Die Hervormer

Die Sinode van Dordrecht van 1618-1619 (Deel 7)

In hierdie aflewering word die Dordtse Leerreëls Hoofstuk 5: Die volharding van die heiliges (artikels 1-15) bespreek.

Die hoogtepunt van die Leerreëls word waarskynlik in die slothoofstuk gevind, omdat die krag van die geloof wat deur die Sinode bely is, blyk in die leer van die volharding van die gelowiges, as keersy van die bewarende trou van God. Die leemte in die Remonstrante se siening blyk ook hierin wanneer genade nie meer ten volle en ongekwalifiseerd genade is nie omdat die mens uit eie vermoë tot ’n bepaalde perfeksionisme kan kom. Geloofsekerheid hang onteenseglik saam met geloof as oortuiging dat God in Jesus Christus álles skenk. Ter aanvang word beklemtoon dat die wedergebore mens wel uit die slawerny van die sonde verlos word, maar nie van die mag van die sonde nie (artikel 1).

Derhalwe vorder niemand deur onthouding en bekering tot ’n bepaalde mate van sondeloosheid soos sommige Remonstrante nagehou het nie. Sonde wat nog die lewe van gelowiges ontsier, is nie net as gevolg van ongeloof of onverskilligheid nie, maar ook as gevolg van die sonde van swakheid. Daarom moet gelowiges hulle voortdurend voor God verootmoedig en stryd voer teen die sonde terwyl vurig na die volmaaktheid verlang word, om uiteindelik saam met die Lam van God in die hemel te regeer. Die Leerreëls volg hierin die argument soos vervat in die Heidelbergse Kategismus, vraag en antwoord 115 (artikel 2).

Soos ook in die HK Sondag 52, word hier gestel dat niemand wat op eie krag steun teen die duiwel staande kan bly nie. Indien dit moontlik is om op eie krag te steun, sou dit in elke geval beteken dat God se besluit in sy verkiesing veranderlik is. Maar God bewaar gelowiges tot die einde toe (artikel 3).

Gelowiges kan nie uit die genade uitval nie, maar kan wel in die sonde val. Daarom moet hulle voortdurend bid om nie in versoeking gelei te word nie. Daar bly steeds ruimte vir eie verantwoordelikheid en die moontlikheid dat God selfs sondes toelaat, soos onder andere uit die lewens van Dawid en Petrus blyk. Die enigste weerstand teen die sonde en verval is om te waak en ernstig te bid om van verval bewaar te word (artikel 4).

Die gevolge van die sonde plaas die verhouding met God onder druk, bedroef die Heilige Gees en verwond die eie gewete. Tog laat God sy vaderlike aangesig skyn oor sondaars wat tot inkeer kom na opregte berou, omdat God nie met mense ophou nie en hulle nie aan die verderf oorlaat nie (artikel 5). 

Die Heilige Gees onttrek nie vanweë die uitverkiesing nie, ondanks die jammerlike sondeval waarin gelowiges beland. Sonde deurkruis nie die raad van God nie. God neem nie die Heilige Gees heeltemal van sy eiendom weg nie, selfs nie in die diepste sonde verval nie. God het die laaste woord oor die wel en wee van gelowiges, en op geen manier voer die sonde die botoon nie. Die Remonstrante was van oortuiging dat gelowiges (uitverkorenes) inderdaad deur eie skuld die genade van God kan ontbeer (artikel 6).

Behoud hang nie saam met innerlike menslike vermoë nie, maar God behou die saad van die wedergeboorte. Met saad van die wedergeboorte word waarskynlik die Woord van God bedoel, aangesien onmiddellik daarop volg dat sondaars deur sy Woord en Gees tot bekering vernuwe word. Klem word gelê op die sonde waaroor berou moet volg, en vergifnis wat deur die geloof in die bloed van die Middelaar begeer en verkry moet word. Kennis van die sonde, verlossing en dankbaarheid herinner aan die bekende drieslag van die HK (artikel 7). 

Die Remonstrantse dwaling dat wanneer gelowiges bereid is om weerstand teen die sonde te bied en God se hulp begeer, Jesus Christus hulle dán deur sy Gees in alle versoekinge sal bystaan, word weerlê. Dan sal die bewaring van gelowiges voorwaardelik word omdat God se ingrypende optrede effektief word nadat daarom gevra is. God weerhou gelowiges vanweë sy genadige barmhartigheid daarvan om nie uit die geloof of genade uit te val nie. God se raad verander nie, sy beloftes word nie verbreek nie, sy roeping word nie herroep nie, sy bewaring in Christus kan nie kragteloos gemaak word nie, en die verseëling in die Heilige Gees word nie vernietig nie (artikel 8).

Artikel 9 is ’n toonbeeld van geloofsekerheid wat nie subjektief in gelowiges setel nie, maar objektief in God gevind word na die maat van die geloof (vgl HK vraag 54). Aangesien God gelowiges bewaar, kan hulle ook volhard in die geloof, dikwels teen alle ervaring in (Luther). Dit is juis geloof wat volhardend bly bestaan ten spyte van die realiteite wat gelowiges dikwels omring en geloof aanvegbaar laat lyk.

Artikel 10 dui aan dat geloofsekerheid nie buite die Woord om geskied op grond van die een of ander besondere openbaring nie. Geloofsekerheid is deur die geloof aan die beloftes van God wat in sy Woord geopenbaar is, uit die Heilige Gees wat getuig dat ons kinders en erfgename van God is (Rom 8: 16, 17), en uit ’n ernstige strewe na ’n goeie gewete en goeie werke. Goeie werke kan alleen as vrug van die geloof, as vertroue op God se beloftes, gesonde sekerheid bied (vgl HK vraag 86). As gelowiges nie oor die troos en versekering beskik nie, is hulle die ellendigste mense van alle tye. Dit is die hartslag van die evangelie, alles is uit God, soli Deo gloria

Alhoewel gelowiges nie altyd geloofsekerheid ervaar nie, laat God nie toe dat gelowiges bo hul vermoë versoek word nie. Hy gee saam met versoeking uitkoms en maak die sekerheid van geloof deur volharding moontlik deur die Gees, dikwels ten spyte van innerlike gevoel. Hoe raar dit mag klink, behoort onsekerheid nie tot die normale werklikheid van geloof nie, want geloof dui op sekerheid ongeag, as ’n geloof in die lewende God. Dat gelowiges seker is en volhardend daaraan vashou, kom nie voort uit die self nie, maar omdat God dit bly skenk (artikel 11). 

Geloofsekerheid maak gelowiges nie argeloos of sorgeloos nie, maar spoor hulle juis aan tot standvastigheid in die belydenis van die waarheid, waaruit ’n blywende vreugde in God spruit. Inteendeel: Die versekering dat alles deur God moontlik is, lei tot volharding wat gestalte vind in dankbaarheid en goeie werke (artikel 12).

Sekerheid kan beoefen word en neem toe, nie as kwaliteit van ’n gelowige nie, maar as gawe van God. Sekerheid neem toe mits die bereidwilligheid en voorneme bestaan om die weg wat die Woord aandui, te beproef (artikel 13).

Die genadewerk van God word aan die verkondiging van die evangelie gebind en ook deur die gebruik van die sakramente bevestig. Daardeur word voorkom dat sommige bokant die ander verhewe voel, onder die indruk dat hulle dit self tot hier gebring het. Dit gaan oor genade en genade alleen (artikel 14).

Volharding en sekerheid van geloof vorm die murg van God se genade. Dit is waarskynlik die rede waarom dit bestry word, aangesien genade aan die mens as gelowige eintlik vreemd is. As ’n belewenis van die verhouding tussen die Bruidegom en die bruid, kan daaroor nie uitgepraat raak nie. Die Leerreëls eindig (artikel 15) met ’n Trinitariese doksologie (lofrede): Vader, Seun en Heilige Gees, eer en heerlikheid tot in ewigheid, Amen!

(Dr Barry van Wyk is emerituspredikant

en leraar in Waterberg en Zoutpansberg)