Die Hervormer

Wat glo ons? (Ek glo ’n heilige, algemene kerk)

Soos in ’n vorige aflewering aangetoon, het dit in die tweede helfte van die vierde eeu na Christus algemene praktyk geword om ’n geloofsartikel oor die kerk by die kerklike belydenisse in te sluit. Die Belydenis van Nicea en die Apostoliese Geloofsbelydenis het albei aan die einde van die vierde eeu ’n artikel oor “die kerk” bygekry. Waarom sou dit so wees?

Eerstens het dit te doen gehad met die vinnige geografiese en numeriese uitbreiding van die kerk na die Edik van Milaan (313 nC) en die beskerming wat die Romeinse keiser die kerk gebied het. Daar was Christelike gemeentes van Indië in die ooste tot Brittanje in die weste, van Ethiopië in die suide tot Germanië in die noorde. Die handhawing van kerklike eenheid in leer en lewe, asook die verband tussen die algemene en plaaslike kerke, het toenemend problematies geword.

Die tweede belangrike rede vind ons in Augustinus se De fide et symbolo (393 nC). In hoofstuk 10 skryf Augustinus dat dwaalleraars en skeurmakers hulself ook “kerk” noem en in kerke organiseer volgens die gebruike van die kerk. Daarmee gee hulle voor dat hulle die ware kerk is, wat hulle nie is nie, omdat hulle die suiwer leer vervals. Dit is duidelik dat die bedreiging van buite in die vorm van sektariese groepering dit onvermydelik gemaak het dat die kerk rekenskap moes gee van wie en wat die kerk van Christus is.

Derdens het die kanon reeds sy finale vorm teen 350 nC begin aanneem, hoewel dit nog nie formeel vasgestel is nie. In die Nuwe Testament neem die kerk ’n besonder belangrike plek in. Die Nuwe Testament bevat meer as 80 metafore en beelde wat na die kerk verwys. Die omvattende wyse waarop die kerk in die Nuwe Testament aan die orde kom, het daartoe gelei dat sommige van die vroeë kerklike skrywers meer sistematies aan die kerk aandag gegee het. Dit word byvoorbeeld duidelik in die groei en ontwikkeling van Augustinus se ekklesiologie (leer oor die kerk), veral in die wyse waarop hy toenemend van Bybelse metafore gebruik gemaak het.

Vierdens: Aan die begin van die Christelike era was die kerk nie ’n teoretiese aangeleentheid of objek van teologiese besinning nie. Die kerk was ’n eksistensiële ruimte waar Christene met mekaar hul geloof in Jesus Christus gedeel het. Met die eeue wat verloop het sedert Christus se koms, die ontwikkeling van kerklike strukture (ampte en vergaderings van die ampte), verskille oor leer, die ontstaan van sektes, asook die institusionalisering van die kerk in verhouding met die keiser en owerhede, het teologiese nadenke oor “die kerk” en die opname daarvan in die belydenis noodsaaklik geword.

Aan die einde van die vierde eeu was dit belangrik om die historiese verband met Christus, die apostels en die eerste gemeentes aan te toon en die eenheid en katolisiteit van die kerk te bely.

Tydens die Kerkhervorming van die 16de eeu is opnuut oor die kerk nagedink. Dit is vanselfsprekend, gesien die stryd tussen die Hervormde en Roomse Kerk. Dit het juis oor “kerkhervorming” gegaan, wat die regte verstaan van die kerk aktueel gemaak het. Die Hervormers het konsekwent die Belydenis van Nicea en die Apostoliese Geloofsbelydenis as vertrekpunt geneem.

In Luther se Klein Kategismus (1529) gebruik hy die Apostolicum as basis vir sy uiteensetting van leer. Hy vertaal die sanctam Ecclesiam catholicam met Ich glaube die heilige christliche Kirche. Sy keuse om catholicam met christliche te vertaal, was daarop gemik om verwarring met die Rooms-Katolieke Kerk te voorkom. Die gebruik is in die Lutherse kerk voortgesit, nie net in die Klein Kategismus nie, maar ook in die vertaling van die Apostolicum self.

Calvyn, in sy Geneefse Kategismus en Geloofsbelydenis (1537), gebruik die Apostolicum as basis vir sy uiteensetting van die leer oor die kerk. Calvyn bly baie getrou aan die teks en formulering van die Apostolicum, ook wat die artikel oor die kerk betref. Nadat hy die Apostolicum woordeliks aangehaal het (croie la saincte Eglise universelle), kwalifiseer hy die universele kerk met die woorde: Ek glo ’n heilige, algemene kerk … Hierdie gemeenskap is katoliek, dit beteken algemeen; want daar is nie twee of drie nie, maar dit is almal wat deur God uitverkies is. Calvyn gebruik dus die woorde “katoliek” en “algemeen” afwisselend, maar nie “Christelik” soos Luther nie.

Hoe belangrik die leer oor die kerk vir die Calvinistiese kerke was, blyk duidelik uit die feit dat die Nederlandse Geloofsbelydenis (1561) die kerk in nege van die 39 artikels behandel. Die NGB (artikel 28) huiwer ook nie om daarop te wys dat niemand hom- of haarself van die gemeente mag afsny nie. Inteendeel – omdat ons in Christus ingelyf is, is ons saam met al die gelowiges deel van die liggaam van Christus en van die een, heilige en algemene kerk, waarvan Christus die enigste Hoof en Heer is. 

(Dr Wim Dreyer is ’n dosent aan UP se Fakulteit Teologie)