Die Hervormer

Wat glo ons volgens die Apostoliese Geloofsbelydenis?

Die ontstaan van die Apostoliese Geloofsbelydenis (ook genoem die Apostolicum of die Twaalf Artikels) is meer kompleks as die ontstaan van die Belydenis van Nicea waarby ons in ’n vorige aflewering stilgestaan het. Die Twaalf Artikels is seker die bekendste belydenis in die Hervormde Kerk, en word die meeste in die erediens gebruik. In hierdie bydrae sal ek daarna verwys as die Apostolicum.

Die Apostolicum se herkoms is moeiliker om vas te stel omdat dit nooit formeel deur een van die ekumeniese konsilies as belydenis goedgekeur is nie en dus ’n meer “informele” groeiproses deurgegaan het. Dit was vir baie eeue die algemene opvatting dat die belydenis uit die tyd van die apostels dateer of dat die apostels dit self opgestel het. Deesdae is historici eenstemmig daaroor dat die Apostolicum nie deur die twaalf apostels op skrif gestel is nie.

Die leer van die kerk het deur bepaalde ontwikkelingsfases gegaan. Spesifieke leerstellings het in sekere tye ontwikkel en meer prominensie geniet, hoofsaaklik in reaksie op veranderde omstandighede of bepaalde dwaalleer wat na vore gekom het. Die opkoms van verskeie sektariese groepe (byvoorbeeld onder leiding van Arius, Marcion, Pelagius en Donatus) het dit noodsaaklik gemaak dat die “suiwer leer” of die “regula fidei” vasgestel word. Die vasstelling van die regula fidei was ’n lang en moeisame proses.

Pelikan is van mening dat die teks van die Apostolicum eers aan die einde van die vierde eeu sy meer bekende vorm begin aanneem het en dat die artikel oor die neerdaal na die hel die laaste is wat daarin opgeneem is. Indien dit die geval is, moes die artikels oor die kerk voor die einde van die vierde eeu bygekom het, wat ooreenstem met die tyd toe die Konsilie van Konstantinopel die Belydenis van Nicea afgerond het en die artikels oor die kerk bygevoeg het.

In dieselfde tyd het Augustinus ’n uiteensetting van die Apostolicum opgestel. Sy De fide et symbolo (393 nC) is ’n lesing wat hy voor al die biskoppe van die kerk in Noord-Afrika in Hippo-Regius gelewer het. Sy behandeling van die verskillende artikels van die Apostolicum stem grootliks ooreen met die teks van die Apostolicum soos ons dit ken.

In ’n geskrif van Tyrannius Rufinus (345-410 nC), ’n monnik wat in verskillende kloosters geleef en gewerk het, vind ons ook ’n uiteensetting van die Apostolicum. In sy Espositio Symboli Apostolici (404 nC) gee hy ’n uiteensetting van die Christelike geloof wat soortgelyk is aan die Apostolicum wat vandag bekend is. Naas die uiteensetting van die Apostolicum, bevat Rufinus se geskrif ook die legende dat die apostels na die uitstorting van die Heilige Gees op een plek bymekaar gekom het om die inhoud van wat hulle sou verkondig, te formuleer. Volgens dié legende het elke apostel een van die twaalf artikels geformuleer en moet die ontstaan van die Apostolicum na die eerste “teologiese konferensie” ná Pinkster teruggevoer word. Soos reeds aangetoon, word hierdie verhaal nie meer as histories korrek beskou nie. Uit bogenoemde gegewens blyk dit dat die term Apostolicum reeds teen die einde van die vierde eeu na Christus wyd bekend was.

Die feit dat die Apostolicum die Christelike geloof kort en eenvoudig formuleer, het te doen met die feit dat dit in die gemeente in Rome ontstaan het. Dit was deel van die gemeente se kategetiese onderrig, liturgie en doophandeling. Dit is ook baie persoonlik, soos blyk uit die eerste woorde: Ek glo.

Ratzinger verbind die Apostolicum aan Matteus 28: 19, waar die opdrag gegee word dat die dissipels die mense in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees moet doop. Hierdie Trinitariese doopformule en die praktyk om bekeerlinge uit die heidendom te katkiseer en dan te doop, het gelei tot die onwikkeling van die Apostolicum as kategismus vir dié wat begerig was om gedoop te word. Tydens die doopgeleentheid is aan die dopeling die vrae gevra: Glo jy aan God die Vader, die Heerser oor alles? Glo jy aan Jesus Christus, die Seun van God? Glo jy aan die Heilige Gees? Die dopeling moes op elke vraag antwoord: Credo… Ek glo. Die saak is meer kompleks as ’n reglynige verbintenis tussen Matteus 28 en die Apostolicum, maar Matteus 28 weerspieël tog iets van die vroeë Christelike dooppraktyke en die bestaan van ’n Trinitariese doopformule.

Cullman bespreek verskillende redes vir die ontstaan van die Apostolicum, waarvan die eerste die belangrikste is: Die kategese en doophandeling; liturgie en prediking; apologie in tye van vervolging; en polemiek teen dwaalleer.

In sowel die Rooms-Katolieke as Protestantse tradisies geniet die Apostolicum groot aansien, al is dit tegnies nie ’n “ekumeniese” belydenis soos die Belydenis van Nicea nie. Dit is en bly merkwaardig dat die Christelike geloof in enkele sinne saamgevat kan word. Die woorde van Luther is bekend: Ek dank God dat selfs ’n klein kindjie die evangelie kan verstaan. Ook ons moet daarteen waak om die evangelie en Christelike geloof so moeilik te maak dat niemand meer daarin vreugde kan vind nie.

(Dr Wim Dreyer is ’n dosent aan UP se Fakulteit Teologie)