Die Hervormer

Die Sinode van Dordrecht van 1618-1619 (Deel 4)

Daar word nou daartoe oorgegaan om die verskillende dele van die Leerreëls afsonderlik te behandel. In hierdie aflewering word die Dordtse Leerreëls Hoofstuk 1: Goddelike verkiesing en verwerping (artikels 1-18) bespreek.

Reg aan die begin van die Leerreëls (artikel 1) word die sondeval van die mens wat in Adam plaasgevind het (Rom 3: 19, 23; 6: 23), gestel teenoor die liefde van God wat in Christus tot uiting kom as ’n liefde, nie net vir die uitverkorenes nie, maar vir die hele wêreld (Joh 3: 16; 1 Joh 4: 9) (artikel 2). Artikels 1 en 2 is met ’n “maar” verbind, wat beteken dat die tweede voorrang geniet. Dit is opvallend dat die sola fide ook beklemtoon word, en dit beteken dat gelowiges in Christus behou word en nie verlore gaan nie.

Artikel 3 beklemtoon dat geloof ’n geskenk van God is wat Hy uit louter goedheid skenk aan wie en wanneer Hy wil. Daarmee saam word ook sy vryheid beklemtoon om verkondigers te stuur aan wie en wanneer Hy wil. Opnuut word die twee werklikhede wat in artikel 4 genoem word, verbind met ’n “maar”. Die toorn van God is op hulle wat die evangelie nie glo nie, maar hulle wat Jesus Christus as Verlosser aanneem, ontvang die ewige lewe.

Artikel 5 stel dat die oorsaak of skuld van sommige se ongeloof nie by God te vind is nie, maar by die mens self. Hiermee word die verwyt van die Remonstrante dat God die outeur van die sonde is afgewys, want God is die outeur van die geloof deur Jesus Christus (Ef 2: 8; Fil 1: 29).

Miskien dra artikel 6 daartoe by dat die Leerreëls deur sommige krities bejeën word as ’n dubbele predestinasie, dus: sommige is uitverkies en ander nie. Verkiesing geskied egter nie op grond van ’n bepaalde menslike eienskap nie, maar volg op God se raadsbesluit. God maak ’n keuse uit mense wat almal ewe verlore is en buig die verharde harte om tot geloof volgens sy regverdige oordeel. Die bedoeling is dus dat verlore mense glo en die redding ontvang. Dit word nooit verdienste nie, net so min as wat ongeloof as onreg van God gesien moet word. Menslike logika moet nie te tuis raak in die gesprek oor die groot dade van God nie, want die vraag is of die Bybel regtig só reglynig handel oor uitverkiesing en verwerping, al dan nie. Die verwerping wat in die sogenaamde dubbele predestinasie ter sprake gebring word, moet met besondere Bybelse uitsprake in hermeneutiese konteks beskou word (Ef 1: 11; vgl Joh 3: 16).

Artikel 7 dui op God se keuse vir mense wat in sonde geval het waardeur die Remonstrante se siening dat Christus die fondament van die verkiesing is, gekorrigeer word, in die sin dat Christus die Middelaar en Hoof en derhalwe die fondament van die saligheid is. God het mense in Christus nog voor die skepping uitverkies (Ef 1: 4-6), as ’n uitverkiesing in Christus wat nie buite Christus om neerkom op ’n onchristelike verkiesing of verwerping nie. Die ietwat eksklusivistiese formulering aan die begin dat God ’n sekere aantal mense uitverkies het, moet verstaan en geïnterpreteer word uit die res van die formulering as ’n uitverkiesing in Christus.

Artikel 8 grens af teen die Remonstrante se siening dat die verkiesing veelvoudig is en neerkom op ’n algemene verkiesing wat voorlopig is en ’n besondere verkiesing wat realiseer in ’n volhardende geloof. Iets skemer deur van die Remonstrante se siening dat volhardende geloof die goddelike keuse effektief maak (Ef 2: 10).

In artikel 9 word opnuut standpunt ingeneem teen die Remonstrante se siening dat God besluit het om die mens salig te verklaar op grond van die mens se geloof. Die mens beskik nie oor enige kwaliteit wat kan bydra tot God se soewereine genade nie. Die mens word nie as gevolg van sy geloof uitverkies nie, maar uitverkies tot geloof en gehoorsaamheid. Geloof volg op uitverkiesing en nie andersom nie. Artikel 10 sluit daarby aan met die beklemtoning dat die uitverkiesing niks anders is nie as die welbehae van God. Mense word verkies omdat God wil en nie omdat hulle aan bepaalde voorwaardes voldoen nie (Hand 13: 48).

Die leer van die uitverkiesing staan sentraal (artikel 11) en is onveranderlik. God se verkiesing word nie in balans gebring met verwerping nie, maar is die gevolg wanneer gepoog word om God se dade logies te beredeneer.

Artikel 12 reageer teen die Remonstrante se mening dat die uitverkiesing volgens die Contra-Remonstrante mense onseker maak, aangesien sekerheid slegs moontlik is wanneer gelowiges ’n bydrae daartoe lewer. Sekerheid is egter nie die gevolg van ’n deurgronding van die verborgenhede van die Skrif nie, maar ’n belewenis van die onfeilbare vrugte van die uitverkiesing soos ’n ware geloof, kinderlike vrees vir God en dies meer (2 Kor 13: 5). Die formulering herinner aan die Heidelbergse Kategismus (HK), vraag en antwoord 86, waar geloofsekerheid volg uit die vrugte van die geloof en die naaste selfs deur ’n Godvresende lewe vir Christus gewen kan word.

Artikel 13 grens af teen die Remonstrante se siening dat die uitverkiesing aanleiding kan gee tot ’n goddelose en sorgelose lewe, waarskynlik omdat verkiesing volledig uit genade gebeur sonder ’n menslike byverdienste. Dit is onmoontlik om in die geloof te leef sonder enige vrugte wat daarby pas (vgl HK 64). Ware geloof en alles wat daarmee saamhang, deurkruis alle menslike eiegeregtigheid. Geloof is nie toneelspel nie. 

Artikel 14 sien uitverkiesing as ’n deel van die kerklike leer waaroor nie geswyg kan word nie, maar waaroor genuanseerd, oordeelkundig, met gelowige eerbied en heilige ontsag nagedink moet word, sonder om God onder die maatstaf te plaas van menslike kennis en logika (Hand 20: 27; Rom 12: 3, 33, 34; Heb 6: 17; Ef 1: 4, 18). Dit val op dat niks van verwerping gemeld word nie.

Die moontlikheid van verwerping word vermeld (artikel 15). Dit staan nie parallel aan verkiesing nie, maar volg nadat daar oor uitverkiesing gehandel is. Verwerping kom daarop neer dat God sommige verbygaan, waarvoor daar geen verklaring is nie; dit is sy wil. Verwerping is nie doel in sigself nie maar staan in diens van die verkiesing. Indien iemand verlore gaan, is dit sy eie toedoen en nie op grond van ’n vooruitgesiene ongeloof nie. Verwerping is nie van ewigheid af nie, maar uiteindelik, dit wil sê, na menslike verharding.

In artikel 16 klink die pastorale toonaard van die Sinode wat vertroostend wil wees en almal wil huisves, al word die heilsmiddele gebruik sonder enige onmiddellike gevolge. Dit is nog meer vertroostend en pastoraal wanneer in artikel 17 na die genadeverbond verwys word (Gen 17: 7; Hand 2: 39; 1 Kor 7: 14). Dit kan as leemte gesien word dat die Leerreëls nie meer na die genadeverbond verwys nie, om sodoende uitverkiesing en verbond in ewewig te plaas.

Die eerste hoofstuk word afgesluit met die verwerping van alle weerstand teen die leer van die uitverkiesing, en met ’n beroep op Romeine 11: 33-36 wat vermaan dat nie gepoog moet word om op die regterstoel van God te wil sit nie (Rom 9: 20) (artikel 18). 

(Dr Barry van Wyk is emerituspredikant en leraar in Waterberg en Zoutpansberg)