Die Hervormer

Wat glo ons volgens die Belydenis van Nicea?

As ’n mens die ontwikkeling van die vroeë Christelike belydenisse nagaan, is dit opvallend dat verskillende belydenisse deur uiteenlopende prosesse tot stand gekom het.

Die vroegste fragmente wat dui op belydenisvorming vind ons reeds in die Nuwe Testament. Dit dui daarop dat die proses van belydenisvorming reeds baie vroeg in die Christelike gemeentes begin het. Die teoloog GE Lessing (1729-1781) was van mening dat dele van die kerklike belydenis al voor die Nuwe-Testamentiese boeke bestaan het.

Belydenisvorming in sy mees primitiewe vorm kon nie berus op Skriftuurlike eksegese nie, aangesien die teks nog in wording was en die kanon nog nie vasgestel was nie. Manuskripte was ook skaars en baie gemeentes het nie toegang daartoe gehad nie. Belydenisvorming het in geloofsgemeenskappe plaasgevind en die belydenis wat ontvang is, is noukeurig van geslag tot geslag oorgelewer. Dit is die gedagte wat ons in 1 Korintiërs 15: 3-4 vind wanneer Paulus oor die nagmaal skryf: Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte.

Die vroeë teoloë se funksie was nie om met nuwe en kreatiewe idees vorendag te kom of as eksegete van kanonieke boeke op te tree nie. Hul funksie was om die Christelike geloof en belydenis, soos dit van Christus en die apostels gekom het, te verkondig, te verdedig en aan ’n volgende geslag leerlinge oor te dra. Teen dié agtergrond moet ’n mens ook die Belydenis van Nicea verstaan waar dit stel dat die belydenis gegrond is op die leer van die apostels.

Die eerste ekumeniese konsilie is deur keiser Konstantyn in 325 nC in die stad Nicea byeengeroep. Hy het sowat 1 800 biskoppe uitgenooi, maar waarskynlik het tussen 250 en 300 dit bygewoon. Die doel van die konsilie was om die leer oor Jesus Christus en die verhouding tussen die Vader en die Seun te formuleer, in die lig van die konflik wat gedreig het om die kerk in Aleksandrië te skeur.

Die eerste deel van die Belydenis van Nicea (soos ons dit vandag ken) is tydens die Konsilie van Nicea opgestel. Omdat die konsilie op die Persoon van Christus en die leer oor die Drie-eenheid gefokus het, bevat die teks nie die bekende belydenis oor die een, heilige, algemene kerk nie. Ook die Expositio Fidei van Athanasius wat hy ná die Konsilie van Nicea tydens sy bevestiging as biskop uitgespreek het, bevat geen verwysing na die kerk nie. In sy uiteensetting van die Niceense belydenis fokus Athanasius op die verhouding tussen die Vader, Seun en Heilige Gees, en die Persoon en werk van Jesus Christus.

Verskillende variante van die Niceense belydenis het na die Konsilie van Nicea in omloop gekom. Een van die bekendstes is afkomstig van Cyrillus, biskop van Jerusalem († 386 nC) wat ’n uitgebreide vorm van die belydenis in sy kategese behandel het. In sy Jerusalem-variant is daar wel ’n artikel wat oor die kerk handel. 

Na afloop van die Konsilie van Nicea het die stryd teen dwaalleer voortgeduur. In 381 nC het die tweede ekumeniese konsilie in Konstantinopel onder beskerming van keiser Theodosius vergader. By die konsilie was 150 biskoppe teenwoordig in ’n poging om die dwaalleer van Arius finaal uit te roei en die regte leer vas te stel. Biskop Cyrillus van Jerusalem was ook daar teenwoordig, en die konsilie het waarskynlik die Jerusalem-variant van die Niceense belydenis as basisdokument gebruik. Ten opsigte van die kerk is die belydenis oor die kerk (ek glo een, heilige, algemene en apostoliese kerk) by die teks van die Niceense Belydenis bygevoeg. Dit is daarna by die Konsilie van Chalcedon (451 nC) bevestig en het deur die geskiedenis die kern gevorm van teologiese nadenke oor die kerk.

Wanneer ons die geskiedenis van ons kerklike belydenis nagaan en besef dat dit met groot sorgvuldigheid saamgestel is op grond van die leer van die apostels, kan ons dit nie ligtelik verander nie. Wanneer die gemeente Sondag in die erediens met instemming en gelowig die belydenis aanhoor, word die eenheid van die kerk van Christus sigbaar en hoorbaar. Ons bely soos en saam met die kerk van al die eeue dat ons glo in Jesus Christus en God Drie-enig. Daarom kan ons beswaarlik enige ander (self-opgestelde?) belydenis in die erediens gebruik.

(Dr Wim Dreyer is ’n dosent aan UP se Fakulteit Teologie)