Die Hervormer

Die Sinode van Dordrecht van 1618-1619 (Slot)

Die Dordtse Leerreëls vorm een van die drie formuliere van eenheid, synde deel van die belydenisskrifte wat uit die Reformasie kom en sodoende deel van die Kerk se tradisie uitmaak, soos die Kerkorde daarna verwys (Ordereël 1). Die betekenis van die belydenisskrifte is nie net histories van aard en bedoel vir dié wat ’n besondere belangstelling in die verlede beleef nie.

In die proponentsformule wat elke bedienaar van die Woord onderteken by toelating tot die amp (Ordinansie 3.1), word ook na die formuliere van eenheid verwys, waaronder die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls bedoel word. Hier moet daarop gewys word dat die ondertekening van die proponentsformule beteken dat die formuliere van eenheid in die dienswerk van elke bedienaar van die Woord eietyds gemaak word.

Die formuliere van eenheid soos onder andere die Dordtse Leerreëls, kan dus nie maar net van historiese belang geag word as ’n belangstelling van sommige, al dan nie. Die mening bestaan dat die Dordtse Leerreëls, veral, oor jare in die Kerk minder prominent gefunksioneer het. Daarom lewer die resente aandag wat bestee is aan dié belydenisskrif wat tydens die Sinode van Dordrecht van 1618-1619 geformuleer is, hopelik ’n bydrae tot die bewussyn dat Skrif, belydenis en kerklike orde in mekaar se verlenging staan. Die wyse waarop met die Kerkorde omgegaan word en die belangstelling wat die genoemde formuliere van eenheid in die kerklike praktyk geniet, laat die kritieke vraag ontstaan na die gesag van die Skrif as Woord van God, die normerende norm vir alle kerklike handelinge in die Kerk, waarby belydenis en Kerkorde ingesluit is.

Die Dordtse Leerreëls moet in sy konteks hermeneuties verstaan en waardeer word. Gebeur dit nie, kan maklik tot die slotsom geraak word dat hier gewerk word met ’n koue en meedoënlose predestinasie, wat beteken dat sommige uitverkies en ander verwerp is. Die Sinode kom byeen om die inhoud van die voorlegging van die Remonstrante te weerlê en op die regte leer te wys. Dit het beteken dat die Leerreëls nie ’n volledige Bybelse uiteensetting van die uitverkiesing is nie en die regverdigingsleer ook nie in samehang met die uitverkiesing behandel word nie. Daarom is die trant van die Leerreëls, anders as die twee ander belydenisskrifte, eerder ’n reaksie op ’n bepaalde verkeerde leer wat bestry en reggestel moet word.

Uitverkiesing sal altyd ’n probleem bly indien God se dade vanuit die menslike wysheid en kennis, gewapen met eie logika, beoordeel word. Dit is fassinerend om oor geloof, genade en regverdiging te juig en te jubel. Tog moet nie uit die oog verloor word nie dat Gód sondaars regverdig en dat dit nie beteken dat gelowiges deur God se regverdiging hier aan die duskant van die graf tot sondeloosheid vorder nie. Derhalwe is dit begryplik dat niemand ’n bydrae tot sy eie saligheid lewer en God as’t ware gunstig kan stem deur ’n stroom van goeie werke nie. Dit is die een dwaling wat die Sinode wou verwerp. Die vraag is jare gelede in Die Hervormer gevra, naamlik: Ons sê ons is kerk, maar is ons kerk? Want ’n kerk kan alleen kerk wees as kerk van die Woord, in alle kerklike handelinge, in die wydste sin van die Woord. As ons derhalwe uitverkies is, gaan dit eintlik met verbasing gepaard, want verdien ons om uitverkies te word? Daarom moet ons dalk maar nie te breedsprakig of met opvallende selfvertroue uitsprake oor uitverkiesing maak nie; anders gestel, versigtig praat oor God se handelinge (vgl Rom 11: 33-36).

Maar: Dit eindig nie hier nie, gelukkig nie. In Christus het al die ou dinge verby gegaan; kyk, dit het alles nuut geword sodat ons tog word wat ons nooit uit onsself kan wees nie. Ons is uit die doodsbestaan verlos (Rom 7: 24), ons het deur Christus nuwe mense geword, ten spyte van die daaglikse koninklike stryd teen die sonde en die uitwasse wat ons lewe in Christus ontsier. Die appèl keer voortdurend terug om myself te vra en te plaas onder die vraag: Wat sou liewe Jesus gedoen het? Die Dordtse Leerreëls verklaar nadruklik dat die uitverkiesing ’n uitverkiesing in Christus is, van ewigheid af, om heilig en onberispelik voor Hom te wees (vgl Ef 1: 4-6). Dit is nie gelyk aan ’n voor die skepping, ewige, Goddelike besluit wat nou as’t ware outomaties funksioneer ongeag Christus, die verkondiging van die evangelie en die genade van God, en los van die Woord nie.

Is ek daarom uitverkies? Sê nou maar net ek het al die jare van my lewe plegtig en getrou kerk toe gegaan, selfs tiendes gegee, bewus van my bekering en heiligmaking as heilsorde soos dit in sommige tradisies verwoord word, net om aan die einde te hoor: Jammer, jy het dit nie gemaak nie!

Indien uitverkiesing só gesien word, is ons gestrand op die ruwe en onherbergsame terrein van predestinasie wat poog om die beeld van God te skaad in ’n poging tot selfregverdiging en tot oneer van God. Die Dordtse Leerreëls verklaar in die slothoofstuk (Hoofstuk 5, artikel 10) dat sekerheid setel in die geloof aan die beloftes van God wat Hy in sy Woord oorvloedig tot ons troos openbaar het, uit die getuienis van die Heilige Gees en uit die ernstige en heilige strewe na ’n goeie gewete en goeie werke. Niemand kan God verwyt nie en niemand kan homself verontskuldig asof God hom die rug gekeer het nie. Geloof is ’n geskenk van God, maar ongeloof kan nie aan die adres van God gerig word as ’n instrument tot selfregverdiging nie. Sekerheid hang nie saam met die eb en vloed van die menslike lewe van elke dag nie, maar bestaan daarin dat ons God betroubaar kan ag, in die wete dat Hy die werke van sy hande nie laat vaar nie.

Verkiesing (én verwerping) kan nie los van Christus gebeur nie. Verkiesing buite Christus om bestaan nie. Elkeen wat in Christus glo, kan nie anders nie as om te bevestig en stamelend met verwondering te verklaar dat God my verkies het. Wetenskaplike bewyse en selfondersoek gaan nie vooraf aan die uiteindelik keuse om tog te glo nie.

Dit is ’n tipies pastorale besorgdheid van Dordt (Hoofstuk1, artikel 16) om diegene wat die lewende geloof in Christus en die vaste vertroue en gehoorsaamheid nie ten volle ervaar nie, op te roep om nie mismoedig te word wanneer hulle van verwerping hoor nie. God het beloof dat Hy die dowwe lamppit nie sal blus en die geknakte riet nie sal breek nie. Jesus Christus het gekom om die verwerping op Homself te neem, sodat uit die barmhartigheid van God die verlore mens ’n nuwe toekoms ontvang. Verwerping is die gevolg van ongeloof. Die samevattende geheel dui op ’n positiewe belewenis en gaan nie in die eerste plek oor verwerping nie, maar oor uitverkiesing. Geloof is eintlik verwondering wat die grens en reikwydte vorm van ons belewenis daarvan.

Die bede is dat die meer intense bemoeiing met die Dordtse Leerreëls sal voorkom dat die Leerreëls vanweë onbekendheid en as gevolg van sy eie aard wat spruit uit die omstandighede waarin die Leerreëls die lig sien, onbruikbaar verklaar word. Na alles word die wonder tog geboekstaaf: Ek is in Christus uitverkies, ek weet dit deur die geloof in Christus, Jesus.

(Dr Barry van Wyk is emerituspredikant

en leraar in Waterberg en Zoutpansberg)