebelang die septer swaai. Om kerk te wéés, is iets heel anders – ’n dinamiese ontmoeting van gelowiges binne die kragveld van God se skeppende teenwoordigheid. Dit is daardie energie wat die kerk uniek maak.
  3. Vir gelowiges het die gang van die lewe altyd twee aspekte. Eerstens verklaar ons die verloop van ons lewe in terme van oorsaak en gevolg waarby ons God betrek. Tweedens dink ons aan die lewe as ’n legkaart waarvan ons nie al die stukke het nie en daarom nie die volledige prent kan sien nie. Net God kan dit sien, daarom moet ons in vertroue lewe.

Om eg kerk te wees, vra dus ’n ingesteldheid van ontdekkende soeke na God se bedoeling, gewillige deelname aan die energie van God in die kerk, en vertroue op die uitkoms waarheen God met ons op pad is.

Planmatig, besielend en gedrewe

Dit is onbetaamlik vir ’n kerk om te lyk of sy fut uit is. Selfs waar gemeentes genoodsaak is om geboue te verkoop en te kombineer of te amalgameer ter wille van groter volhoubaarheid, behoort die geestelike toewyding, lewende hoop en entoesiastiese deelname van lidmate toe te neem eerder as te taan. Ons het immers ’n skat wat nie deur mot of roes kan vergaan nie, en ons hou dit in stand deur te verseker dat die kerk lewendig bly, geanker aan die sake wat hierbo vermeld is. Dit is van toepassing op alle lidmate van die Kerk.

Die persone wat ’n posisie van leierskap beklee, het natuurlik ’n besondere verantwoordelikheid. Goeie leierskap word gekenmerk deur ’n duidelike plan, besielende leiding en onver­moeide dryfkrag. Dit is die taak van diegene wat in ’n plaaslike gemeente, streek (ring) of nasionaal (Algemene Kerkvergadering, Algemene Diakensvergadering) leiding neem.

My indruk is dat die plan in ’n groot mate in plek is. Dit is deel van ons tradisie. Daar was miskien ’n tydperk toe die Kerk daardie tradisie as vas en onbuigsaam gesien het en as’t ware gevange was daarin, maar intussen het daar groter soepelheid gekom met ruim moontlikhede vir variasie en vernuwing, sonder om ons onderskeidende identiteit prys te gee.

Besielende leierskap is die terrein waar daar altyd ruimte is vir groei en verbetering. Tydens die pas afgelope Voortgesette Teologiese Toerusting is aandag gegee aan die gesonde emosionele ingesteldheid van predikante en kerkraadslede. Dit was goed om daaroor te praat, aangesien emosionele en geestelike afgematheid die groot vyand van besielende leierskap is. Predikante en kerkraadslede wat gedurig mense moet inspireer en aanspoor tot groter betrokkenheid en wie se pogings dikwels beantwoord word met weerstand en afsydigheid, gee naderhand moed op. Dit is wanneer futloosheid intree. Ironies is dit juis diegene wat nie wil deelneem nie, wat dan kla dat daar niks aangaan nie. Besielende leierskap kan net besielend bly as die leiers glo in wat hulle doen. Die saak is altyd groter as ons. Dit is God se saak en verdien ons entoesiasme. Kom ons pak dit dan so aan.

Laastens is goeie leierskap gedrewe. Predikante, kerkrade en lidmate moet kragte saamsnoer om ’n lewende bediening van mekaar op te bou, en vanuit die gemeente as sentrum ook missionaal uit te bou in die gemeenskap. Daar is ’n behoefte by mense om ’n verskil te maak in die lewe van diegene wat swaarkry. Dit is daar waar die evangelie praktiese gestalte kry, en dit moet ’n volgehoue projek word met direkte betrokkenheid.

Slot

Ons het aan die begin verwys na die spanning en agteruitgang waaronder ons land en samelewing gebuk gaan. Die rede is eenvoudig – daar is nie ’n behoorlike plan, besielende leierskap wat die verbeelding aangryp, en gedrewenheid vir die regte sake by die landsregering nie.

Dieselfde mag nie waar wees vir die kerk nie. Die kerk vra na God se bedoeling, leef uit sy energie en vertrou op sy toekoms. Ons is die kerk. Daarom moet ons geloof sit vóór bang.

(Dr Piet van Staden is emerituspredikant en leraar in Stellenbosch en Worcester)