Die Hervormer

Die Sinode van Dordrecht van 1618-1619 (Deel 6)

In hierdie aflewering word die Dordtse Leerreëls Hoofstukke 3 en 4: Die verdorwenheid van die mens, sy bekering tot God en die wyse waarop dit plaasvind (artikels 1-17) bespreek.

Die rede waarom hierdie twee hoofstukke saam behandel word, is in reaksie op die Remonstrante wat in hul artikel 3 gestel het dat geloof ’n gawe van God is, maar daarna in artikel 4 tog beweer dat die mens genade kan teenstaan, waardeur die menslike komponent ’n veel groter aksent ontvang het.

Die Leerreëls beklemtoon die historiese werklikheid van die sondeval wat nie aan die mens opgelê is nie, maar wat vanweë die duiwel en uit eie vrye wil gebeur het (artikel 1). Die leer oor die erfsonde word hier ter sprake gebring en kom daarop neer dat mense nie sondig is vanweë navolging nie (Pelagius), maar dat hulle erflik belas is.

Pelagius was ’n Britse monnik wat in die vyfde eeu na Rome gekom het en ’n streng asketiese lewe gely het. Erfsonde bestaan vir hom nie (vgl Rom 5: 12) omdat die mens geskape word soos heel aan die begin, voor die sondeval en dus sonder sonde. Die mens het derhalwe die vermoë om óf die sonde óf die goeie te kies – ’n vrye wil dus. Genade help die mens om sy bestemming te bereik, maar dit is nie absoluut noodsaaklik nie, want daar kán sondelose mense wees. Die genade van God is vir alle mense, maar ’n lewenswandel waar gestreef word na die goeie, maak mense waardig om genade te ontvang. Daarvoor het Christus mens geword om deur sy leer en voorbeeld mense aan te moedig op die weg van deugsaamheid. Pelagius word uiteindelik tydens die ekumeniese sinode van Efese (431) veroordeel. Tog bly die Pelagianisme hardnekkig voortleef, waarskynlik omdat dit aansluit by die begeertes van die natuurlike mens. 

Mense is sondig tensy hulle weergebore word deur die genade wat deur die Heilige Gees geskenk word (artikels 2 en 3). Kinders word in sonde ontvang en gebore, dit is die erfsonde. Mense is nie sondaars omdat hulle ander navolg soos Pelagius beweer nie, maar omdat hulle in sonde ontvang en gebore is.

Ten spyte van die sondeval het daar tog ’n bietjie van die lig oorgebly, soos dit ook deur Calvyn en in die Nederlandse Geloofsbelydenis (artikel 14) gestel word, waarmee die mens tog ’n besef van die onderskeid tussen goed en kwaad behou het. Dit beteken nie dat die mens oor ’n aangebore aanknopingspunt tot geestelike herstel beskik nie. Desondanks kan hy hom nie verontskuldig nie (artikel 4).

Die wet van God ontbloot die mens se sondige dade, maar genees hom nie, aangesien die mens nie in staat is om uit eie vermoë die saligmakende genade te verkry nie. Die wet van God maak die waarheid van God in die openbaring bekend, waardeur die sonde blootgelê en die skuld van die mens voor God duidelik word (artikel 5).

Dit waartoe die mens nie in staat is nie, word deur God bewerk deur sy Gees en Woord, die bediening van die versoening. Die bediening van die versoening vind gestalte in die evangelie van Jesus Christus die Here, sodoende vind die bediening van die versoening plaas (artikel 6).

God het die grense tussen Israel en die volkere deurbreek met die koms van Christus. Dit is nie moontlik om God se dade wat in sy vrye welbehae en onverdiende liefde geskied, volkome te begryp nie, behalwe om sy dade met nederige en dankbare harte te erken (artikel 7).

In artikel 8 reageer die Leerreëls krities teen die Remonstrante se mening dat die verkondiging van die evangelie geen nut het vir diegene wat dan tog verwerp is nie, want die heil is tog nie vir hulle bestem nie. Daarteenoor word beklemtoon dat die evangelie almal roep, daarom word die evangelie aan almal verkondig. Die Leerreëls maak geen onderskeid tussen inwendige en uitwendige roeping soos dit later in die Gereformeerde Protestantisme bekend geraak het nie.

In artikel 9 word met verwysing na die gelykenis van die saaier (Matt 13) beklemtoon dat diegene wat klaarblyklik nie geroepe voel nie, die skuld nie op God kan plaas nie, want die probleem setel nie in die saaier of die saad nie, maar in die akker. Wanneer mense nie tot God kom en nie tot bekering kom nie, is dit nie aan God of Christus of aan die evangelie te wyte nie.

Daarenteen kan niemand wat deur die evangelie geroep en bekeer is, onder die indruk verkeer dat dit in eie krag plaasgevind het nie; dit moet aan God toegeskryf word. Mense het sedert die sondeval nie meer ’n vrye wil (Pelagius) nie, daarom geskied dit omdat God dit wil. Want Hy het hulle van ewigheid af in Christus uitverkies (artikel 10).

God se handewerk aan die mens is omvattend en skenk aan die mens die wedergeboorte, en dring sodoende deur tot die binneste dele van die mens (by wyse van spreke). Wedergeboorte is ’n nuutskepping, soos opwekking uit die dood en ’n lewendmaking waarvan die Skrif getuig. Die mens se wil is gebonde aan die kwaad, maar word nou omskep tot die goeie in die mens wat passief is omdat God dit bewerk in die mens maar sonder die mens. Eers daarna kom die vernuwende werk van God in die mens ter sprake wanneer die mens tot bekering kom en die evangelie glo. Die Nederlandse Geloofsbelydenis en die Heidelbergse Kategismus leer dat die mens deur geloof wedergebore word, terwyl die Leerreëls stel dat die mens deur die wedergeboorte tot geloof gebring word. In die Leerreëls word die Christologie wat nou verbonde is aan die uitverkiesing, ook bepaal deur die pneumatologie (artikels 11 en 12). Eenvoudig gestel, kom dit daarop neer dat die uitverkiesing nie sonder Christus gesien kan word nie (vgl Ef 1: 4), maar ook nie sonder die Heilige Gees as die waarborg van ons erfdeel nie (vgl Ef 1: 14).

Artikel 13 is ’n tipiese handreiking om moedig te bly en te aanvaar dat die onbegryplike tog ’n realiteit is, en om dit van harte te glo. Wedergeboorte hoef nie met logiese argumente bewys of ekstatiese belewenisse ervaar of afgewag te word nie. Dit is genoeg om van harte te glo en liefde vir die Saligmaker te beleef. Geloof is ’n gawe van God wat nie net die moontlikheid nie, maar ook die geloof self effektief maak. Die wil om te glo én die geloof self word in die mens tot stand gebring. God skep nie net die moontlikheid om te glo nie, maar die werklike belewenis van geloof tot geloof (vgl Rom 1: 17) (artikel 14).

Iemand het die genade tot wedergeboorte ontvang, of nie. Weer eens moet die belewenis daarvan nie lei tot meerderwaardigheid nie, net so min as wat ander wat dit klaarblyklik nie beleef nie, minderwaardig behandel moet word. Belydenis van geloof en ’n regskape lewe van die naaste moet met dankbaarheid bejeën word (artikel 15).

Wedergeboorte geskied nie onder dwang nie, maar wek die vrywilligheid om die Here te dien. Daar is nie ’n diskontinuïteit tussen die voor- en na-wedergebore mens nie, daarom is wedergeboorte nie ’n menslike kwaliteit nie, maar die werk van die Heilige Gees (artikel 16).

Wedergeboorte bestaan in die midde van die gemeente, en die heil moet nie van die heilsmiddele soos die bediening van die Woord, die amp en tug losgemaak word nie. Wat God saamgevoeg het, kan geen mens skei nie. Wedergeboorte bestaan in die gewone lewe van die gemeente (artikel 17).

(Dr Barry van Wyk is emerituspredikant

en leraar in Waterberg en Zoutpansberg)