Die Hervormer

Wat glo ons? (Waarom het ons belydenisskrifte?)

Op 31 Oktober 1517 het Martin Luther sy 95 stellings teen die kerkdeur in Wittenberg vasgespyker. Dit word algemeen aanvaar dat die optrede van Luther die begin van die Kerkhervorming verteenwoordig, alhoewel daar reeds voor Luther bepaalde kragte in die Europese samelewing aan die werk was wat die Kerkhervorming moontlik gemaak het.

Tydens die Nasionale Sinode van die Nederlandse Hervormde Kerk te Dordrecht (1618/1619) is die Dordtse Leerreëls geformuleer, en dit kan as die afsluiting van die Kerkhervorming beskou word.

Die Kerkhervorming beslaan ’n tydperk van ongeveer 100 jaar (1517-1619). Dit was ’n tyd van radikale en ingrypende verandering op kerklike, sosiopolitieke en ekonomiese gebied. Dit was ook ’n tyd van worsteling om tot ’n regte verstaan van die evangelie van Jesus Christus te kom. Hierdie worsteling om die Skrif en evangelie reg te verstaan, het daartoe aanleiding gegee dat die Reformatoriese kerke in Duitsland, Switserland, Frankryk, Hongarye, Engeland en Nederland talle belydenisskrifte geformuleer en gepubliseer het.

Daar was verskeie redes waarom daar soveel belydenisskrifte ontstaan het:

  • Die verskillende Reformatoriese kerke het selfstandig van mekaar gefunksioneer. Dit beteken dat kerke in verskillende gebiede en lande belydenisskrifte opgestel het wat vir daardie gebied of land gegeld het. Ten spyte van die verskeidenheid, was die Hervormers baie ernstig oor kerklike eenheid. Die belydenisskrifte is gebruik om uitdrukking te gee aan die eenheid in geloof wat tussen die verskillende Reformatoriese kerke en stede bestaan het.
  • Die belydenisskrifte is ook gebore uit die nood van die prediking. Predikante in dieselfde gebied was dalk almal Reformatories gesind, maar het nie op ’n eenvormige wyse die evangelie verkondig nie. Die predikante wou duidelikheid hê oor wat hulle moes preek, en daarom was die belydenisskrifte pogings om die suiwere en ware leer, gegrond op die Bybel, ten dienste van die prediking te formuleer.
  • Daar was behoefte aan geskrifte wat vir kategetiese onderrig gebruik kon word.
  • Die belydenisskrifte was polemies gerig teen die wanpraktyke en dwaalleer van die Rooms-Katolieke Kerk.
  • Die belydenisskrifte was apologetiese dokumente, gerig aan die owerhede, waarin die leer van die Reformatoriese kerke verdedig is. Dit was van eksistensiële belang vir hierdie kerke, omdat hulle op grond van die cuius regio eius religio beginsel deur die owerhede vervolg is. Die Roomse owerhede het in hierdie tydperk duisende Hervormers vervolg en om die lewe gebring.

Dit is opvallend dat die Lutherse kerke daarin geslaag het om die belydenisskrifte wat onder invloed van Luther ontstaan het, in 1580 te verenig in die Formula Concordiae. Die Calvinistiese kerke het nooit een belydenisskrif gehad nie, hoewel die verskillende nasionale kerke die belydenisskrifte wat hulle opgestel het, ook aan ander Calvinistiese kerke gestuur het vir kennisname en kommentaar. Francesco Salluardo het sy Harmonia in 1581 in Genève uitgegee, waarin die meeste van die Calvinistiese belydenisskrifte verwerk is – maar omdat dit die werk van een persoon was, is dit nooit as amptelike belydenisskrif aanvaar nie. Die gevolg was dat daar in verskillende gebiede verskillende belydenisskrifte gegeld het. Die belydenisskrif wat deur die meeste Calvinistiese kerke onderskryf is, is die Tweede Switserse Geloofsbelydenis van 1566.

Die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika aanvaar drie van die belydenisskrifte uit die Kerkhervorming as die kerklike belydenis, te wete die Nederlandse Geloofsbelydenis (1561), die Heidelbergse Kategismus (1563) en die Dordtse Leerreëls (1619). Dit staan ook bekend as die Drie Formuliere van Eenheid. Daarom is die Nederduitsch Hervormde Kerk nie net histories nie, maar ook wat sy leer en belydenis betref, aan die Kerkhervorming verbind.

(Dr Wim Dreyer is ’n dosent

aan UP se Fakulteit Teologie)