Die Hervormer

Ons belydenisskrifte – drie van baie

Die Hervormde Kerk onderskryf drie belydenisskrifte: die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls. Die belydenisskrifte staan bekend as die drie formuliere van eenheid.

Min mense is egter bewus daarvan dat ons belydenisskrifte drie van baie is. In die tyd van die Kerkhervorming het daar elke paar jaar ’n nuwe belydenisskrif die lig gesien. Dit is gewoonlik in verskillende dorpe of streke opgestel.

Ons belydenisskrifte het nie in isolasie ontstaan nie. Die belydenisskrifte is ook nie net deur noukeurige eksegese van die Bybel bepaal nie, maar reflekteer ook iets van hul historiese, sosiopolitieke en kerklike konteks. Die verskillende belydenisskrifte is ook oor en weer gebruik en het mekaar wedersyds beïnvloed.

Verskeie van hierdie belydenisskrifte is in die loop van die 16de eeu saam gepubliseer – nie noodwendig as teenoorstaande belydenisskrifte nie, maar aanvullend tot mekaar. Daaruit blyk die interafhanklikheid en onderlinge invloed wat die belydenisskrifte op mekaar gehad het. Die verskillende belydenisskrifte kan beskou word as skakels in ’n ketting – elkeen het selfstandig ontstaan maar het tog, veral inhoudelik, mekaar beïnvloed. Verskeie pogings is al aangewend om die belangrikste belydenisskrifte uit die tyd van die Kerkhervorming in een bundel te versamel, maar geen van hierdie versamelings is volledig nie. Kerklike tradisie en teologiese voorkeure bepaal gewoonlik watter belydenisskrifte belangrik is en in ’n bundel opgeneem moet word.

Een van die eerste belydenisskrifte wat tydens die Kerkhervorming ontstaan het, is die 67 Stellings van Zürich wat in 1523 opgestel is. In Zürich het daar tussen predikante, kerkleiers en owerhede ’n dispuut ontwikkel oor die prediking van die evangelie. Die gevolg was dat Huldreich Zwingli Sewe-en-sestig Stellings vir bespreking voorberei het, met die oog op ’n dispuut (disputatio) van kerkleiers. Op 29 Januarie 1523 het die eerste dispuut plaasgevind.

600 priesters, predikante, verteenwoordigers van die biskoppe, burgers en owerheidspersone het in die groot raadsaal in Zürich bymekaar gekom. Die 67 Stellings is bespreek, en aangesien die Rooms-Katolieke afvaardiging nie uit die Bybel kon aantoon dat enige van Zwingli se stellings foutief is nie, is dit as norm vir die prediking in die kanton van Zürich aanvaar. Zwingli het na die eerste dispuut die stellings verder verfyn, en die 67 Stellings is in Julie 1523 afgehandel en gepubliseer. Daarna het ’n tweede en derde dispuut gevolg, waarvan die resultaat was dat die Kerkhervorming in Zürich verder deurgevoer en deeglik gevestig is.

Wat die inhoud betref, was die 67 Stellings aan die een kant gerig op die uiteensetting van die verlossing in en deur Jesus Christus, en aan die ander kant gemik teen die wanpraktyke in die Rooms-Katolieke Kerk. Baie aandag word aan die misstande in die Rooms-Katolieke Kerk gegee, veral ten opsigte van die optrede van priesters – iets wat vanselfsprekend was omdat die stryd teen die Rooms-Katolieke wanpraktyke in daardie stadium fel was en in die voorgrond gestaan het. Later is daar meer en meer op die uiteensetting van die ware geloof gekonsentreer.

Vyf jaar na Zürich het die stadsvaders van Bern toestemming verleen dat ’n belydenisskrif gepubliseer word. Die Kerkhervorming in Bern het begin toe Berthold Haller in 1520 daarheen beroep is. Hy het teologie aan die Universiteit van Keulen studeer, was bevriend met Melanchthon en het in Bern teologie doseer van 1513 tot 1518. Rondom Haller het ’n evangeliese groep gevorm wat later groot steun van die owerheid geniet het. In 1523 het die Groot Raad van Bern die eerste Predigtmandat aanvaar waarin predikers toegelaat word om te preek oor tekste uit die Bybel. In 1527 het Haller tien stellings geformuleer vir ’n dispuut met verteenwoordigers van die Rooms-Katolieke Kerk. Uitnodigings is aan al die Rooms-Katolieke universiteite en bisdomme gerig om verteenwoordigers na die dispuut te stuur.

Verskeie het die uitnodiging aanvaar, en op 6 Januarie 1528 het die dispuut plaasgevind. Die dispuut het 20 dae geduur, gekenmerk deur intense debat tussen die Rooms-Katolieke en Reformatoriese teoloë. Daar is noukeurig notule gehou van die verrigtinge, en dit is aan die owerheid oorhandig. Die owerheid van Bern het op 7 Februarie 1528 ’n edik uitgevaardig en dit verpligtend vir alle predikante gemaak om die Tien Stellings te onderteken. Die edik het ook die Rooms-Katolieke mis sowel as die magte van die biskoppe afgeskaf.

In die Tien Stellings word dit duidelik gestel dat die Woord die enigste bron en norm van die ware geloof is; dat Jesus se offer aan die kruis die enigste voorwaarde vir verlossing is; dat Jesus Christus die enigste Middelaar tussen God en mens is; laastens is die Roomse opvattings oor die vagevuur, beeldeverering en selibaat as onbybels afgemaak. Die Tien Stellings het die hart van die Rooms-Katolieke teologie aangeval deur Christus in die sentrum te plaas, in plek van die Kerk en die pous.

In ’n volgende aflewering vertel ons van nog ander belydenisskrifte wat in die 16de eeu ontstaan het.

(Dr Wim Dreyer is ’n dosent aan

UP se Fakulteit Teologie)