Die Hervormer

Wat glo ons? (Die Franse Geloofsbelydenis)

Tydens die Kerkhervorming in die 16de eeu het talle belydenisskrifte tot stand gekom. In hierdie aflewering staan ons stil by die Franse Geloofsbelydenis van 1559.

Vanweë ingrepe deur die owerheid, veral tydens die Bloedbruilof van Parys in 1572, is Frankryk vandag nie ’n Protestantse land nie, maar oorwegend Rooms-Katoliek. Tog is dit so dat baie kernsake van ons Reformatoriese belydenis sy oorsprong in Frankryk het. Die Franse Kerkhervormers is wreed vervolg en uitgewis, en daarom is dit veral aan Calvyn (as Fransman uit Pikardië) te danke dat die Franse denke behoue gebly het en versprei het na baie lande, onder andere Suid-Afrika.

Jacques Le Fevre d’Etaples (1455-1537), ’n professor aan die Sorbonne, het reeds in 1530 die Bybel in Frans vertaal, en hy het selfs voor Luther en Zwingli geleer dat die Bybel die hoogste gesag en norm in geloofsake is, en tweedens dat regverdiging deur die geloof plaasvind.

Een van sy studente, Melchior Wolmar, was professor in Grieks in Bourges, en hy was op sy beurt weer een van Calvyn se dosente. Een van sy ander studente was Petrus Olevitanus, ’n familielid van Calvyn. Hy het self ook ’n Franse vertaling van die Bybel in 1535 in Neuchâtel gepubliseer. Uit hierdie kring van geleerdes kom ook persone soos Guillaume Farel, Pierre Viret en Theodor Beza. As gevolg van die vervolging in Frankryk het Calvyn en talle ander Franse na die Franssprekende dele van Switserland en die Nederlande gevlug.

Die Franse Protestante het teen 1555 ongeveer 400 000 getel – maar hulle is deurlopend vervolg en uitgewis. Dit het vanselfsprekend die nood vir ’n geloofsbelydenis akuut gemaak, want hulle moes hulself kon verdedig teen allerlei beskuldigings van dwaalleer.

Daarom is dit geregverdig om te beweer dat sommige geloofsbelydenisse van die Kerkhervorming in die gloed van die brandstapel ontstaan het. Vir die Hervormers van die 16de eeu was die geloofsbelydenisse nie ’n akademiese spel of geleerde gesprek nie – dit was deel van hul worsteling om te midde van wrede vervolging as gelowiges staande te bly.

Belydenisvorming was deel van die stryd om waarlik kerk van Christus te wees. Deur die formulering van die belydenis, het die Hervormde Kerk gestalte aangeneem. Verskeie briewe is van die Franse kerk aan Calvyn gerig, om hom te vra om te help met die opstel van ’n geloofsbelydenis. Ander (byvoorbeeld Jean du Bordel) het ook gepoog om belydenisskrifte op te stel, sonder veel sukses.

Calvyn wou eers nie ’n geloofsbelydenis opstel nie, omdat hy van mening was dat dit nooit die werk van een mens kan wees nie. Nadat die voorsitter van die Paryse Sinode, Francois de Morel, Calvyn gesmeek het om voort te gaan met die opstel van ’n belydenisskrif vir die Franse kerk, het hy ingestem en het hy dit in samewerking met Beza en Viret opgestel.

In die loop van 1559 het die vervolging van die Hervormers in Frankryk tydelik tot bedaring gekom, en dit het geleentheid gebied dat die Sinode van Parys weer sitting kon neem, en wel op 23 Mei 1559.

Die Sinode het bestaan uit 20 afgevaardigdes wat 72 gemeentes verteenwoordig het. Hulle het in ’n private woonhuis vergader. Die belydenisskrif wat Calvyn opgestel het, het uit 35 artikels bestaan. Die Sinode het dit in behandeling geneem. Die Sinode het die eerste twee artikels herskryf, met die gevolg dat dit tans uit 40 artikels bestaan.

Die Franse Geloofsbelydenis (Confessio de Foy) is goedgekeur en in 1560 aan die koning van Frankryk voorgelê, en tydens die Franse Sinode van 1571 word dit finaal onderskryf deur al die Hervormde kerke en gemeentes in Frankryk.

Interessant is die verandering wat die Sinode van Parys van 1559 aan die eerste twee artikels aangebring het, in vergelyking met die artikels soos Calvyn dit opgestel het. In Artikel 2 van die belydenis lees ons byvoorbeeld dat God Hom nie net deur sy Woord aan die mens openbaar nie, maar ook deur die natuur.

Toe Guido de Bres in 1561 gewerk het aan ’n belydenisskrif (wat ons ken as die Nederlandse Geloofsbelydenis), het hy as Franssprekende die Franse Geloofsbelydenis as voorbeeld gebruik. Daarom is daar, wat inhoud en struktuur betref, talle ooreenkomste met die Nederlandse Geloofsbelydenis.

Die invloed van Calvyn se denke en teologie op die Franse en Nederlandse Geloofsbelydenis is omvangryk. Die Hervormde Kerk, wat die Nederlandse Geloofsbelydenis as belydenisskrif onderskryf, staan gevolglik in die Calvinistiese tradisie. Dit word op talle plekke sigbaar, onder andere die Kerkorde van die NHKA.

(Dr Wim Dreyer is ’n dosent aan UP se Fakulteit Teologie)