Die Hervormer

Wat glo ons? (Ander belydenisskrifte)

Tydens die Kerkhervorming het talle belydenisskrifte tot stand gekom. In hierdie aflewering staan ons stil by die Geneefse Geloofsbelydenis en die Eerste Switserse Geloofsbelydenis.

Die Geloofsbelydenis van Genève

Guillaume Farel het sedert 1532 die Kerkhervorming in Genève bevorder. Nadat die Rooms-Katolieke Kerk se invloed en beheer oor kerklike sake verbreek is, het daar ’n kerklike vakuum ontstaan. Daar was geen kerklike organisasie nie, en daarom het die owerheid grootliks die gang van kerklike sake beheer. Die owerheid was die Kerkhervorming goedgesind, en het die Reformatoriese predikers ondersteun. Daar was egter geen belydenisskrif wat as norm vir die prediking gegeld het nie, behalwe dat die owerheid bepaal het dat die predikers die evangelie “volgens die Woord van God” moet verkondig. Die gebrek aan ’n belydenisskrif, gebrek aan kerklike organisasie en gebrek aan kerklike dissipline was die redes waarom Farel in Augustus 1536 Johannes Calvyn oortuig het om na Genève te gaan.

Calvyn se invloed is dadelik gevoel. Hy het rigting aan die Kerkhervorming in Genève gegee deurdat hy die basiese geloofsbeginsels helder en duidelik geformuleer het. Die Geloofsbelydenis wat Calvyn in samewerking met Farel opgestel het, was ’n opsomming van die Geneefse Kategismus wat hulle reeds tevore opgestel het. Die Geloofsbelydenis is op 16 Januarie 1537 aan die politieke leiers voorgelê, maar hulle het dit eers teen Maart 1537 aanvaar. Die Geneefse Geloofsbelydenis is op 27 April 1537 in Frans gepubliseer, en ’n jaar later in Latyn.

Die Geneefse Geloofsbelydenis bestaan uit 21 artikels. Die artikels lê veral klem op die Woord van God as die enigste bron en norm van die geloof (sola scriptura); die totale verlorenheid van die mens (erfsonde); redding, regverdiging en wedergeboorte kom deur Jesus Christus alleen; die mens ontvang al hierdie gawes alleen omdat God genadig is (sola gratia); die manier hoe ons deel kry aan die genade van God is deur die geloof (sola fidei); verder word die sakramente, die kerk, die ampte, die dissipline en die owerheid uiteengesit. Wat die kerk betref, kom die bekende standpunt na vore dat die ware kerk daar is waar die evangelie reg en suiwer verkondig word, en daar word verklaar dat die Rooms-Katolieke Kerk “die sinagoge van die duiwel” is.

Die Eerste Switserse Geloofsbelydenis

Die Duitssprekende Switserse stede in Switserland wou graag groter eenheid met die Lutherane bewerkstellig. Die Duitssprekende stede se kerke en owerhede het almal afgevaardigdes na Basel gestuur, waar hulle op 30 Januarie 1536 in ’n konvent byeengekom het. Die Konvent van Basel het Bullinger en Leo Jud aangewys om ’n geloofsbelydenis op te stel. Bucer het meegewerk aan die formulering van die artikels wat oor die Nagmaal handel. Die artikels is in Latyn gepubliseer en op 4 Februarie 1536 deur al die afgevaardigdes onderteken. Leo Jud het die Duitse vertaling behartig. Die afgevaardigdes en politieke leiers van die verskillende stede het weer op 27 Maart 1536 vergader – dié keer sonder die teoloë – en hulle het die Geloofsbelydenis eenparig aanvaar.

Interessant genoeg is in die Duitse teks ’n paragraaf bygevoeg wat (vry vertaal) soos volg lui: Met hierdie artikels wil ons geensins ’n enkele geloofsreël aan alle kerke voorskryf nie. Ons erken immers geen geloofsreël as die Heilige Skrif nie. Wie dan ook al hierdie Geloofsbelydenis aanvaar, al sou hy ander terminologie gebruik as dié wat in die Geloofsbelydenis gebruik word, kan nieteenstaande beskou word as in ooreenstemming met ons. Ons is in die eerste plek begaan oor die saak (van die geloof) en die waarheid, en nie oor woorde nie. Ons gee dus aan elkeen die vryheid om die terminologie te gebruik wat die beste geskik is om in sy kerk te gebruik, en ons behou die reg om in vryheid onsself te verdedig teen ’n verdraaiing van die ware betekenis van hierdie Belydenis. Ons het van hierdie terminologie in die teenswoordige tyd gebruik gemaak, om daardeur ons geloofsoortuigings oor te dra.

Hieruit word dit duidelik dat gepoog is om die Lutherse en Switserse groepe met mekaar te versoen deur verskille as ’n saak van terminologie en woorde te teken. Aanvanklik het Luther die Eerste Switserse Geloofsbelydenis met groot entoesiasme aanvaar. In 1544 het Luther – tot ontsteltenis van Melanchthon – in sy uiteensetting van die sakramente ’n skerp aanval geloods teen die Geloofsbelydenis. Ten spyte van die Lutherse invloed in die Eerste Switserse Geloofsbelydenis, het dit misluk as poging om die Switserse en Lutherse groepe te verenig. Dit het egter daarin geslaag om die Duitssprekende Hervormde kerke in Switserland te verenig.

Inhoudelik is die artikels van die Eerste Switserse Geloofsbelydenis breedvoeriger uitgewerk as enige van die vorige geloofsbelydenisse wat in Duitssprekende Switserland ontstaan het. Die Geloofsbelydenis bestaan uit 27 artikels. Die eerste vyf artikels handel oor die Heilige Skrif, en die genoegsaamheid en volkomenheid van die Skrif word uiteengesit. Interessant genoeg word hier ook die beginsel geformuleer dat die Skrif in terme van die Skrif self uitgelê moet word. Artikels 7 tot 11 fokus op die mens en sy erfsonde. Opvallend genoeg erken artikel 9 die mens sy vryheid van keuse, of anders, die vrye wil. Tog word gesê dat die mens nie die goeie kan doen sonder die verligting van die Heilige Gees nie.

Artikels 11 tot 13 handel oor die verlossingswerk van Jesus Christus, 14 tot 19 handel oor die kerk, 20 tot 22 handel oor die sakramente, en die laaste vyf artikels oor verskillende sake soos die huwelik, owerheid en so meer.

Dit is duidelik uit die formulering van die verskillende artikels dat daar na twee kante gekyk is: Aan die een kant is teenoor die Rooms-Katolieke leer geformuleer, en aan die ander kant is so geformuleer dat dit aanvaarbaar sou wees vir die Lutherane.

(Dr Wim Dreyer is ’n dosent aan UP se Fakulteit Teologie)