Die Hervormer

Die Sinode van Dordrecht van 1618-1619 (Deel 3)

Die Sinode van Dordrecht het op 13 November 1618 in Dordrecht byeengekom en oorgeloop in die volgende jaar tot 29 Mei 1619. Die Sinode is saamgestel uit 37 predikante en 19 ouderlinge, asook 25 buitelandse afgevaardigdes uit Engeland, die Palts, Hessen, Genève, Switzerland, Bremen, Emden, Wetteravië en Nasau.

Verder was daar, heel merkwaardig maar tiperend van die verhouding tussen kerk en staat, ook 18 verteenwoordigers  van die Staten Generaal teenwoordig wat moes toesien dat die orde gehandhaaf en slegs kerklike sake behandel sou word. As kerklike hoogleraars was ook Johannes Polyander, Simon Episcopius (deel van die Remonstrantse afvaardiging), Sibrandus Lubbertus, Antonius Thysius en Franciskus Gomarus teenwoordig. Uit die geledere van die Remonstrante verskyn ook 15 predikante wat eers met die 22ste sitting op 6 Desember 1618 ter vergadering kom.

Die gedeelte van die Sinode totdat die Remonstrante ter vergadering gekom het, staan bekend as die Pre-acta waartydens aangeleenthede soos Bybelvertaling, onderwys en die kategismus, doop van kinders wat van buite die kerk binnegekom het, voorbereiding van teologiese kandidate en die druk en verspreiding van boeke behandel is. Daarmee saam was die gedeelte van die Sinode nadat die buitelandse afgevaardigdes op 9 Mei 1619 na die 154ste sitting vertrek en die Sinode met die 155ste sitting op 13 Mei 1619 voortgegaan het met die hersiening van die belydenisskrifte, asook bepaalde gravamina wat ter tafel gekom het, bekend as die Post-acta. Die Sinode verloop in  geheel oor 180 sittings. 

Prof Simon Episcopius (1583-1643), een van die opvolgers van Arminius en Gomarus in Leiden, was die belangrikste woordvoerder van die Remonstrante en het in sy rede gepoog om die aanwesiges te oortuig dat die sinode in die vorm van ’n konferensie moes verloop, eerder as ’n sinode wat bevoeg was om bindende besluite op grond van die Skrif en belydenisskrifte te neem. In dié verband het die politieke afgevaardigdes ’n handige bydrae gelewer deur in te gryp en in weerwil van die Remonstrante se vertragingstaktiek te bepaal dat die vergadering tóg sou verloop op die basis van ’n sinodale vergadering wat bevoeg was om die voorlegging van die Remonstrante te beoordeel en tot ’n finale en bindende, kerklike besluit te kom.

Die spanning tussen kerk en staat en die gevolge daarvan is hedendaags in ’n normale samelewing ondenkbaar. In dié sin is die verloop van die Sinode in ’n mate ontsier deur die spanning tussen prins Maurits en Johan van Oldenbarnevelt, die raadspensionaris of landsadvokaat van die Staten, as wesenlik ’n spanning tussen die Contra-Remonstrante en Remonstrante. Dit word op die spits gedryf met Oldenbarnevelt se verhoor en skuldigbevinding, asook teregstelling in Den Haag op 13 Mei 1619 terwyl die Sinode in sitting was, waarna reeds in die vorige aflewering verwys is. In die gedrukte vonnis deur 24 regters word die begrip landverraad nie gebruik nie, maar wel bedoel. Offisieel word hy tereggestel vanweë ondermyning van godsdiens en politiek, asook versteuring van die openbare rus. Wtenbogaert vlug na Antwerpen, en Hugo de Groot is gevonnis tot lewenslange gevangenskap in die staatsgevangenis van Loevenstein.

As voorsitter van die Sinode is Johannes Bogerman (1576-1637), predikant te Leeuwarden, gekies, en as assessore Jacobus Rolandus van Amsterdam en Herman Faukelius van Middelburg. Die eerste sekretaris was Sebastian Damman van Zutfen, en saam met hom Festus Hommius van Leiden.

Bogerman roep die Remonstrante op om met die vergadering in gesprek te tree oor hul voorgelegde artikels, asook die belydenis en die kategismus. Die  Remonstrante bied egter weerstand daarteen. Hulle beskou die Sinode nie as ’n vergadering wat bevoeg was om bindende besluite te neem nie. Daar moes vry gedebatteer word terwyl almal onderling as lede van die vergadering en van die kerk aanvaar word. Alle vonnisse moes herroep word. Daarbenewens moes die belydenisskrifte ter syde gestel word en slegs die Woord as norm dien. Allerlei ander besware is ook genoem, soos dat hulle belaster is, dat nie saam met hulle Nagmaal gevier of saam met hulle gebid is nie. Daarbenewens voel die Remonstrante dat hulle van kansels geweer is en dat die Sinode volgens hulle tot ’n groot mate uit skeurmakers bestaan het.

Die Sinode het skerp hierop reageer met die verweer dat diegene wat opgeroep is om te verskyn, nie die reëls kon bepaal nie. Dit is as ’n aanval op die gesag van die owerheid en die kerk beskou, waarop ook die afgevaardigdes van die owerheid skerp reageer het. Die Remonstrante het volhard met die siening dat die Sinode geen bindende besluite kon neem nie en eerder as ’n konferensie beskou moes word. Die Sinode en die afgevaardigdes word as skeurmakers beskou en as teenparty van die Remonstrante uitgemaak. Die buitelanders het ook die Remonstrante se sienings eenparig veroordeel. 

Uit die handelinge van die Sinode kan afgelei word dat die vergadering redelik gespanne verloop het, soos blyk uit die manier hoe Bogerman die Remonstrante die deur gewys het. Op 14 Januarie kom die einde nadat die Remonstrante herhaaldelik geweier het om die Sinode te gehoorsaam, en die voorsitter die Remonstrante woedend die deur wys met: “Gij wordt heengezonden, gaat, gij zijt met leugens begonnen, gij zijt met leugens geëindigd.” “Dimittimini, ite, gaat heen!”

Hierna het die Sinode daartoe oorgegaan om die inhoud van die Remonstrante se voorlegging te beoordeel. Nadat die Sinode in afdelings verdeel het, kom hulle van 7 tot 21 Maart byeen om hul menings uit te spreek. Daarna het ’n kommissie van 25 Maart tot 16 April die Leerreëls opgestel, wat na bespreking op 23 April aanvaar is. Op 6 Mei is die Leerreëls formeel voorgelees in die Groote Kerk in Dordrecht, waarna die buitelanders na ’n afskeidsmaaltyd en ’n slotsitting saam met die buitelanders op 9 Mei, vertrek het. Hoewel die buitelanders op laasgenoemde datum vertrek het, eindig die Sinode eers op 29 Mei 1619 nadat die na-handelinge of Post-acta afgehandel was.

Dit is belangrik om ter aanvang daarop te let dat die Sinode van Dordt in die Leerreëls nie ’n volledige uiteensetting van die uitverkiesing gee nie, asook nie ’n uitvoerige regverdigingsleer nie, omdat wesenlik reageer word op die inhoud van die Remonstrante se voorlegging aan die Sinode. Vanuit ’n teologies bepaalde vertrekpunt word begin waar die Heidelbergse Kategismus ook begin, naamlik by die sonde van die mens. Die mens is sondig en self verantwoordelik vir die sondeval wat na die skepping plaasgevind het, waardeur aangedui word dat God nie die outeur van die sonde is nie. Hermeneuties, dit wil sê, vir die verstaan van die inhoud van die Leerreëls, is dit belangrik om dit in gedagte te hou, sodat die wesenlike ter sprake kom. Dat die uitverkiesing ’n uitverkiesing in Jesus Christus is, word beklemtoon.

In die volgende aflewerings gaan daartoe oorgegaan word om die verskillende dele van die Leerreëls afsonderlik te bespreek. Dit is waarskynlik so, ten minste in die eie Kerk, dat die Leerreëls wesenlik om verskillende redes vreemd gebly het. Die belangrikste rede is waarskynlik te wyte aan die feit dat die Heidelbergse Kategismus meer bekend is en meer gebruik is in die kerklike verlede aangesien die Kategismus die basiese uitgangspunt gevorm het vir kerklike onderrig, van waaruit die Kort Begrip ontstaan het, asook die Geloofsleer daarna.

(Dr Barry van Wyk is emerituspredikant en leraar in Waterberg en Zoutpansberg)