Die Hervormer

Die Sinode van Dordrecht van 1618-1619 (Deel 5)

In hierdie aflewering word die Dordtse Leerreëls Hoofstuk 2: Die dood van Christus en die verlossing van die mense deur sy dood (artikels 1-9) bespreek.

Hiermee volg die tweede hoofstuk as reaksie van die Sinode teen die dwalinge van die Contra-Remonstrante. God is nie alleen barmhartig nie, maar ook regverdig. Die sonde eis dat die sondaar nie alleen aan tydelike strawwe onderworpe is nie, maar ook aan ewige strawwe na liggaam en siel. Alleen as daar aan die geregtigheid van God voldoen is op juridiese gronde, kan aan die straf ontkom word. Die hoofstuk begin met ’n uiteensetting van die geregtigheid van God.Dit is ook soos gevind word in die Heidelbergse Kategismus (Sondae 4 en 5) waarin die verlossing van die mens begrond word op die geregtigheid van God (artikel 1).

God se barmhartigheid het sy regsgeldigheid in God se geregtigheid. Die enigste manier is deur Christus wat aan die geregtigheid van God voldoen het, aangesien ’n mens nie daaraan kan voldoen nie, want die geregtigheid eis dat daar vir die sonde betaal moet word. Christus het plaasvervangend vir die sonde betaal, en op grond daarvan kan God barmhartigheid aan sondaars betoon. Hier klink die evangelie van die plaasvervanging soos dit geformuleer is in die Nederlandse Geloofsbelydenis (artikels 20 en 21). 

Artikel 3 beskryf die dood van die Seun van God as die enigste en volmaakte offer, voldoende vir die sondes, in staat om die hele wêreld te versoen. Die versoening is in Christus seker, want Hy was volledig mens om die straf te dra en is volledig God om die straf weg te dra. ’n Vaster fondament vir die heil bestaan nie (artikel 4). Die versoening lê vas in Jesus Christus. Hy is nie alleen mens nie maar ook God. Hiermee stem die Leerreëls saam met die klassieke leer van die twee nature van Christus, soos verwoord word in Nicea, Athanasius, die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB) en die Heidelbergse Kategismus (HK). Daarby kan nog gevoeg word dat Jesus Christus as die Seun van God die toorn van God oor die sonde gedra het as ’n ergernis wat eintlik vir die rekening van elke sondaar bedoel was.

Artikel 5 beklemtoon dat uitverkiesing en evangelie nie met mekaar op gespanne voet verkeer nie. Verkondiging van die evangelie gaan aan predestinasie vooraf. Verkondiging moet gestalte in geloof vind. Dit is insiggewend dat die belofte sonder die skadu van verwerping hier gestel word, wat ’n aanduiding is van die feit dat uitverkiesing in die Leerreëls swaarder weeg as verwerping. God stuur die evangelie sonder voorbehoud met die eis tot bekering en geloof. Hier kom die kosbare reformatoriese erfgoed ter sprake. Die verkondiging van die evangelie gaan gepaard met die oproep tot geloof en bekering en gaan predestinasie vooraf, eers kom die evangelie ter sprake en daarna die verkiesing.

   

Artikel 6 stel die feit dat baie wat deur die evangelie geroep is, hulle nie bekeer of in Christus glo nie. Die Sinode bevestig dat dit nie aan God te wyte is dat diegene nie uitverkies is nie. As mense verlore gaan, is dit hul eie skuld. Skuld lê by die mens self en by hom alleen, en niemand kan God verwyt nie. Wanneer iemand verlore gaan, is dit sy eie skuld. Geloof is ’n weldaad wat spruit uit die genade van God wat van ewigheid in Christus gegee is. Geloof of ongeloof berus nie uitsluitlik by die mens nie, want geloof is ’n genadegeskenk. Verkiesing en om aan Christus te behoort, word hier nou betrek sonder om dit in mekaar te laat opgaan (artikel 7).

Artikel 8 volg as verklaring van artikel 7 waarin gestel word dat die regverdigende geloof tog maar beperk is tot die uitverkorenes. Die verskil tussen die twee strydende partye kan soos volg opgesom word: Die Remonstrante leer dat Christus vir almal gesterf het, maar slegs die gelowiges deel in die vrug daarvan. Die Contra-Remonstrante leer dat Christus se offer vir die hele wêreld voldoende is, maar slegs die uitverkorenes deel daarin. Albei partye soek ’n verbinding tussen die universele en die partikuliere gegewens oor die heil in die Skrif. Die Remonstrante vra hoe dit moontlik is dat Christus sy lewe vir elkeen gee, terwyl nie almal die vrug daarvan ontvang nie, terwyl die Contra-Remonstrante vra hoe dit moontlik is dat elkeen die aanbod van genade ontvang, terwyl tog net die uitverkorenes die inhoud daarvan ontvang. Daar is waarskynlik nie ’n afdoende bewys hiervoor nie en dit is teenproduktief om daarvoor ’n logiese, Skriftuurlike antwoord te wil vind.

In artikel 9 word opnuut verwys na God se liefde vir die uitverkorenes in die beeld van die bruid en die Bruidegom. Dit is van betekenis dat gestel word dat die uitvoering van die raadsbesluit van God van die begin van die wêreld tót vandag gebeur, sodat die uitverkorenes op die regte tyd in een liggaam vergader sal word. Die HK dink vanuit die kerk na die uitverkiesing, terwyl die Leerreëls van die uitverkiesing na die kerk redeneer. Die HK meen dat verbondenheid aan die kerk dui op uitverkiesing, terwyl die Leerreëls stel dat uitverkiesing deelname aan die kerk veronderstel. Die HK vertrek van geloof na uitverkiesing, terwyl die Leerreëls vanuit die uitverkiesing tot geloof kom.

In die reaksie van die Sinode word bepaalde dwalinge van die Remonstrante afgewys, soos die siening oor die genadeverbond wat sterk neig na ’n menslike komponent wat iets verdienstelik inhou. Hierteenoor stel die Leerreëls dat Christus met sy dood en bloedstorting die nuwe en ewige Testament, die verbond van genade en versoening, bekragtig het (Nagmaalformulier). Die siening word ook afgewys dat Christus slegs die heil as moontlikheid daargestel het, en dat die heil as werklikheid eers effektief word wanneer die mens kies om in Christus te glo. Die Remonstrante was verder van mening dat dit tot die weldade van die verbond behoort dat die geloof van mense wat in sigself onvolkome en gebrekkig is, deur God as volmaak gereken word, waarop die saligheid volg. Geloof is nie ’n menslike verdienste nie, maar die manier waarop die verdienste van Christus aangeneem word. Die Remonstrante maak onderskeid tussen die heil as geskenk van God en die toeëiening daarvan. Al is die heil vir alle mense, word dit eers effektief vir diegene wat die heil deur eie wilsbesluit aanvaar. Die kritiek van die Leerreëls is eintlik gemik teen die siening van die Remonstrante dat die dood van Christus eintlik nie nodig is nie aangesien die keuse tot uitverkiesing geneem is en diegene salig word ongeag wat daarna gebeur (supralapsaries).

Dit is tog handig om kennis te neem van twee belangrike uitgangspunte wat bepalend was vir die denke van verskillende woordvoerders wat uiteindelik op die Leerreëls uitgeloop het. Die een standpunt staan bekend as Infralapsarisme en beteken dat uitverkiesing ná die sondeval plaasgevind het. Die volgorde is dus skepping, sondeval en die verkiesing in Christus. Die mening is dat dit die standpunt was wat inherent is aan die Leerreëls wat reeds in die voorafgaande pamflette in aanloop tot die Sinode ter sprake gekom het, soos verwoord in die mening van Donteclock onder andere. Daarnaas die standpunt van die Supralapsarisme, wat beteken dat die besluit tot verkiesing geneem is vóór die sondeval, gegrond in die soewereiniteit van God.

(Dr Barry van Wyk is emerituspredikant en leraar in Waterberg en Zoutpansberg)